Die Minister van Waterwese, Edna Molewa het gesinspeel op doelbewuste sabotasie wat kon gelei het tot die waterprobleem in die swart gemeenskap by Brits.
Molewa en Thandi Modise, die premier van die provinsie, het inwoners van Mothutlung naby Brits in Noordwes besoek nadat twee betogers deur die polisie doodgeskiet is.
Modise se kantoor het gesê hulle sal Dinsdag ook die gesinne van die slagoffers besoek. Die premier het vir kalmte gepleit.
Molewa het beloof dat inwoners nog voor die naweek water sal hê.
Die minister van polisie, Nathi Mthethwa het ook die gesinne besoek van die twee mans wat tydens gewelddadige betogings doodgeskiet is.
Die gebied is reeds drie maande lank sonder lopende water met tenkwaens wat water elke drie dae moet aanry.
RSG het berig dat Molewa daarop gesinspeel het dat die waterprobleem dalk doelbewus geskep is.
Sy het glo daarop gewys dat dit vreemd is dat een van drie pompe by ‘n pompstasie onklaar geraak het.
Die Nelson Mandela-stigting se vrystellingsdatum van ‘n manuskrip geskryf deur die voormalige president Nelson Mandela, is vir Stephen Ellis, professor van sosiale wetenskappe aan die Vrye Universiteit, Amsterdam ‘n raaisel.
Die dokument van 627 bladsye is skynbaar aanlyn geplaas net ‘n paar dae voor Mandela se dood op 5 Desember. Die dokument is reeds in 1977 uit die gevangenis gesmokkel, maar nooit openbaar gemaak nie.
Ellis sê in ‘n artikel dis nie duidelik waarom so ‘n belangrike en selfs plofbare teks aanlyn geplaas is op daardie tydstip nie en die sentrum het selfs geen poging aangewend om die publikasie aan te kondig nie.
Die stigting het Ellis se beweringe ontken en gesê die manuskrip is die eerste keer op sy webwerf geplaas op 4 November 2011.
Stengel by sy seun se peetpa
Die argief van die aangetekende gesprekke tussen Mandela en die invloedryke Joodse redakteur Richard Stengel, is gemaak tydens die werk wat hulle onderneem het ter voorbereiding van die Long Walk to Freedom se manuskrip
Ellis sê in sy kritiek dat iets aan die broei is, naamlik hoe die geskiedenis van die stryd so vaardig weggesteek is vir so lank om die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en sy bondgenote die geleentheid te gun om die strategiese gebruik van misleiding en propaganda te ontplooi.
Ellis het gesê daar is groot verskil tussen die 1970-manuskrip en Mandela se 1994-boek . Hy beweer dat die manuskrip belangrike inligting bevat oor die gewapende stryd in 1960.
Ellis meen verder dat Mandela heel duidelik in sy memoirs een van die mees uitstaande kenmerke van Marxisme-Leninisme volledig omhels het: Dat dit moreel toelaatbaar is om geweld te pleeg as dit sal help met “die stryd”.
Mandela het in die openbaar die formele ANC-beleid wat geweld verwerp, verdedig, terwyl hy, soos nou bekend is, in sy hoedanigheid as ‘n senior lid van die SAKP besig was om voor te berei vir presies die teenoorgestelde!
Die medeskrywer van Mandela se outobiografie, Richard Stengel het hierdie ongerieflike feite verberg.
Kommerwekkend is ook Mandela se duidelike anti-wit-houding.
In sommige gedeeltes in die Robbeneiland-teks raak die onderwerp van die geweld teen blankes heel heftig.
Mandela beklemtoon sy bitterheid jeens Suid-Afrikaanse blankes in die algemeen. Hy wil sien dat hulle “deur ‘n Isandhlwana” (bladsy 194) uitgedelg word.
Dit is natuurlik ‘n verwysing na die bloedige nederlaag van die Britse troepe deur ‘n Zoeloe-oormag in 1879.
“Suid-Afrikaanse blankes”, sê Mandela in ‘n ander gedeelte, “het op rassisme geteer vir 3 eeue, en blote toesprake alleen …. sal nooit maak dat hulle oorgee en politieke mag en die natuurlike rykdom van die land met die swartes deel nie.” (bladsy 399).
Verne Harris, Mandela se hoofargivaris. kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Terwyl Harris by die Universiteit van die Witwatersrand werksaam was is hy gevra om Mandela se dokumente “te help regmaak”.
