Olifante trap Kruger-werknemer dood

‘n Werknemer van Kruger Nasionale Park is doodgetrap deur ‘n olifant, terwyl ‘n ander ernstig beseer is nadat ‘n groep van SANParke se werknemers aangeval is deur ‘n trop Maandagmiddag.

Die voorval het by die Mooiplaas-afdeling van die park, naby Mopanikamp voorgekom. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.

Volgens Kruger Nasionale Park woordvoerder William Mabaso, is die polisie en medici na die toneel ontbied. Daar kon egter niks gedoen word vir een van die werknemers wat op die toneel gesterf het nie. Die beseerde werknemer is inderhaas na ‘n hospitaal in Tzaneen geneem.

“Namens die SANParke bestuur en personeel wil ons graag ons innige meegevoel aan die familie, vriende en familie van die oorledene betuig, en aan die ander kollega wat tans in die hospitaal is ‘n spoedige herstel toewens,” het Mabaso gesê.

Stropers se gif lei tot bewaringstragedie

Stropers gebruik deesdae gif teen wild in Suid-Afrika se Nasionale Parke.

Die Kruger Nasionale Park (KNP) het Saterdag op ‘n olifantkarkas, 110 dooie witrugaasvoëls, twee leeumannetjies en twee jakkalse afgekom wat weens wildvergiftiging gevrek het.

Daar is nog net 1 000 aasvoël-broeipare in die Nasionale Kruger Wildtuin oor. Die meer as 100 aasvoëls wat nou vergiftig is, is ‘n bewaringstragedie.

Die olifantkarkas is gevind met geweerskote in sy kop, sy tande is verwyder en gif is daarop gekry. Aasdiere in die omgewing van die olifantkarkas is vergiftig nadat hulle van die blootgestelde dele van die karkas gevreet het.

“Dit wil voorkom asof stropers hulself tot wildvergiftiging in die Nasionale Parke en ander beskermde gebiede in Suider-Afrika gewend het en ons natuurlewe daarmee wil verwoes. Wildvergiftiging is nie net ‘n bedreiging vir ons biodiversiteitbates nie, maar ‘n enkele voorval kan honderde spesies beïnvloed,” het ‘n bestuurder van die park gesê.

Hy het gesê deur in te meng met die duur van die diere se lewensiklus, is hul ekologiese rol beïnvloed.

Verlede jaar het die Park ‘n soortgelyke voorval aangemeld waarin een olifant en vier Afrikaleeus dieselfde oorgekom het, met 46 aasvoëls en 1 Bateleur wat ook aan vergiftiging gevrek het.

In nog ‘n voorval van doelbewuste vergiftiging van rooijakkalse en ander klein roofdiere in die Addo Olifant Nasionale Park in 2014, is dieselfde werkswyse om wild dood te maak deur middel van vergiftiging, opgemerk.

Die anti-stropereenheid se vinnige reaksie het verhoed dat die uitkoms nog erger kon gewees het.

Alhoewel vergiftiging op ‘n lae vlak teenwoordig is, is dit ‘n werklike probleem in buurlande soos Mosambiek en Zimbabwe.

Vyf vas na Britse vlieënier se dood

Pres. John Magufuli van Tanzanië het die dood van die Britse bewaringskundige wie se helikopter afgeskiet is toe hy vermeende stropers agtervolg het, veroordeel, en gesê vyf mense is in hegtenis geneem, het AFP berig.

Die Brit Roger Gower (37) het gesterf toe sy helikopter Vrydag tydens ’n patrollievlug oor die Maswa Natuurreservaat naby die wêreldbekende Serengeti Nasionale Park afgeskiet is.

Hy het vir die Friedkin Bewaringsfonds gewerk en was besig om vermeende stropers te agtervolg nadat hy die vars karkasse van olifante opgemerk het.

“Dit is ’n hartseer voorval en moet ten sterkste veroordeel word,” het Magufuli gesê.

Volgens hom is vyf verdagtes in hegtenis geneem en deur die polisie ondervra.

Gower se Suid-Afrikaanse vennoot, die safarigids Nicky Bester, was ook in die helikopter en het die ongeluk oorleef.

