UWK in vlamme: Hoër onderwys gebuk onder skoonmakeropstand

Oproeriges het ‘n gebou op die kampus van die Universiteit van die Wes-Kaap in Bellville aan die brand gesteek.

Die oproer het Woensdagoggend begin toe eksamenlokale beset is, en teen Woensdagaand in skermutselinge met die polisie en veiligheidspersoneel op die kampus ontaard.

Dit is die grootste geweldpleging tot dusver in die kampus-onrus wat woed. Die Kaapstadse Brandweer-en Nooddienste is ontbied om verskeie brande te blus.

‘n Koswinkel is geplunder en die hoofkafeteria is in puin gelê in die geweld.

‘n Klavier, snoekertafels, beddens, matrasse, banke is uit koshuisgeboue gedra om brande op die kampus te stook.

Polisielede is met klippe, bakstene en bottels vanuit die koshuise bestook

Die polisie moes uiteindelik skokgranate afvuur om die plunderaars en brandstigters uiteen te jaag.

Die universiteit is genoodsaak om die eksamen tot die eerste Desember uit te stel.

Vyf studente van die UWK is intussen in hegtenis geneem, nadat hulle na bewering ‘n mediese ordonnans aangerand het.

Die man is ernstig beseer en moes na die hospitaal gehaas word nadat studente hom met ‘n brandblusser teen die kop geslaan het.

Die ordonnans is uitgeroep na ‘n koshuis op die Bellville-kampus toe ‘n brandalarm afgegaan het.

‘n Woordvoerder van UWK, Luthando Tyhalibongo sê die vyf was deel van ‘n groep van sowat 15 studente.

‘n Pomp­aksie-haelgeweer van ‘n veiligheidswag is ook deur ‘n groep oproeriges gebuit nadat ‘n groep op hom toegesak het. Twee wagte is vir beenbreuke behandel.

Oproeriges het oral ontwrigting op die kampus veroorsaak en skade aan eiendom aangerig.

Tyrone Pretorius, rektor van die UWK, het Woensdag gesê lede van die skoonmaakpersoneel het ook aan die betoging deelneem. “Dit maak die situasie ingewikkeld.”

Die woordvoerder van die universiteit het het bevestig dat die situasie Woensdag uiters gespanne was en verskeie geboue beskadig is.

Intussen het die visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat, Jonathan Jansen skoonmakers Woensdag belowe dat hulle lone verdubbel sal word.

Jansen het gesê die universiteit het ingestem om by te dra tot die lone van die skoonmakers. Die skoonmakers het hoër lone en ‘n einde van uitkontraktering geëis.

Dit is nie duidelik hoe die hoër lone van skoonmakers sal bydra tot “toegang”, “gelykheid” of “hoër gehalte onderrig” nie.

In nog voorvalle van geweld moes die polisie ook skokgranate teen stakende skoonmakers by die parlement afvuur wat verrigtinge by die parlementsgebou ontwrig het.

Die polisie het die hekke na die parlement gesluit en betogers van die trappe af verwyder.

Verskeie betogers is geboei en deur die polisie in vangwaens gelaai. Die stakers het vroeër komiteevergaderings ontwrig en parlementslede kon nie met hul werksaamhede voortgaan nie.

Die skoonmakers eis beter salarisse en pensioenvoordele.

Petrolbomaanval op Duitse sakeman in Kaapstad

‘n Duitse sakeman is aan die brand gesteek en erg beseer Dinsdagoggend in ‘n petrolbomaanval op sy motor in Kaapstad.

Die polisie het Wesleystraat in Tuine afgesper, terwyl paramedici hom op die toneel behandel het.

Polisiewoordvoerder konst Noloyiso Rwexana het gesê ‘n onbekende man is aan die brand gesteek omstreeks 08:00.

“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. Gevalle van poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging word ondersoek. Die verdagte is nog nie in hegtenis geneem nie.”

Omstanders het die man, wat vermoedelik in sy vyftigs is, uit die brandende voertuig getrek.

Paramedici het hom in ‘n kritieke toestand aangetref.

Die Duitse sakeman, wat in die stad woon, was in intense pyn. Hy was glo in ‘n argument met ‘n werker betrokke.

