Die polisie op Edenville in die Vrystaat was vinniger as twee vermeende veediewe wat hul Moses behoorlik teëgekom het nadat hulle na bewering drie skape op ‘n plaas gesteel het.
Polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê die verdagtes het gister in die vroeë oggendure op ‘n plaas in die distrik vermoedelik drie skape, wat in ‘n kamp geloop het, uitgekeer.
Gaobepe sê hulle het die skape daarna te voet in die veld aangejaag. Volgens hom het een van dié skape in die proses weggehardloop.
Hy sê iemand het die booswigte in die veld buite die dorp sien skape aanjaag en onraad vermoed. Die polisie is ontbied. Gaobepe sê polisiebeamptes het vinnig gereageer.
Een van die verdagtes is op die toneel by een van dié skape aangekeer. Die ander verdagte is later op die dorp in hegtenis geneem en hy het die plek waar hy een van die ander skape weggesteek het, aan die polisie uitgewys.
Gaobepe sê die boer was heel in sy noppies toe hy ‘n klag van veediefstal by die plaaslike polisiekantoor gaan aanmeld, net om uit te vind sy drie gesteelde skape is reeds teruggevind en twee booswigte is agter tralies.
Die verdagtes sal na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof verskyn.
Bron: OFM

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.