Pascal Shelutete, woordvoerder van nasionale parke in Tanzanië, sê die stropers “kan swaar gewapen wees met gesofistikeerde militêre wapentuig”.

Nog 22 olifante in Zim vergiftig

Minstens 22 meer olifante is dood nadat hulle deur vermeende wilddiewe naby Zimbabwe se grootste wildreservaat vergiftig is, het AFP berig.

“Ons het Maandag 22 olifantkarkasse in die Sinamatela-gebied ontdek en tot dusver het ons 35 olifanttande gevind,” het Caroline Washaya,die woordvoerder van die ­bestuursowerheid vir parke en natuurlewe, gesê.

Die onlangse sterftes volg skaars twee weke nadat 26 olifante weens vergiftiging in twee afsonderlike gevalle buite die Hwange nasionale park naby Kariba en na aan die grens met Botswana dood is.

Verlede maand is minstens 14 olifante aan vergiftiging in verskillende aanvalle dood.

Wilddiefstal is algemeen in Zimbabwe se nasionale parke met olifante en renosters wat vanweë hulle tande en horings, die hoofteikens is. Dit word dan na lande in Oos-Asië gesmokkel.

Verlede jaar is meer as 300 olifante dood nadat wilddiewe sianied naby hul watergate geplaas het.

Pamela Anderson oor Zim baba-olifante besorg

Voormalige Baywatch-ster Pamela Anderson het gevra dat Zimbabwe se omgewingsminister homself ontferm oor die uitvoer van olifantkalfies van Hwange Nasionale Park.

Sy is “diep ontsteld” oor hul lot, ‘n koerant gister berig.

Die Britse Zimbabwiese koerant beweer dat Anderson, 47, ‘n brief namens diereregte-organisasie aan die minister gerig het.
 
“Hierdie vreesbevange babas is na wat berig word gevange gehou terwyl hulle wag om aan China en die Verenigde Arabiese Emirate verkoop te word, ver van hul tuistes, waar hulle hul families sal nooit weer sal sien nie en nooit weer enige normale of gelukkige lewe sal lei nie,” sê Anderson.
 
Hollywood-akteur Pierce Brosnan het sy aanhangers in Desember gevra om teen Zimbabwe se olifantuitvoere te protesteer.

Woede oor Zim olifantkalwers uitvoer

Die Zimbabwiese regering gaan voort met sy omstrede planne om lewende olifante uit te voer, het RSG berig.

‘n Woordvoerder, Prince Mupazviriro sè hulle sal dit ooreenkomstig die reëls van die wèreldwye wildhandelsverdrae hanteer.

Tot 80 olifantkalwers is in die Hwange Nasionale Park gevang, wat internasionaal groot woede ontlok het.

Die finansieel gestremde wildtuinowerheid sê hy het die geld van die olifantverkope nodig om sy bedrywighede te finansier.

Omgewingsbewaarders sè dit is wreed om die olifantkalwers van die res van die trop te skei. China het na bewering van die olifante bestel.

Olifantbul vir sy tande doodgeskiet in Krugerwildtuin

ivoorDis nie net meer renosters wat vir hul horings bedreig word nie.

‘n Olifant is in die Pafuri-streek van die Nasionale Kruger-wildtuin vir sy tande gestroop.

Die hoof van SanParke se teen stropingseenheid, Johan Jooste, sê die stropers het die olifantbul eers doodgeskiet en daarna sy tande uitgeslag.

Dié stropery is die eerste so ‘n voorval die afgelope dekade.

Spoorsnyers het die spore van vier mense na Mosambiek gevolg.

Volgens SANparke is teen-stropingsveldtogte die afgelope tyd eerder daarop gemik om renosterstropery te bekamp.

Met die volgehoue olifantstropery in die res van Afrika wat dit egter slegs ‘n kwessie van tyd voordat dié bykomende plaag Suid-Afrika weer sou tref.

