Petrolbomaanval op Duitse sakeman in Kaapstad

‘n Duitse sakeman is aan die brand gesteek en erg beseer Dinsdagoggend in ‘n petrolbomaanval op sy motor in Kaapstad.

Die polisie het Wesleystraat in Tuine afgesper, terwyl paramedici hom op die toneel behandel het.

Polisiewoordvoerder konst Noloyiso Rwexana het gesê ‘n onbekende man is aan die brand gesteek omstreeks 08:00.

“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. Gevalle van poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging word ondersoek. Die verdagte is nog nie in hegtenis geneem nie.”

Omstanders het die man, wat vermoedelik in sy vyftigs is, uit die brandende voertuig getrek.

Paramedici het hom in ‘n kritieke toestand aangetref.

Die Duitse sakeman, wat in die stad woon, was in intense pyn. Hy was glo in ‘n argument met ‘n werker betrokke.