Minister belowe hulp aan veeboere

Die minister van landbou, Senzeni Zokwana, het verligting van R220 miljoen vir veeboere belowe.

Hy het in die Parlement aangekondig dat sy departement geld uit sy bestaande begroting gaan heraanwend vir veeboere wat gebuk gaan onder die ergste droogte in dekades.

Die geld is onmiddellik beskikbaar vir boere wat geen voer meer het vir hul vee nie.

Die portefeuljekomitee oor landbou en landelike ontwikkeling in KwaZulu-Natal het intussen onderneem om boere finansieel by te staan wat deur die droogte geraak word.

Die voorsitter van die komitee, Themba Mthembu sê die besluit is geneem tydens ‘n vergadering in Pietermaritzburg.

Hy sê die presiese bedrag wat beskikbaar gestel gaan word en hoeveel individuele boere gaan ontvang, sal afhang van die skade wat hulle gely het.

Mthembu sê boere kan hul plaaslike kantoor van landbou en landelike ontwikkeling vir meer inligting kontak.

OB se personeel sluk begroting in

Die Openbare Beskermer Thuli Madonsela moes ‘n hele paar van haar kantore sluit weens ernstige finansiële probleme.

Die eerste kantoor wat permanent sal sluit is die Siyabuswa-streekkantoor in Mpumalanga, en ander sal volg.

Madonsela het haarself ongewild gemaak deur president Jacob Zuma met allerlei grondwetlike verpligtinge te belas.

Die OB se woordvoerder, Oupa Segalwe, het bevestig dat kostes tans besnoei word.

Segalwe het gesê die ideaal is dat Madonsela ‘n satelliet-kantoor in elk van die munisipaliteite kry, waar sy tans tussen twee en drie kantore in elke provinsie aan die gang hou.

Twee jaar gelede het die OB mobiele uitreikprogramme op verafgeleë landelike gebiede gesluit as gevolg van ‘n gebrek aan fondse, nadat dit nie gelei het tot meer openbare klagtes aan die beskermer nie.

Segalwe gesê egter die kantoor het 276 vakante poste wat sy ondersoekende kapasiteit in die wiele ry.

Madonsela het R218 miljoen in die vorige finansiële jaar ontvang en dit is verhoog tot R246 miljoen vir hierdie finansiële jaar.

Segalwe het gesê dat luidens Madonsela se strategiese beplanning het sy ‘n bykomende R200-miljoen nodig om meer personeel aan te stel.

Grensbeheer teen onwettige sigarette oorweeg

Suid-Afrika verloor jaarliks meer as vier miljard rand aan belastinginkomste weens smokkelsigarette. Meer as 60 persent van die sigarette in die land word nie vir belastingdoeleindes verklaar nie.

Dit het aan die lig gekom tydens ‘n konferensie in Kaapstad, wat deur BAT geborg word. BAT poog om die onwettige handel in sigarette in Afrika te stuit.

Die adjunkminister van polisie, Maggie Sotyu wat die konferensie bygewoon het, sê verskerpte grensbeheer is een manier om die onwettige handel in sigarette hok te slaan.

Sotyu sê die departement van binnelandse sake gaan binne die volgende ses tot twaalf maande nuwe grensbeheermaatreëls implementeer wat sal bydra om die onwettige handel te stuit.

Die vermoede bestaan dat Zimbabwe dié smokkelhandel gebruik om sy ekonomie aan die gang te hou.

President Mugabe het openlik steun vir Savanna, sy sigaretvervaardiger uitgespreek en sy mededinger British American Tobacco (BAT) van spioenasie op Savanna en kaping van sy vragmotors beskuldig.

Houers vol sigarette wat gemaak kan word vir so min as R1,50 en is maklik om aan die plaaslike mark te versprei sonder om die R13 belasting per houer te betaal.

Gewilde handelsmerke van sigarette word in die kleinhandel teen R35 ‘n pakkie verkoop, terwyl onwettige sigarette tussen R4 en R12 ‘n pakkie kos.

Met marges wat neig na ‘n 1000%, is dié onwettige handel een van die grootste elemente in georganiseerde misdaad in Suid-Afrika.

Volgens navorsing deur BAT, is 9.5 miljard onwettige sigarette met ‘n straatwaarde van sowat R4 miljard plaaslik gerook verlede jaar.

