Twee gholfers wat op baan oorval is, weer terug

Twee Bloemfonteinse vriende het Maandag weer ‘n potjie gholf gespeel en afgeslaan by die bof van die sewende putjie op die Bloemfontein-gholfklubbaan, waar hulle meer as ‘n week gelede beroof is.

Byron Wegger en Francois Faasen is op 8 Januarie deur ‘n man genader en met ‘n vuurwapen gedreig. Wegger sê die booswig het geld geëis en sy hemp opgelig en ‘n vuurwapen, vermoedelik ‘n 9mm, aan hom gewys. Faasen, wat reggestaan het om af te slaan het eers later besef wat aangaan.

Hulle het al hul geld aan die man gegee. Die swart booswig het ook Wegger se selfoon geëis maar dit later aan hom teruggegee, nadat Wegger hom oortuig het dit is nie baie werd nie. Die rower het Wegger se hand geskud en rustig weggestap na waar twee van sy makkers onder ‘n boom gewag het.

Beamptes van die Parkweg-polisiekantoor was vinnig op die toneel, maar die booswigte het weggekom. Wegger sê dit was vir hom ietwat van ‘n traumatiese ervaring. Hy is bly hy het ‘n kundige se raad gevolg om gou weer op dieselfde baan te speel.

“ ‘n Mens kan nie in ‘n boksie leef nie. Jy kan nie wegkruip vir sulke goed in die land nie, jy moet maar net aangaan.”

Faasen sê hy het ook besluit dit sal goed wees om die baan weer te besoek.

Albei slagoffers is ook vol lof vir die Bloemfontein-gholfklub se bestuur wat die voorval as ernstig beskou en veiligheidswagte gaan aanstel om die baan voortaan te patrolleer.

Daar is nie ‘n veiligheidsheining om die baan nie. Hoewel Wegger en Faasen ‘n klag van diefstal kon indien het hulle besluit om nie ‘n saak by die polisie aanhangig te maak nie.

Bron: OFM Nuus

Huisaanval in Pretoria eis die lewe van pa

‘n Man wat sy gesin teen swart aanvallers wou beskerm, is Donderdagaand voor sy gesin doodgeskiet.

Die 47-jarige is in Pretoria-oos noodlottig gewond nadat vier swartes die huis binnegedring het en die oorledene se vrou in die sitkamer oorweldig het.

Die man was glo op die boonste verdieping van die woonhuis en het na benede gestorm, het ‘n polisiewoordvoerder gesê.

Die aanvallers het twee skote op die man afgevuur voordat hulle gevlug het. Nooddienste het probeer om die gewonde pa se lewe te red, maar dit was tevergeefs.

Niemand is nog weens die moord in hegtenis geneem nie. Niks is gedurende die aanval geroof nie.

Drie skole in PE in een week besteel

Drie skole in Port Elizabeth is dié week besteel. Kontant en ander duur bates is weggedra.

‘n Woordvoerder van die Oos-Kaapse polisie het Donderdag bevestig dat daar Woensdagaand ‘n inbraak by ‘n laerskool in Humewood was waar ‘n aansienlike bedrag in kontant verdwyn het.

By die Victoria Park Grey Primary School is ook skootrekernaars gesteel benewens die kontant.

Vroeër vandeesweek het booswigte ‘n kluis by ‘n ander skool, Theodore Herzl Primary, oopgebreek en kontant gesteel.

Harvest Christian School se personeel is Woensdag oorval in ‘n gewapende roof deur rowers wat hulself as ouers voorgedoen het wat skoolgeld wil betaal.

Die polisie het skole gemaan om nie groot bedrae kontant op die perseel aan te hou nie en dit liewer te deponeer aangesien die aanvallers blykbaar ook weet hoe om die alarmstelsels te omseil.

Eskom skakel weer die ligte aan

Eskom het die kragonderbrekings na munisipaliteite wat die kragvoorsiener geld skuld, tydelik gestaak. Die kragverskaffer het Maandag met die kragonderbrekings begin en dit Donderdag laat vaar.

Die munisipaliteite skuld al byna R12 miljard. Die ANC is bekommerd dat Eskom se yslike skuldlas Suid-Afrika se kredietgradering negatief kan raak.

Nadat die minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown, ingegryp het, brand die ligte weer na ‘n duur, nuttelose hofsaak wat haar wou oorreed tot dié stap maar misluk het.

Brown het in ‘n verklaring gesê Eskom, die department van Openbare Ondernemings en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging het ‘n ooreenkoms bereik om munisipaliteite nog tot die einde van die maand te gun om hul agterstallige rekeninge te betaal.

Sy sê die kragonderbrekings het ‘n moontlike rampspoedige uitwerking op sakeondernemings, wat ook tot werkverliese kan lei. Sy het ook onverwags haar simpatie ontdek vir diegene wat wel betaal.

