Drie vermeende motordiewe is verwond in ‘n skietgeveg vanoggend op die N14 tussen Krugersdorp en Pretoria, volgens ‘n polisiewoordvoerder.
Volgens kaptein Kay Mkhubela het die polisie die diewe by die Total-petroport tussen Diepsloot en Lanseria op die N14 ingewag, nadat hulle inligting ontvang het dat ‘n gesteelde voertuig van die Oos-Transvaal na Pretoria onderweg was.
Toe hulle die voertuig probeer voorkeer, het die drie mans probeer wegkom, waarna ‘n skietgeveg losgebars het.
‘n Woordvoerder van Emer-G-med, Max Cohen, sê dat een van die beweerde kapers ernstig beseer is toe hy in die bors geskiet is. Sy medepligtige is in die been gewond.
Die derde verdagte het ‘n ligte vleiswond aan die been opgedoen en is nie hospitaal toe geneem nie. Die gesteelde bakkie is in die veld gevind.
Volgens Makhubela het die polisie ‘n blou lig, asook twee ongelisensieerde wapens tesame met die gesteelde voertuig gevind. Al drie die boosdoeners is in hegtenis geneem. Die twee beseerdes bevind hulle onder polisiebewaking in die hospitaal.
‘n Saak van moord, die besit van ‘n gesteelde voertuig, asook ongelisensieerde wapens is aanhangig gemaak.
