Kenia verbrand stapels ivoor

Natuurbewaarders van Kenia se natuurlewe dienste (KWS) het olifanttande op ‘n brandstapel in Nairobi se nasionale park uitgepak om te vernietig.

Dié stap is geneem ter voorbereiding van ‘n geskiedkundige verbranding van tonne ivoor, renosterhorings en ander gekonfiskeerde natuurlike trofeë.

Kenia sal op 30 April nagenoeg 105 ton gekonfiskeerde ivoor, byna die hele voorraadstapel van die land, verbrand.

Verskeie Afrika-staatshoofde, bewaringsdeskundiges en hoë profiel filantrope sal die geleentheid bywoon wat hulle hoop ‘n sterk boodskap teen wildstropery sal stuur.

Die vernietiging van ivoor sal die waarde daarvan verder verhoog, en die reeds winsgewende sluik handel verder stimuleer, omdat die produk skaarser raak.

‘n Beheerde mark met streng regulasies kan ‘n oplossing vir baie Afrika-lande wees om ‘n inkomste te genereer en selfs bewaringsinisiatiewe finansier, het Suid-Afrika egter voorheen gesê.

Vier Suid-Afrikaanse lande het geappelleer teen die CITES-ivoorhandelverbod om hierdie rede, waar daar ook ‘n groot voorraad van ivoor is.

Nog 22 olifante in Zim vergiftig

Minstens 22 meer olifante is dood nadat hulle deur vermeende wilddiewe naby Zimbabwe se grootste wildreservaat vergiftig is, het AFP berig.

“Ons het Maandag 22 olifantkarkasse in die Sinamatela-gebied ontdek en tot dusver het ons 35 olifanttande gevind,” het Caroline Washaya,die woordvoerder van die ­bestuursowerheid vir parke en natuurlewe, gesê.

Die onlangse sterftes volg skaars twee weke nadat 26 olifante weens vergiftiging in twee afsonderlike gevalle buite die Hwange nasionale park naby Kariba en na aan die grens met Botswana dood is.

Verlede maand is minstens 14 olifante aan vergiftiging in verskillende aanvalle dood.

Wilddiefstal is algemeen in Zimbabwe se nasionale parke met olifante en renosters wat vanweë hulle tande en horings, die hoofteikens is. Dit word dan na lande in Oos-Asië gesmokkel.

Verlede jaar is meer as 300 olifante dood nadat wilddiewe sianied naby hul watergate geplaas het.