Drie munisipaliteite in Noordwes – Naledi, Lekwa-Teemane en Kgetlengrivier – en twee in die Noord-Kaap – Ubuntu en Renosterberg – is Donderdag nog aan daaglikse kragonderbrekings van vier ure lank onderwerp weens skuld van miljoene rande aan Eskom.

Nóg 10 munisipaliteite in sentraal-Suid-Afrika, wat ook agterstallige rekeninge het, het voor Maandag se spertyd betalingsooreenkomste met Eskom aangegaan.

Kolleges kom landwyd tot stilstand

Die Suid-Afrikaanse studentevereniging vir verdere onderwys en opleiding het vroeër gedreig dat bedrywighede Donderdag by alle TBOO-kolleges landwyd tot ‘n stilstand gedwing moet word.

Die Departement van Hoër Onderwys het ‘n beroep gedoen dat gesprekke met verteenwoordigers van kolleges vir verdere opleiding voortgesit moet word.

Die liggaam eis inligting oor kwessies soos befondsing, infrastruktuur en uitslae en sertifikate wat nog nie uitgereik is nie.

Honderde voormalige studente is werkloos omdat van hulle na bewering tot sewe jaar vir hul sertifikate wag. ‘n Woordvoerder van die departement, Madikwe Mabotha sê die departement is vasbeslote om met alle rolspelers saam te werk om ‘n oplossing te vind.

Safetsa sê die landwye staking sal die opleiding by 265 tegniese, professionele en opleiding (TVET) kolleges raak.

Die vereniging het gesê die regering het sy kommer geïgnoreer, en kolleges sluit dus onbepaald.

Safetsa se Yonke Twani sê onopgeloste kwessies sluit in die vertraging van resultate en hangende sertifikate sedert 2012, onvoldoende befondsing en vertraging van akkommodasie en vervoertoelaes, swak infrastruktuur, ongekwalifiseerde dosente en studenteviktimisasie.

Twani sê hulle praat al jare met die Departement van Hoër Onderwys daaroor.

SABC grom vir Multichoice

Die ad hoc-komitee oor die SABC beveel in ‘n werksdokument aan dat die transaksie met die betaaltelevisiemaatskappy Multichoice aan ‘n forensiese oudit onderwerp word, het RSG berig.

Dit is een van die aanbevelings wat vervat is in ‘n dokument wat in die besit van SABC-nuus is. Die werksdokument is aan die lede van die komitee versprei.

Luidens die verslag was die transaksie van meet af aan omstrede en word dit in die verslag as ‘n verdagte transaksie aangedui.

Die transaksie het onder meer daartoe gelei dat groot hoeveelhede argiefmateriaal aan Multichoice oorgedra is. Die komitee beveel aan dat die forensiese ondersoek die moontlikheid moet insluit dat die transaksie nietig verklaar kan word indien bewyse van ongerymdhede gevind word.

Die ad hoc-komitee het ook aanbeveel dat die ontbinding van die Raad dringend gefinaliseer word. Die komitee wil voorts hê die tussentydse raad moet alle onregmatige besteding en verkwisting by die uitsaaier ondersoek.

Die tussentydse raad moet ook stappe doen om geld wat verkwis of wanbestee is, terug te kry.

Die komitee beveel aan dat die rekenpligtige amptenaar moet toesien dat alle kritieke vakante poste in die finansiële departement en in menslike hulpbonne gevul moet word.

Meer as 40 aanbevelings word gemaak in die dokument van 38 bladsye.

Eskom skakel ses munisipaliteite se ligte af

Ses munisipaliteite in Noordwes en die Noord-Kaap staar van môre af daaglikse kragonderbrekings in die gesig indien hulle nie betalingsooreenkomste met Eskom aangaan nie.

Die munisipaliteite skuld Eskom miljarde rande.

In Noordwes sal daar van môre af kragonderbrekings in die Lekwa-Teemane-, Maquassi Hills-, Madibeng-, en Kgetlengrivier-munisipaliteite wees. In die Noord-Kaap sal daar geen krag in die Ubuntu- en Renosterberg-munisipaliteite wees nie.

Die kragtoevoer sal onderbreek word van Maandae tot Vrydae, soggens tussen ses en agt, en smiddae tussen 5-uur en half-agt. Saterdae en Sondae sal die krag af wees tussen half-nege en 11-uur die oggend en 15:00 en half-ses die middae.

Die kragtoever is reeds van gister af tussen daardie tye na die Ventersdorp- en Naledi-munisipaliteite onderbreek. Die Mamusa-munisipaliteit, wat ook kragonderbrekings in die gesig gestaar het, het egter ‘n ooreenkoms met Eskom aangegaan.

Bron: OFM Nuus

Halfmiljard-Cyril gaan kuier in Davos

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa, een van die land se 50 rykste mense weens naakte politiekery, sal die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) lei. Die forum begin môre in Davos in Switersland.

