Minister belowe hulp aan veeboere

Die minister van landbou, Senzeni Zokwana, het verligting van R220 miljoen vir veeboere belowe.

Hy het in die Parlement aangekondig dat sy departement geld uit sy bestaande begroting gaan heraanwend vir veeboere wat gebuk gaan onder die ergste droogte in dekades.

Die geld is onmiddellik beskikbaar vir boere wat geen voer meer het vir hul vee nie.

Die portefeuljekomitee oor landbou en landelike ontwikkeling in KwaZulu-Natal het intussen onderneem om boere finansieel by te staan wat deur die droogte geraak word.

Die voorsitter van die komitee, Themba Mthembu sê die besluit is geneem tydens ‘n vergadering in Pietermaritzburg.

Hy sê die presiese bedrag wat beskikbaar gestel gaan word en hoeveel individuele boere gaan ontvang, sal afhang van die skade wat hulle gely het.

Mthembu sê boere kan hul plaaslike kantoor van landbou en landelike ontwikkeling vir meer inligting kontak.

Droogte gaan tekort aan rooivleis beteken

droogteVeeboere in groot dele van die land reeds gedwing het om “tot ’n derde” van hul veekuddes te slag weens droogte.

Dié uitdunning sal lei tot ’n ernstige tekort aan rooivleis, het Die Burger berig.

Die kwaai droogte wat veekuddes knou, kan met dié van 1933 vergelyk word, maar dit duur reeds langer en strek wyer.

James Faber, Noord-Kaapse voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en veeboer in die distrik van Barkly-Wes, het gister gesê boere slag hul vee uit wat dragtig is. Koeie wat kalf, is alreeds so erg verswak, hulle bly net lê.

“Ons gaan tekorte aan rooivleis sien. Oor vyf maande gaan daar nie lammers op die mark wees nie. Die siklus vir beeste is anders . . . daar sal die tekorte oor ’n langer tydperk van so 18 maande intree,” het hy gesê.