praag.co.za

Tag: N14

  • Diepsloot brand alweer, motoriste onder klippe gesteek

    Diepsloot brand alweer, motoriste onder klippe gesteek

    Die Johannesburgse Metropolisiepolisie het motoriste gewaarsku om die omgewing naby die Diepsloot-lokasie te vermy aangesien oproeriges vanoggend brande gestig, asook motoriste onder die klippe gesteek het. Verkeer op die N14-deurpad en die R511, asook Summitweg is daardeur ontwrig.

    ‘n Verklaring deur Wayne Minnaar, hoof van die Johannesburgse Verkeersafdeling, lui soos volg:

    “Die R511 tussen Sandton en Centurion word hierdeur geraak. Die pad moet geheel en al vermy word en die N14 van Krugersdorp af word ook geraak. Meer beamptes is na die toneel gestuur om verkeer te rig. Motoriste kan vanoggend van die N1 as ‘n alternatief gebruik maak.”

    Polisie het van traanrook gebruik gemaak om onlusmakers uiteen te dryf. ‘n Twitter-gebruiker, Rachel Mojapelo, het die volgende selfoonvideo aanlyn geplaas.

    Blykbaar wil inwoners van Diepsloot gratis water en elektrisiteit ontvang, en word die onluste dus deur die hoofstroommedia (HSM) as ‘n “diensleweringsbetoging” beskryf.

  • Skietgeveg op Krugersdorpsnelweg vanoggend

    Skietgeveg op Krugersdorpsnelweg vanoggend

    Drie vermeende motordiewe is verwond in ‘n skietgeveg vanoggend op die N14 tussen Krugersdorp en Pretoria, volgens ‘n polisiewoordvoerder.

    Volgens kaptein Kay Mkhubela het die polisie die diewe by die Total-petroport tussen Diepsloot en Lanseria op die N14 ingewag, nadat hulle inligting ontvang het dat ‘n gesteelde voertuig van die Oos-Transvaal na Pretoria onderweg was.

     

    Toe hulle die voertuig probeer voorkeer, het die drie mans probeer wegkom, waarna ‘n skietgeveg losgebars het.

    ‘n Woordvoerder van Emer-G-med, Max Cohen, sê dat een van die beweerde kapers ernstig beseer is toe hy in die bors geskiet is. Sy medepligtige is in die been gewond.

    Die derde verdagte het ‘n ligte vleiswond aan die been opgedoen en is nie hospitaal toe geneem nie. Die gesteelde bakkie is in die veld gevind.

    Volgens Makhubela het die polisie ‘n blou lig, asook twee ongelisensieerde wapens tesame met die gesteelde voertuig gevind. Al drie die boosdoeners is in hegtenis geneem. Die twee beseerdes bevind hulle onder polisiebewaking in die hospitaal.

    ‘n Saak van moord, die besit van ‘n gesteelde voertuig, asook ongelisensieerde wapens is aanhangig gemaak.

  • Polisie vat oproeriges in Potch, Ventersdorp vas

    Oproeriges wat Vrydag in Pothcefstroom se middedorp binnegevaar het, sal Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn. Nog arrestasies word binnekort verwag.

    Dit is volgens Provinsiale Polisiekommesaris Jacob Tsumane, en volg na honderde oproeriges die strate in gevaar het en eiendom beskadig het.

    Die polisie moes die plunderaars met rubberkoeëls verwilder.

    Hulle is glo gekant teen die voorgestelde samesmelting van die Tlokwe-en Ventersdorp Munisipaliteite. ‘n Memorandum van griewe is later aan die munisipaliteit oorhandig.

    In nog ‘n voorval is die ou Ventersdorp Stadsaal, wat tans die Verkeersdepartement huisves, Vrydagnag afgebrand.

    Oproeriges het ook motors met klippe op die N14-pad bestook. Volgens Tsumane moet daar nog arrestasies in dié verband gemaak word.

    Die situasie in Ventersdorp is na wat berig word vanoggend kalm, nadat nadat die klipgooiers motoriste op die N14 naby die Tshing-lokasie geteiken het.

    Intussen het Tsumane bevestig dat ondersoeke na die oorsaak van die brand in Ventersdorp nog nie afgehandel is nie.