Swart wildbewaarder skop ietermago genadeloos vir foto

‘n Video van ‘n swart veldwagter se vreemde houding teenoor ‘n ietermago is op YouTube gelaai.

Die veldwagter het tydens ‘n nagrit by Punda Maria in die Kruger Nasionale Park uit sy voertuig gespring en die dier hardhandig begin skop sodat hy ‘n foto kon kry.

“Hy het later gesê hy wil teruggaan om die dier te vang, sodat hy die publiek geld kan vra om dit te sien,” het Jason Janse van Vuuren in beskrywing van die video wat hy opgelaai het, gesê.

Volgens Reynold Thakhuli, die waarnemende hoof van kommunikasie by Sanparke, is hulle bewus van die video en ondersoek tans die voorval.

Elke spesie van ietermago is tans bedreig, deels as gevolg van die vraag na ietermagovleis en -skubbe in Asië.

“In sommige kulture word geglo dat ietermagoë genesende kragte besit en om hierdie rede hulle word gereeld in tradisionele medisyne gebruik. Ietermagoë word ook beskou as ‘n lekkerny en is in groot aanvraag in lande soos China en Viëtnam. Dit is wat hulle die meeste verhandele dier in die wêreld maak, “volgens Sanparke.

Afrikaspesies word toenemend geteiken weens die skerp afname in die bevolkings van hul Asiatiese neefs.

Volgens bewaringsinstansies is vier ton Afrika-ietermagoskubbe deur die Hong Kong owerhede in beslag geneem in Junie.

Dit verteenwoordig ongeveer 1100 tot 6600 individuele diere.

Wildstroper kry 14 jaar vir twee swartrenosters

swartrenoster‘n Swart wildstroper wat in Januarie ‘n swartrenosterkoei en haar kalfie in die wildtuin doodgemaak en onthoring het, is Donderdag 14 jaar tronkstraf in die plaaslike streekhof opgelê.

Leonard Mhlongo (21) het die staat se werk aansienlik makliker gemaak deur op die aanklagte teen hom skuldig te pleit. Dit is hoekom die saak so vinnig afgehandel is.

Leonard en Kenneth Sibiya (28) is op 19 Januarie by Tshokwane in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) vasgetrek. Leonard het drie renosterhorings in sy besit gehad en die onthoringde karkasse van ‘n swartrenosterkoei en haar kalfie is kort hierna in die omgewing gekry. Die kalfie het net ‘n stompie gehad, maar is nie ontsien nie.

Leonard is nooit borg toegestaan nie omdat hy nie ‘n paspoort kon toon nie. Kenneth het wel borg gekry en het nooit teruggekeer vir sy verhoor nie. Daar is tans ‘n lasbrief uit vir sy arrestasie. Leonard het skuldig gepleit en gesê dat ‘n derde verdagte die vuurwapen waarmee die renosters geskiet is, by hom gehad het. Dié kon daarin slaag om die dag van hul arrestasie daarmee na Mosambiek te vlug.

Leonard is op twee klagtes van onwettige jag in die wildtuin asook die onwettige betreding daarvan, aangekla.

Die landdros, mnr. Eddie Hall, het sy skulderkenning bekragtig en hom gevolglik 10 jaar tronkstraf vir die onwettige jag van die koei, asook ‘n verdere agt jaar vir die kalfie opgelê. Hy het geëis dat dit samelopend uitgedien moet word. Leonard is ook ‘n verdere vier jaar vir die onwettige betreding van die wildtuin opgelê.

Maj. genl. Johan Jooste, wat aan die stuur staan van teenstropings-operasies in die wildtuin, het die senior-staatsadvokaat, me. Isabet Erwee, asook die polisie se ondersoekbeamptes, met dié goeie vonnis gelukgewens.

“Ek wil ook my eie span gelukwens met hul aandeel in die arrestasie. Ons gaan hierdie oorlog wen en verwelkom sulke verwikkelinge,” het hy gesê. Hy het ook samewerking deur Mosambiekse owerhede verwelkom. – looklocal.co.za