Savanna het byna 10% van die mark ingepalm, volgens die instituut, met sowat 700 miljoen van sy onwettige sigarette.

Die uitvoerende hoof van die Tabak-instituut van Suidelike Afrika, Francois van der Merwe sê die onwettige handel in sigarette het verskeie negatiewe gevolge.

Hy sê dit het ‘n maatskaplike invloed omdat dit deur misdadigers bedryf word en nie deur die regering se gesondheidswetgewing gereguleer word nie.

Krygkor, lugmag verduidelik Zuma-straler

Die hoofbestuurder van Krygkor sê die gebruik van kommersiële vlugte dra risiko’s en die land se leiers moet beveilig word.

Krygkor en die lugmag het die media Dinsdagoggend toegespreek oor die beplande aankoop van ‘n nuwe straler vir president Jacob Zuma. Volgens berigte kan dit glo tot R4 miljard kos.

Krygkor se hoofbestuurder, Kevin Wakeford, sê egter dit is bloot ‘n aansoek en nog nie ‘n vaste besluit nie.

Die hoof van die Suid-Afrikaanse Lugmag, Fabian Msimang, sê oor die afgelope paar jaar het die beskikbaarheid van vliegtuie problematies geword.

Wakeford sê ‘n staatshoof kan nie op ‘n gewone vlug met sy personeel vergader of werk nie. Hy sê dit sal elke veiligheidsprotokol in die boek oortree.

Wakeford het ook na die jongste lugramp in Egipte verwys waar ‘n passasiersvlug met Russiese toeriste neergestort het.

Hy het gesê die bespiegelinge oor die uitgawe is voortydig omdat geen besluit nog geneem is nie.

Skoonmakers dreig om UV te ontwrig

‘n Klein groepie skoonmakers by die Universiteit van die Vrystaat en betogers het Dinsdagoggend betoog teen uitkontraktering by die instelling.

Hulle eis dat dit stopgesit word en dat hulle deur die UV aangestel word sodat hulle meer voordele kan geniet soos gratis onderrig vir gesinslede.

Die groep het omstreeks 10:00 bymekaargekom het om met die protesaksie te begin.

Hulle wou die administrasiegebou binnedring om werksaamhede te ontwrig en het rewolusionêre slagspreuke gedreunsing.

Die groep sê hulle sal die universiteit lamlê as daar nie aan hulle eise gehoor gegee word nie.

Jonathan Jansen, die rektor, het vroeër gewaarsku dat die oproer sal aanhou, ook aanstaande jaar.

Gautenger wat vir DynCorp werk was slagoffer

Van die veiligheidspersoneel wat Maandag doodgeskiet is in Jordanië, het vir DynCorp International gewerk. Die Amerikaanse belastingbetaler is sy grootste kliënt.

DynCorp, ‘n bekende militêre kontrakteur wat oral in die Midde Ooste werksaam is, verdien meer as 96% van hul jaarlikse inkomste van die Amerikaanse Federale Regering.

Die Suid-Afrikaanse departement van buitelandse sake het intussen bevestig dat die Suid-Afrikaner wat doodgeskiet is, ‘n 37-jarige man van Gauteng is.

Jordaniërs onthou 9 November as die herdenking van die bomaanvalle op drie hotelle in die hoofstad Amman in 2005, waarin 60 mense dood is en meer as 110 beseer.

Die aanvalle is deur al-Qaeda in Irak uitgevoer, in reaksie, het hulle gesê, op die teenwoordigheid van die Amerikaanse en Israeliese intelligensie-agente, en Westerse regerings.

Dit was die dodelikste terreuraanval in Jordanië se geskiedenis.

Die jongste aanval het by die Jordaniese Internasionale Polisie Opleidingsentrum (JIPTC) in Muwaqqar, oos van die hoofstad plaasgevind. Dit is in 2003 opgerig tydens die Amerikaanse inval in Irak.

Die militêre opleidingsfasiliteit word tans glo gebruik vir personeel wat in Sirië ontplooi word.

Nelson Kgwete, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse departement van buitelandse sake, het bevestig dat die man se naasbestaandes in kennis gestel is, maar wou nie die slagoffer se naam bekendmaak nie.