Harris beskryf homself as ‘n ideoloog eerder as ‘n argivaris en hy sê in ‘n onderhoud hy wou die argief se “politieke moontlikhede uitbuit”.
Die polisie ondersoek die dood van twee mense na ‘n dooiepunt tussen betogers en die polisie tydens ‘n diensleweringoproer naby Brits.
Noordwespolisie het bevestig dat twee betogers doodgeskiet en twee gewond is tydens die oproer.
Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ( Opod ) lei die ondersoek na die dood van twee mense in Mothutlung, naby Brits, Maandag, het ‘n woordvoerder gesê.
“Twee ander mense is beseer en is tans in die hospitaal ,” het Moses Dlamini gesê.
Die polisie is ontbied om betogers te monitor nadat hulle ‘n pad versper het met brandende bande.
Inwoners het Sondagmiddag oor ‘n tekort aan water die strate ingevaar. Dlamini het gesê daar was na bewering ‘n onderonsie tussen betogers en die polisie .
Die swart gemeenskappe was vir ‘n week sonder water. Hulle was op pad na die munisipale se kantore toe.
Die munisipaliteit se suiweringspomp en bystandpomp is albei gebreek, het hy gesê.
Die Wes-Kaapse minister van Toerisme, Alan Winde het die nuus verwelkom dat Kaapstad as van die voorste vakansiebestemmings aangewys is deur ‘n Britse asook Amerikaanse koerant.
Die Guardian sowel as die Amerikaanse New York Times in ‘n artikel, “52 Plekke om te gaan in 2014”, het Kaap aanbeveel by toeriste.
Die New York Times het Kaapstad in sy artikel ook verbind met oudpresident Nelson Mandela.
Die Guardian het in sy artikel Kaapstad se moderne restaurante en kuierplekke uitgelig.
Kaapstad is ook ‘n “pienk” bestemming, vir die sogenaamde LGBT-gemeenskap.
Winde sê die erkenning sal help Kaapstad se status as ‘n aantreklike bestemming verhoog. Hy het bygevoeg dat dit die Tuinroete sal insluit.
Die New York Times het ‘n sirkulasie van sowat 2 miljoen lesers per dag.
Twee lede van die Tshwane Metropolisie wat daarvan aangekla word dat hulle ‘n motoris van R500.000 kontant beroof het, verskyn vandag in die Pretoria-Noord landdroshof.
Na bewering het die twee die motoris op die N-1 naby Hammanskraal weens ‘n spoedoortreding vasgetrek.
Terwyl hulle die motor deursoek het, het hulle op die kontant afgekom en die voertuigbestuurder gedreig dat hulle hom vir geldwassery in hegtenis gaan neem.
Volgens die woordvoerder van die Tshwane Metropolisie, Isaac Mahamba het hulle ‘n deel van die geld geneem en die bestuurder beveel om te ry. Die twee staar ook skorsing in die gesig. -RSG
Toneel van die stormloop by die UJ aan die begin van 2012
Terrwyl ‘n rekordaantal matrieks einde 2013 met universiteitsvrystelling geslaag het, het universiteite egter nie plek vir die massas nuwe eerstejaars nie.
Die aantal matrieks met vrystelling om verder te studeer, het van 136 037 in 2012 tot 171 755 gestyg. Persentasiegewys verteenwoordig dit ‘n toename van 26% en die bykomende getal potensiële eerstejaars is 35 718.
Baie min van dié aspirant-studente het egter goeie wiskunde- en wetenskappunte. Van die 142 666 matrieks (uit ‘n totaal van meer as halfmiljoen) wat wiskunde geskryf het, het slegs 15,6%, oftewel 22 255, meer as 60% in dié sleutelvakke gekry. Terwyl die universiteite tienduisende studente wegwys, word daar amper vuisgeslaan om kandidate met wiskunde na kampusse te lok, met beloftes van afslag op studiegeld, selfs vir blanke studente teen wie daar gewoonlik gediskrimineer word.
Aan Suid-Afrika se 22 residensiële universiteite, dus met die uitsondering van UNISA en ander inrigtings vir afstandsonderrig, is daar plek vir slegs 127 827 eerstejaars.
