Twee metropolisielede in omkooplokval gevang

Twee Tshwane-metropolisiebeamptes is in kennis gestel dat hulle geskors kan word hangende ‘n ondersoek nadat hulle glo omkoopgeld van Yusuf Abramjee, hoof van die teenmisdaadveldtog Crime Line, geëis het.

‘n Lokval is glo vir die beamptes gestel. Die twee beamptes moes ‘n spoedkamera in Centurion beman. Hulle was nie veronderstel om motoriste van die pad af te trek nie maar slegs met die kamera spoedoortreders af te neem en boetes dan later per pos uit te reik.

Volgens ‘n woordvoerder van die Tshwane-metropolisie het Abramjee Maandag die owerhede in kennis gestel dat die twee beamptes hom van die pad af getrek het en omkoopgeld geëis het. Hy het geweier om te betaal en die beamptes het hom laat gaan.

“Die beamptes het egter motoriste van die pad af getrek en aan motoriste gesê hulle moet omkoopgeld betaal sodat hulle nie later ʼn boete ontvang nie,” het die woordvoerder aan Sapa gesê.

Hulle het R200 gevra.

Die twee beamptes is onmiddellik in hegtenis geneem. Daar is R1 200 by een van die beamptes gevind en R710 by die ander beampte. Hulle kon nie rekenskap gee van die geld nie, vermoedelik omdat dit omkoopgeld was.

Die twee beamptes het intussen kennisgewings van skorsing ontvang.

Hulle sal sewe dae hê om daarop te antwoord voor ʼn besluit geneem sal word oor of hulle geskors moet word.

Polisie waarsku motoriste om R55 te vermy

oproerDie Tshwane metropolisie het motoriste gewaarsku teen gewelddadige oproer wes van Pretoria.

Dit is nie bekend waaroor die protesoptrede gaan nie.

Die metropolisie het motoriste afgeraai om die R55 tussen Pretoria-wes en Sandton te gebruik en gewaarsku om alternatiewe roetes te kies.

Die pad is tydelik gesluit nadat oproerige inwoners van Olievenhoutbosch, suid van Pretoria motoriste bedreig het.

Die polisie is in die gebied ontplooi.

Metropolisie wat kontant roof vas

moneyTwee lede van die Tshwane Metropolisie wat daarvan aangekla word dat hulle ‘n motoris van R500.000 kontant beroof het, verskyn vandag in die Pretoria-Noord landdroshof.

Na bewering het die twee die motoris op die N-1 naby Hammanskraal weens ‘n spoedoortreding vasgetrek.

Terwyl hulle die motor deursoek het, het hulle op die kontant afgekom en die voertuigbestuurder gedreig dat hulle hom vir geldwassery in hegtenis gaan neem.

Volgens die woordvoerder van die Tshwane Metropolisie, Isaac Mahamba het hulle ‘n deel van die geld geneem en die bestuurder beveel om te ry. Die twee staar ook skorsing in die gesig. -RSG