Nog 22 olifante in Zim vergiftig

Minstens 22 meer olifante is dood nadat hulle deur vermeende wilddiewe naby Zimbabwe se grootste wildreservaat vergiftig is, het AFP berig.

“Ons het Maandag 22 olifantkarkasse in die Sinamatela-gebied ontdek en tot dusver het ons 35 olifanttande gevind,” het Caroline Washaya,die woordvoerder van die ­bestuursowerheid vir parke en natuurlewe, gesê.

Die onlangse sterftes volg skaars twee weke nadat 26 olifante weens vergiftiging in twee afsonderlike gevalle buite die Hwange nasionale park naby Kariba en na aan die grens met Botswana dood is.

Verlede maand is minstens 14 olifante aan vergiftiging in verskillende aanvalle dood.

Wilddiefstal is algemeen in Zimbabwe se nasionale parke met olifante en renosters wat vanweë hulle tande en horings, die hoofteikens is. Dit word dan na lande in Oos-Asië gesmokkel.

Verlede jaar is meer as 300 olifante dood nadat wilddiewe sianied naby hul watergate geplaas het.

Veertien stropers oor die naweek vas

Dit was ‘n slegte naweek vir stropers. Veertien renosterstropers is in hegtenis geneem in die Kruger Nasionale Park het sedert die begin van die naweek, het SANParke gesê.

SANParke het drie hoogs suksesvolle operasies Vrydagoggend geloods wat gelei het tot die inhegtenisneming van 14 vermeende renosterstropers, het ‘n woordvoerder Raynold Thakhuli in ‘n verklaring gesê.

“Dit bring die totale aantal van stroperverdagtes vanjaar wat in hegtenis geneem is in die Kruger Nasionale Park (KNP) te staan op 113.”

In ‘n gesamentlike operasie met die lede van die SA Polisiediens het SANParke se veldwagters ‘n voertuig naby Skukuza onderskep en vyf verdagtes in hegtenis geneem.

Daar is op ‘n .375-jaggeweer, ammunisie en stropertoerusting, sowel as ‘n voertuig beslag gelê. Later gedurende die middag van dieselfde dag, is drie ander verdagtes in die Malelane-omgewing in hegtenis geneem.

Op Saterdag, in die Punda Maria-gebied van die KNP, kort ná sonop, in ‘n gesamentlike SANParke en SAPD-ontplooiing, en ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se lugvleuel, is kontak gemaak met drie vermeende wilddiewe.

Twee van die verdagtes is ernstig gewond en in hegtenis geneem terwyl die derde ongedeerd in hegtenis geneem is.

Een van die gewonde verdagtes is later in die hospitaal aan sy beserings dood. Die oorblywende gewonde verdagte is onder polisiebewaking in die hospitaal.

‘n Jaggeweer, ammunisie en stropertoerusting is gekonfiskeer op die toneel, het SAPA berig.

Besetters vernietig wildreservaat se heining, brand veld

dinokengDie Dinokeng-wildreservaat, noord van Pretoria, word tans deur die polisie gepatrolleer teen grondbesetters.

Die reservaat moes Saterdagaand ’n dringende hofbevel teen swart grondbesetters kry nadat honderde glo Vrydag die reservaat se heining verwoes het en daarna die veld aan die brand gesteek het.

Die bevel is Sondag aan gemeenskapsleiers van die Hammanskraal/Refilwe-omgewing beteken. Die hofbevel verbied ongemagtigdes toegang tot die reservaat en bevestig dat die grensdraadafbakening ongeskonde moet bly.

Die grondeisers het dié naweek brandslaners van die reservaat aangeval en met klippe bestook.

Ongeveer 500 oproeriges het Vrydag by die reservaat se een hek byeengekom, terwyl meer as 100 ’n kilometer verder die wildheining Donderdag geknip het.

Bondels los drade het die veld ontsier en die pale is gesteel.

Die bestuurder van die reservaat, Piet Venter, het aan Beeld gesê hy vrees vir die veiligheid van hul personeel omdat leeus en ander wilde diere uit die reservaat die gemeenskap kan aanval.

Hulle vrees ook dat stropers toegang tot die reservaat sal verkry.

“Die moeilikheid het verlede week begin toe ons ’n brief van die gemeenskap gekry het waarin hulle beweer dat 19 ha van die reservaat se grond in 1997 aan hulle oorgedra is,” het hy gesê. Venter glo die probleem word deur ‘n moeilikheidmaker aangehits.

Die heining is Donderdag op verskeie plekke geknip. Die meerderheid, byna 95% van die ‘besetters’, is nie van hierdie omgewing nie,” het Venter gesê.

Vrydag het die grondeisers op die reservaat toegesak en ’n pad versper. Die Tshwane-metropolisie en die polisie se openbare-orde-eenheid is ingeroep.

Die reservaat verskaf meer as 450 werkgeleenthede aan plaaslike gemeenskapslede en die aanhitsers kry teenstand van diegene wat werk.

Daar is 10 leeus by Dinokeng, 13 olifante, 40 buffels asook renosters en luiperds.

Dit wil voorkom asof ene Paul Mosoma, Wyk 73 se voorsitter van Sanco (South African National Civic Organisation) die reservaatgrond “verkoop” het en dat mense nou “hul grond” eis.