Bykans drieduisend regeringsleiers, sakeleiers en arbeidverteenwoordigers sal byeenkom vir die forum. Die byeenkoms vind plaas te midde van moeilike toestande vir ekonomieë wêreldwyd sowel as politieke onsekerheid vir mense wat nie deur die staalring om die plek kan dring nie.

Die teenwoordiges het dit breed genoeg om nie te hoef te bekommer oor die res nie.

Suid-Afrika sal na verwagting die byeenkoms gebruik as ‘n geleentheid om die land te posisioneer as ‘n voorkeur beleggingsbestemming.

Die Chinese president, Xi Jinping sal na verwagting afgevaardigdes op die eerste dag van die forum toespreek.

Terwyl besluitnemers en baie van die super-rykes hierdie week by die WEF se jaarlikse vergadering in Davos versamel, toon nuwe data dat China en Indië die armste helfte van die wêreld verteenwoordig, armer as wat voorheen beraam is.

Oxfam het kort voor die begin van die Wêreld Ekonomiese Forum gesê die sogenaamde rykdom van die wêreld se armste drie komma ses miljard mense is gelykstaande aan die netto waarde van ses Amerikaanse sakelui, een van Spanje en een van Meksiko.

Die agt sluit in Bill Gates, die medestigter van Facebook, Mark Zuckerberg en die stigter van Amazon, Jeff Bezos.

Die agt mans het dieselfde welvaart as die helfte van die wêreld se bevolking.

Volgens dié internasionale organisasie wat hulle glo beywer vir die beëindiging van armoede, sal dié tendens gemeenskappe uitmekaar skeur.

Davos is deesdae ideologies te arm aan oplossings. Dis basies ‘n rykmansklub wat maak of hulle omgee oor die armes, maar ‘n rekordmaat sjampanje deur hul kele afgooi op soek na “oplossings”.

Kiesers wat Brexit en Trump gekies het, het klaar die oplossings gevind wat die rykes nog na na dekades en duisende liters duur alkohol, steeds ontwyk.

Twee terroriste in SA se visier

Twee vermeende terroriste is onlangs in en na Suid-Afrika in afsonderlike voorvalle vasgetrek, het die Valke Sondag gesê.

In die eerste voorval, is ‘n vermeende ekstremis, wat reis op ‘n paspoort van die Verenigde State van Amerika via Turkye, by die OR Tambo op 16 Desember gevang, het Media24 berig.

“Hy was reeds gemerk deur Interpol,” het die Valke se woordvoerder Hangwani Mulaudzi gesê.

“Hy is toegang tot die land geweier en moes terug na Turkye.”

In die tweede voorval, wat ook plaasgevind het verlede maand, is ‘n Irakse man wat probeer het om te vlieg uit Turkye na Suid-Afrika gekeer. Hy is deurgang geweier deur die Turkse owerhede. Hy is daarna in hegtenis geneem.

“Hulle voel hy huldig ekstremistiese menings… [volgens] hul eie intelligensie,” het Mulaudzi gesê. Suid-Afrikaanse wetstoepassing wag nou vir ‘n verslag van Interpol oor die aangeleentheid om meer besonderhede te bekom.

Die Sunday Times berig dat die Irakse man bedrywig was vir die Islamitiese staat en hy is ‘n bommaker. Die Irakse ambassadeur Saad Kindeel het volgens die koerant gesê dat die man “nie wou kom na Suid-Afrika om vir ISIS te werf nie, maar om ‘n spesifieke teiken wat later aangeval sou word, te identifiseer”.

Intussen het Mulaudzi gesê gesê dat Suid-Afrikaanse amptenare waaksaam bly en skakel met ander wetstoepassingsagentskappe om die bedreigings van terrorisme die hoof te bied.

“Suid-Afrika is nie immuun teen hierdie voorvalle nie.”

Hy het gesê interne bedreigings van terroriste-aktiwiteit kon ook nie geïgnoreer word nie.

Veediewe in Kimberley nog soek

Die polisie in Kimberley sê niemand is nog in hegtenis geneem nadat 78 skape hierdie week by die Veemark Vleismark in die stad gesteel is nie.

Polisiewoordvoerder, Olebogeng Tawana, sê die skape is Donderdag by die vleismark gesteel.

Hy sê lede van die veediefstaleenheid het die spoor van die veediewe tot so ver as 10 km van die vleismark gevolg waar daar toe op die ingewande van 34 skape afgekom is.

Dit wil voorkom of die booswigte volgens Tawana die karkasse en vel saam met hulle geneem het. Die polisie het Vrydagoggend 21 van die 78 gesteelde skape naby die plaas Eureka gevind.

Tawana sê dat hulle elke leidraad opvolg in ’n poging om die veediewe vas te trek.

Bron: OFM Nuus