Blykbaar is die volgende getalle aansoeke reeds ontvang:
35500 matrikulante het by Wits aansoek gedoen, wat 5 500 eerstejaars toelaat;
75 000 het vir die 10 500 eerstejaarplekke aan die Universiteit van Johannesburg aansoek gedoen;
16 000 wil Stellenbosch toe gaan, wat 5 000 plekke het;
in die Oos-Kaap is meer as 25 000 aansoeke deur Port Elizabeth se Nelson Mandela-universiteit ontvang, wat 5 800 eerstejaars gaan toelaat;
40 000 wil een van die 4000 plekke aan die Universiteit van Wes-Kaapland bekom;
27 435 voornemende studente het aansoek gedoen vir die Universiteit van Kaapstad wat net 4 200 toelaat. Blykbaar is 19 838 van die aansoekers matrikulante;
16 500 probeer by Kovsies inkom, terwyl die universiteit slegs 6 900 kan aanvaar; en
80 000 het vir die 14 000 plekke by die Tshwane-universiteit van Tegnologie aansoek gedoen.
Oor die algemeen probeer die universiteite situasies vermy soos wat in Januarie 2012 gebeur het toe ‘n stormloop van swart studente by UJ die dood van ‘n matrikulant, Gloria Sekwena, veroorsaak het. Gegewe die potensiaal vir kampusonluste indien groot skares studente weggewys word, vereis die meeste universiteite dat studente aanlyn op sogenaamde “portale” moet aansoek doen en registreer.
Volgens ‘n woordvoerder van UWK, Luthando Tyhalibongo, het die universiteite se geoutomatiseerde stelsel reeds 20 000 van die 40 000 aansoeke verwerp omdat hulle nie aan die maatstawwe voldoen nie.
Terwyl daar in die buiteland algemeen beweer word dat universiteitstudie “tydens apartheid van swart studente weerhou is”, het die vorige NP-regering al die bestaande universiteite laat oprig. Die ANC het egter onlangs aangekondig dat twee nuwe universiteite tans gebou word, die Universiteit van Mpumalanga in Nelspruit en die Sol Plaatje-universiteit in die Noord-Kaap. Na verwagting sal dié twee “postapartheiduniversiteite” vanjaar onderskeidelik 240 en 124 studente inneem.
Terwyl die ANC-regering miljarde rande stort in SETAs en kolleges vir verdere opvoeding en opleiding (VOO), toon statistieke dat iemand sonder ‘n VOO-kwalifikasie eerder werk kry as ‘n individu mét so ‘n kwalifikasie. Die VOO-sektor word as “chaoties” beskryf.
Op die wiskundefront stagneer die land en hoewel daar 57 000 aansoeke vir onderwysstudie ontvang is – waarvoor daar rnet 5 053 plekke aan al die universiteite bestaan = is daar bloedweinig studente wat beplan om wiskunde-onderwysers te word.
Volgens die dekaan van die onderwysfakulteit aan die Universiteit van Pretoria, Irma Eloff, “moet ons in wiskunde, wetenskap en Afrikatale die syfers nog heelwat opstoot”.
Univerrstieite lei ook studente op in polities korrekte vakke soos Afrikstudies, vrouestudies en ander, waarvoor daar geen vraag in die ekonomie bestaan nie. “Hulle produseer groot getalle graduandi in lettere en geesteswetenskappe, waarvoor daar nie ‘n behoefte in die werkplek bestaan nie,” sê Loane Sharpe, ‘n arbeidskonsultant. “Daar is egter nie genoeg ingenieurs, dokters en wetenskaplikes nie. Hul getalle, asook dié rekenmeesters, behoort jaarliks met tussen 8% en 10% toe te neem vir die ekonomie om te groei.”
Pleks daarvan, neem die getalle van sulke geskooldes met net 0,1% tot 2% per jaar toe. Dit veroorsaak dat “die status quo sal bly. Universiteite sal plekke vir die elite bly, asook vir studente wat in wiskunde en wetenskap presteer.”
‘n Nuwe politieke party, die African United Front, sal na verwagting die politieke arena betree deur aan vanjaar se algemene verkiesing deel te neem.
Die party is opgerig deur lede van die voormalige Suid-Afrikaanse Weermag.
Dit is na bewering in September verlede jaar by die OVK geregistreer.
Die partyleier Ronnie Sauls sê hulle hulle sal aan die verkiesing in al die provinsies deelneem . Hy sê hulle wil armoede en misdaad beveg, asook werkgeleenthede te skep in hul gemeenskappe.
