Registrasie by kollege ontwrig omdat swart studente geld en sertifikate eis

Die Studenteraad by een van die Motheo TVET-kolleges in Bloemfontein sê hulle sal voortgaan om studente te verbied om te registreer, totdat hulle antwoorde op hul griewe ontvang het.

Die president van die SR, Marumo Rakoena, het aan OFM-nuus gesê dat hulle tot Donderdag bedrywighede op die kampus sal staak.

Daar word verwag dat die raad van die kollege dan terugvoer sal gee nadat hulle studente vandag op die kampus toegespreek het.

Studenteleiers eis blykbaar befondsing, beter infrastruktuur, beter uitslae en uitstaande sertifikate. Rakoena voeg by dat studente vanaf volgende week nie klasse sal bywoon nie totdat oplossings vir die kwessies gevind is.

Die Suid-Afrikaanse studentevereniging vir verdere onderwys en opleiding het verlede week gedreig om bedrywighede by TVET-kolleges landwyd tot ‘n stilstand te bring.

Die Vaal Universiteit van Tegnologie het bykans eenmiljoen rand opsygesit vir beurse vir swart matrieks.

Mike Khuboni, uitvoerende direkteur van korporatiewe sake aan die VUT, sê die universiteit wil met dié beurse erkenning gee aan “verdienstelike” matrieks. Volgens Khuboni sal veertien studente met punte bo 80-persent vir een van die twee kategorieë beurse kwalifiseer.

Die beurse sal hulle hele kursus dek, op voorwaarde dat hulle al hulle vakke slaag. In die ander kategorie sal die eerste ses studente wat met al die korrekte dokumente by die registrasiepunt opdaag om by die universiteit in te skryf, finansiële hulp vir hulle registrasie en studiegeriewe ontvang.

Nagenoeg vyfduisend studente het reeds aanlyn by die VUT geregisteer, het RSG berig.

Intussen het die Plaaslike Regeringsvereniging in KwaZulu-Natal ‘n beroep gedoen op munisipaliteite om behoeftige matrikulante te help met befondsing om verder te kan studeer.

Sommige munisipaliteite soos die eThekwini Metro, KwaDukuza en Nkandla verskaf beurse aan uitblinkers. Die voorsitter van SALGA in KwaZulu-Natal, Mluleki Ndobe sê munisipaliteite kan ‘n belangrike rol speel in arm gemeenskappe om jongmense te help om verder te leer.

Hy het ander munisipaliteite aangemoedig om geld vir verdere onderrig in hulle begrotings opsy te sit.

Kolleges kom landwyd tot stilstand

Die Suid-Afrikaanse studentevereniging vir verdere onderwys en opleiding het vroeër gedreig dat bedrywighede Donderdag by alle TBOO-kolleges landwyd tot ‘n stilstand gedwing moet word.

Die Departement van Hoër Onderwys het ‘n beroep gedoen dat gesprekke met verteenwoordigers van kolleges vir verdere opleiding voortgesit moet word.

Die liggaam eis inligting oor kwessies soos befondsing, infrastruktuur en uitslae en sertifikate wat nog nie uitgereik is nie.

Honderde voormalige studente is werkloos omdat van hulle na bewering tot sewe jaar vir hul sertifikate wag. ‘n Woordvoerder van die departement, Madikwe Mabotha sê die departement is vasbeslote om met alle rolspelers saam te werk om ‘n oplossing te vind.

Safetsa sê die landwye staking sal die opleiding by 265 tegniese, professionele en opleiding (TVET) kolleges raak.

Die vereniging het gesê die regering het sy kommer geïgnoreer, en kolleges sluit dus onbepaald.

Safetsa se Yonke Twani sê onopgeloste kwessies sluit in die vertraging van resultate en hangende sertifikate sedert 2012, onvoldoende befondsing en vertraging van akkommodasie en vervoertoelaes, swak infrastruktuur, ongekwalifiseerde dosente en studenteviktimisasie.

Twani sê hulle praat al jare met die Departement van Hoër Onderwys daaroor.