Die aanvaller, ‘n Jordaniese polisiekaptein, Anwar Abu Zeid, het op die groep losgebrand in die eetsaal van die kompleks terwyl hulle besig was om te eet. Grutonele het diegene wat eerste op die toneel was, begroet.

Kommer bestaan dat Jordanië se verhouding met die VSA die oorsaak van die aanval kan wees.

Terwyl die land vanjaar ‘n miljard dollar sal ontvang om as ‘n basis te dien vir spesiale operasies as ‘n belangrike strategiese bondgenoot van die VSA, is die gevoel onder die algemene publiek toenemend anti-Amerikaans en anti-Westers.

Ontleders is bekommerd dat ondersteuning vir ekstremistiese groepe groei. Aan die begin van die jaar was daar na beraming sowat 1200 Jordaniërs wat in Sirië vir ISIS geveg het.

Uganda begin voorberei vir 2016 se verkiesing

Uganda se presidentsveldtog het Maandag afgeskop met die oog op verkiesings­ wat in Februarie 2016 gehou word.

In die verkiesing kom die land se veteraanpresident teen ’n ou teenstander en afgedankte premier te staan.

Agt kandidate het hulle beskikbaar gestel vir die verkiesing wat op 18 Februarie 2016 gehou word. Die huidige president, Yoweri Museveni, is reeds 30 jaar lank aan bewind.

Museveni, wat in 1986 president geword het, se sterkste teenstand kom van Kizza Besigye van die Forum vir Demokratiese Verandering (FDC) wat reeds drie keer in die verlede die knie voor Museveni moes buig, en Amama Mbabazi, ’n voormalige eerste minister wat as onafhanklike kandidaat staan.

Die verkiesingskommissie in die land het kandidate aangemoedig om vreedsame veldtogte te voer en hulle by die landswette te hou, wat onder meer ’n skemeraandklokreël vir verkiesingsvergaderings asook ’n einde aan veldtogvoering twee dae voor die verkiesing insluit.

Ander kandidate is ’n universiteitsprofessor, Venansius Baryamureeba; Abed Bwanika wat beloof om homoseksuele mense te “rehabiliteer” as hy wen; ’n evangeliese pastoor, Joseph Mabirizi; ’n afgetrede generaal, Benon Biraaro, en ’n regsgeleerde, Faith Kyalya, die enigste vroulike kandidaat.

Museveni, van die regerende party (NRM), sal na alle verwagting die oorhand kry en vir nog ’n termyn van vyf jaar verkies word.

Zuma ontmoet Merkel in ontstuimige klimaat

President Jacob Zuma het in Berlyn in Duitsland aangekom vir samesprekings met die sukkelende Duitse kansellier, Angela Merkel.

Merkel se koalisie wankel tans onder die migrantekrisis, met haar eie gewildheid wat aanhou daal.

Die Duitse minister van binnelandse sake Thomas de Maiziere (CDU) het onlangs gesê dat hy wil die regte van sogenaamde asielsoekers beperk.

Intussen het De Maiziere prominente ondersteuning van ander hooggeplaaste CDU-lede gekry, soos die gewildste politikus in Duitsland, Wolfgang Schäuble.

Volgens Schäuble, ook ‘n kritikus van Griekeland, is die kapasiteit van Duitsland om die aankomelinge te absorbeer naby aan sy einde.

Dié uitlatings het Merkel in ‘n hoek gedryf omdat sy volhou met haar Soros-napratery wat gemik is teen die Duitse volksgevoel.

Die CSU en CDU sal groot winste in die huidige politieke klimaat behaal as hulle van die kanselier ontslae raak.

Suid-Afrika is Duitsland se grootste handelsvennoot in Afrika. Dit is die eerste keer wat dié twee leiers bilaterale samesprekings voer.

Die minister van Internasionale Betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane, is deel van President Zuma se afvaardiging.

Daar is meer as 600 Duitse maatskappye wat sake doen in Suid-Afrika en aan minstens 100 000 mense werk verskaf.

Die vorige geleentheid waar Suid-Afrika en Duitsland samesprekings gevoer het was tydens Thabo Mbeki se bewind in 2007 toe die Zimbabwe-krisis hoog op die agenda was.