Veediewe in Kimberley nog soek

Die polisie in Kimberley sê niemand is nog in hegtenis geneem nadat 78 skape hierdie week by die Veemark Vleismark in die stad gesteel is nie.

Polisiewoordvoerder, Olebogeng Tawana, sê die skape is Donderdag by die vleismark gesteel.

Hy sê lede van die veediefstaleenheid het die spoor van die veediewe tot so ver as 10 km van die vleismark gevolg waar daar toe op die ingewande van 34 skape afgekom is.

Dit wil voorkom of die booswigte volgens Tawana die karkasse en vel saam met hulle geneem het. Die polisie het Vrydagoggend 21 van die 78 gesteelde skape naby die plaas Eureka gevind.

Tawana sê dat hulle elke leidraad opvolg in ’n poging om die veediewe vas te trek.

Bron: OFM Nuus

Maak 'n opvolg-bydrae