Die Dinokeng-wildreservaat, noord van Pretoria, word tans deur die polisie gepatrolleer teen grondbesetters.
Die reservaat moes Saterdagaand ’n dringende hofbevel teen swart grondbesetters kry nadat honderde glo Vrydag die reservaat se heining verwoes het en daarna die veld aan die brand gesteek het.
Die bevel is Sondag aan gemeenskapsleiers van die Hammanskraal/Refilwe-omgewing beteken. Die hofbevel verbied ongemagtigdes toegang tot die reservaat en bevestig dat die grensdraadafbakening ongeskonde moet bly.
Die grondeisers het dié naweek brandslaners van die reservaat aangeval en met klippe bestook.
Ongeveer 500 oproeriges het Vrydag by die reservaat se een hek byeengekom, terwyl meer as 100 ’n kilometer verder die wildheining Donderdag geknip het.
Bondels los drade het die veld ontsier en die pale is gesteel.
Die bestuurder van die reservaat, Piet Venter, het aan Beeld gesê hy vrees vir die veiligheid van hul personeel omdat leeus en ander wilde diere uit die reservaat die gemeenskap kan aanval.
Hulle vrees ook dat stropers toegang tot die reservaat sal verkry.
“Die moeilikheid het verlede week begin toe ons ’n brief van die gemeenskap gekry het waarin hulle beweer dat 19 ha van die reservaat se grond in 1997 aan hulle oorgedra is,” het hy gesê. Venter glo die probleem word deur ‘n moeilikheidmaker aangehits.
Die heining is Donderdag op verskeie plekke geknip. Die meerderheid, byna 95% van die ‘besetters’, is nie van hierdie omgewing nie,” het Venter gesê.
Vrydag het die grondeisers op die reservaat toegesak en ’n pad versper. Die Tshwane-metropolisie en die polisie se openbare-orde-eenheid is ingeroep.
Die reservaat verskaf meer as 450 werkgeleenthede aan plaaslike gemeenskapslede en die aanhitsers kry teenstand van diegene wat werk.
Daar is 10 leeus by Dinokeng, 13 olifante, 40 buffels asook renosters en luiperds.
Dit wil voorkom asof ene Paul Mosoma, Wyk 73 se voorsitter van Sanco (South African National Civic Organisation) die reservaatgrond “verkoop” het en dat mense nou “hul grond” eis.