“Ons staan vir aanspreeklikheid, ons staan vir deursigtigheid, ons staan vir menslike waardigheid en ook goeie bestuur, net om by te voeg ons is hier vir liefde, vrede en voorspoed.”
Intussen het die president van Cope , Mosiuoa Lekota , gesê hy wil ‘n robuuste en spelbreker-opposisie sien.
Hy is het die leierskapstryd van die party gewen by COPE se konferensie in Boksburg aan Gauteng se Oos- Rand hierdie naweek.
Die konferensie het bevestig dat Lekota as COPE se onbetwiste leier dien nadat hy ‘n lang hofstryd teen die party se ander mede-stigter, Mbhazima Shilowa gewen het.
Dertig lede van die ANC sal vandag in die landdroshof op Nkandla in KwaZulu-Natal op aanklagte van openbare geweld verskyn .
Hulle is die naweek in hegtenis geneem toe hulle die Ekonomiese Vryheidsvegters glo wou verhoed om ‘n huis aan ‘n behoeftige gesin by Nkandla te oorhandig.
Julius Malema, EFF-leier, wou namens sy party die huis neffens Nkandla aan ‘n arm gesin gee.
Ontstoke ANC-lede het hom ook met waterbottels bestook en verskeie polisievoertuie beskadig.
Die ANC in KwaZulu-Natal het die konfrontasie tussen die ANC en EFF Sondag skerp veroordeel.
Senzo Mkhize, ‘n provinsiale woordvoerder, het gesê hulle sal ondersoek instel na die voorval.
“Sommige van ons was nie daar nie, ons was by Mbombela. So nou probeer ons inligting uit hulle te kry. Ons sal die nodige stappe neem, want ons wil nie die indruk skep dat daar geen politieke verdraagsaamheid in KZN is of vrye aktiwiteit nie. “
Hy het bygevoeg dat die ANC wil toesien dat alle partye vryelik veldtogte voer sonder enige inmenging.
Dalene Mathee sou ontsteld gewees het om te verneem van die olifant wat in die Knysnabos gewaar is.
Die olifant is pas in die Knysnabos deur ‘n versteekte kamera gefotografeer. Die kamera is opgestel vir luiperd-navorsing.
Voor haar dood het die skrywer, wie se bosromans wêreldwyd roem vir die Knysnawoud en sy legendariese olifante verwerf het, te velde getrek teen enige toersime-foefie rakende die olifante.
Die Knysna-olifante is veronderstel om besonder aggressief te wees.
Matthee, bekroonde skrywer van die bostrilogie en ‘n ere-boswagter, was ook bitter gekant teen die olifanthervestigingsprojek.
“Ek is siek en sat van die mens se inmenging. Eers word hulle uitgeskiet, en nou word hulle sonder ‘n keuse verskuif. Olifante is spesiale en hoogs intelligente diere. Hul manier van kommunikeer is bo die mens se verstand en hulle het ‘n spesifieke sosiale struktuur. Iets in my staan op daarteen.”
Sy was ook tot haar dood erg gekant teen die beheerde eksperiment om die uitsterwende troppie in die Knysnabos te red deur olifante van die Krugerwildtuin in te voer.
‘n Woordvoerder van SANparke, Nandi Mgwadlamba, sê die foto bewys dat die Knysnabos een van min plekke is waar olifante nog natuurlik voorkom.
Honderde wilde olifante het in die 1800’s in die Knysnawoud voorgekom, maar hulle is deur ivoorjagters en die verlies van habitat uitgeroei.
Olifantjag in die 1920’s is beskryf in die outobiografie van majoor PJ Pretorius in Jungle Man.
Die laaste keer wat ‘n olifant in die gebied opgemerk is, was volgens berigte in 2000, toe die wetenskaplike en skrywer, Lyall Watson, ‘n olifantkoei reg by die rand van die bos op die kuslyn gewaar het.
Daar, in die see net ‘n klipgooi ver, was ‘n blou walvis.
Watson het die diep gedreun van die olifantkoei gehoor terwyl sy uitstaar uit na die see waar die walvis was, en die hele prentjie het hom oortuig dat sy met die walvis wou kommunikeer.
Die bewaringskundige Gareth Patterson het DNS bewyse gevind dat ‘n trop van vyf of meer olifante nog in die bos woon.