VSA verbied olifanttrofeë uit Zim, Tanzanië

ivoryDie Zimbabwiese minister vir Omgewingsake en Wildlewe, Saviour Kasukuwere sê die VSA se besluit om olifanttrofeë in hul land te verbied, kan Zimbabwe nadelig raak.

Hy het die verbod as ‘n slag vir die land se wildlewe-bewaringsprogramme bestempel en sê dit sal werkverskaffing en toerisme benadeel.

Zimbabwe kan tot R150 miljoen verloor weens die Amerikaanse verbod op jagters se olifanttrofeë.

Die Amerikaanse Vis- en Wildlewedienste het ‘n verbod op die invoer van sulke trofeë vanaf Zimbabwe en Tanzanië uitgeroep omdat die olifantbevolking in dié lande ernstig bedreig word.

Ongeveer 90 olifante word elke dag in Tanzanië vir hul tande gestroop.

In Zimbabwe is 300 olifante verlede jaar deur amptenare, sogenaamde “wildbewaarders”, in Zimbabwe vergiftig.

Olifant in Knysnabos gewaar

knysnabosDalene Mathee sou ontsteld gewees het om te verneem van die olifant wat in die Knysnabos gewaar is.

Die olifant is pas in die Knysnabos deur ‘n versteekte kamera gefotografeer. Die kamera is opgestel vir luiperd-navorsing.

Voor haar dood het die skrywer, wie se bosromans wêreldwyd roem vir die Knysnawoud en sy legendariese olifante verwerf het, te velde getrek teen enige toersime-foefie rakende die olifante.

Die Knysna-olifante is veronderstel om besonder aggressief te wees.

Matthee, bekroonde skrywer van die bostrilogie en ‘n ere-boswagter, was ook bitter gekant teen die olifanthervestigingsprojek.

“Ek is siek en sat van die mens se inmenging. Eers word hulle uitgeskiet, en nou word hulle sonder ‘n keuse verskuif. Olifante is spesiale en hoogs intelligente diere. Hul manier van kommunikeer is bo die mens se verstand en hulle het ‘n spesifieke sosiale struktuur. Iets in my staan op daarteen.”

Sy was ook tot haar dood erg gekant teen die beheerde eksperiment om die uitsterwende troppie in die Knysnabos te red deur olifante van die Krugerwildtuin in te voer.

‘n Woordvoerder van SANparke, Nandi Mgwadlamba, sê die foto bewys dat die Knysnabos een van min plekke is waar olifante nog natuurlik voorkom.

Honderde wilde olifante het in die 1800’s in die Knysnawoud voorgekom, maar hulle is deur ivoorjagters en die verlies van habitat uitgeroei.

Olifantjag in die 1920’s is beskryf in die outobiografie van majoor PJ Pretorius in Jungle Man.

Die laaste keer wat ‘n olifant in die gebied opgemerk is, was volgens berigte in 2000, toe die wetenskaplike en skrywer, Lyall Watson, ‘n olifantkoei reg by die rand van die bos op die kuslyn gewaar het.

Daar, in die see net ‘n klipgooi ver, was ‘n blou walvis.

Watson het die diep gedreun van die olifantkoei gehoor terwyl sy uitstaar uit na die see waar die walvis was, en die hele prentjie het hom oortuig dat sy met die walvis wou kommunikeer.

Die bewaringskundige Gareth Patterson het DNS bewyse gevind dat ‘n trop van vyf of meer olifante nog in die bos woon.

 

Mislukte ivoortransaksie lei tot vier se dood

olifantstropers
Stropers aan die werk

Die Zimbabwiese polisie stel ondersoek in na die dood van vier mense wat naby ‘n wildreservaat geskiet is.

Die liggame van ‘n man en vrou is in ‘n bakkie in ‘n rivierbedding naby die grens met Zambië gevind.

‘n Derde liggaam is naby die voertuig gekry en ‘n vierde liggaam is ‘n kilometer verder onthoof gekry. Al vier is geskiet.

‘n Polisiewoordvoerder sê die moorde was moontlik weens ‘n transaksie tussen stropers en ivoorhandelaars wat skeefgeloop het.

Meer as honderd olifante is verlede jaar deur stropers doodgemaak. – RSG