Veediewe in Kimberley nog soek

Die polisie in Kimberley sê niemand is nog in hegtenis geneem nadat 78 skape hierdie week by die Veemark Vleismark in die stad gesteel is nie.

Polisiewoordvoerder, Olebogeng Tawana, sê die skape is Donderdag by die vleismark gesteel.

Hy sê lede van die veediefstaleenheid het die spoor van die veediewe tot so ver as 10 km van die vleismark gevolg waar daar toe op die ingewande van 34 skape afgekom is.

Dit wil voorkom of die booswigte volgens Tawana die karkasse en vel saam met hulle geneem het. Die polisie het Vrydagoggend 21 van die 78 gesteelde skape naby die plaas Eureka gevind.

Tawana sê dat hulle elke leidraad opvolg in ’n poging om die veediewe vas te trek.

Bron: OFM Nuus

Veediewe met ‘n wenk vasgestrek voor eienaar wakkerskrik

Die polisie op Edenville in die Vrystaat was vinniger as twee vermeende veediewe wat hul Moses behoorlik teëgekom het nadat hulle na bewering drie skape op ‘n plaas gesteel het.

Polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê die verdagtes het gister in die vroeë oggendure op ‘n plaas in die distrik vermoedelik drie skape, wat in ‘n kamp geloop het, uitgekeer.

Gaobepe sê hulle het die skape daarna te voet in die veld aangejaag. Volgens hom het een van dié skape in die proses weggehardloop.

Hy sê iemand het die booswigte in die veld buite die dorp sien skape aanjaag en onraad vermoed. Die polisie is ontbied. Gaobepe sê polisiebeamptes het vinnig gereageer.

Een van die verdagtes is op die toneel by een van dié skape aangekeer. Die ander verdagte is later op die dorp in hegtenis geneem en hy het die plek waar hy een van die ander skape weggesteek het, aan die polisie uitgewys.

Gaobepe sê die boer was heel in sy noppies toe hy ‘n klag van veediefstal by die plaaslike polisiekantoor gaan aanmeld, net om uit te vind sy drie gesteelde skape is reeds teruggevind en twee booswigte is agter tralies.

Die verdagtes sal na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Bron: OFM

Boer se lammertjies teen muur doodgeslaan in massaslagting

‘n Boer van Bloemfontein het 27 Merino-skape op ‘n gru-wyse in ‘n massaslagting verloor. Die ooie was byna almal dragtig.

Die oorblyfsels van die ooie se fetusse is net so agtergelaat.

Swart veediewe het vermoedelik die naweek die skape van Richard Mudge keelaf gesny en vermink.

Mudge sê van sy skape is al in die verlede gesteel, maar dié slagting was skokkend.

Lammetjies van ’n paar dae oud is teen ’n muur doodgeslaan. Die benoude lammertjies se geblêr moes die aanvallers gesteur het, vermoed Mudge.

“Die skape se karkasse is met vel en al verwyder en die binnegoed was al wat agtergebly het,” het hy aan Beeld gesê.

“Sowat 13 van die skape was swaar dragtig en sou later die week of teen vroeg volgende week lam.”

Mudge het op ’n geknipte heining tussen sy plaas en sy buurplaas afgekom nadat hy die 27 vermiste skape gaan soek het.

Hy het op die skape teen heining by die N1 op die buurplaas op die slagting afgekom.

“Die heining is opgelig en ’n mens kon die sleepmerke sien soos wat die skape onder die draad deur getrek is.”

Tussen die twee plase is 180 skape net die jaar reeds gesteel, nadat ‘n 100 van die bure se Damara-skape onder sulke wrede slagters deurgeloop het.

Veediewe maak die lammertjies sonder genade dood en verjaag die skape so erg dat hulle aan uitputting ly en beserings opdoen.

Die boere ly tienduisende rande se verliese hierdeur en dit lyk nie asof die misdadigers vasgevat word nie.

Veestropers wat miljoene se beeste buit, voor

brahmaan‘n Vermeende veedief, wat klaarblyklik in drie provinsies bedrywig was, verskyn vandag in die Modimole landdroshof.

Die vee wat in Limpopo, Gauteng en Noordwes gesteel is beloop sowat R2,1 miljoen.

Volgens die polisie het ‘n boer van Beestekraal in Noordwes in Junie vanjaar beeste ter waarde van R270 000 verloor en ‘n jaar vroeër ‘n kudde ter waarde van R400 000.

Verlede maand is 51 Brahmaan-koeie ter waarde van ‘n half miljoen rand naby die Kranskoptolplaza gesteel.

In al die gevalle is dieselfde metode en dieselfde vragmotor gebruik. Die vee is na Gauteng geneem, maar dit is onduidelik of dit daar afgelaai is.

Die polisie vermoed dat ‘n sindikaat betrokke is. – RSG