Swart advokaat wat glo regter wou omkoop hoop op borg

‘n Swart advokaat wat na bewering probeer het om ‘n regter om te koop, weet nog nie of ‘n Bloemfonteinse landdroshof aan hom borgtog sal verleen nie.

Landdros Richards Lawrence het die saak tot Donderdag uitgestel.

Vroeër Woensdag het Karabo Tau, 39, wat homself verteenwoordig, gesê hy gaan onskuldig pleit op aanklagte van korrupsie, afpersing, hom voordoen as ‘n advokaat en sameswering om ‘n misdryf te pleeg.

Maar aanklaer Johan Roothman het gesê die staat het ‘n sterk saak teen Tau. Hy het gesê hulle wag vir selfoonrekords en bankstate wat Tau inkrimineer.

“Ek sal dié aanklagte heftig ontken. Ek was nog deurmekaar toe ek daaroor lees in die media,” het Tau daarop geantwoord.

Tau is in hegtenis geneem in Bloemfontein in Augustus nadat hy na bewering deur die families van nege mense beskuldigdes gevra is om ‘n regter om te koop om hulle vry te spreek.

Die nege is skuldig bevind aan die diefstal van diesel en afpersing.

‘n Woordvoerder van die Valke S’fiso Nyakane, sê die nege aangeklaagdes sou gevonnis word in die Vrystaatse hooggeregshof in Oktober.

Hul gesinne het na bewering R80 000 oorbebetaal aan die swart advokaat. Dit was blykbaar ‘n deposito vir die betaling van R500 000 aan die regter.

Maar Tau ontken dit. Hy het aan die hof gesê dat hy borg moet kry omdat hy aan diabetes ly en voortdurend medikasie neem.

VSA loods aanval op FIFA oor Rusland

Amerikaanse senatore het ‘n oproep gedoen dat FIFA-baas Sepp Blatter moet bedank.

Die VSA probeer om Blatter te ontsetel as die hoof van die sokkerorganisasie weens sy steun vir Rusland om die volgende Sokkerwêreldbekertoernooi aan te bied.

Die Amerikaanse mislukking om kleurrewolusies in Europa, soos in die Oekraïne en nou Macedonië te laat slaag teen Rusland, het vermoedelik tot dié stappe teen die Europese FIFA gelei.

Blatter se ondersteuning van Vladimir Poetin het voorheen hewige kritiek in die Verenigde State van Amerika ontlok.

Die VSA self is nommer 22 op die globale korrupsie-indeks tussen Uruguay en Chili, en speel ‘n baie marginale rol in internasionale sokker.

Tog het hulle die FIFA-aanval geloods en ten minste 10 top-amptenare op aanklagte van korrupsie in hegtenis laat neem ‘n paar dae voor die leierskapsverkiesing.

Ná die arrestasies van sy sewe amptenare in Swede, het FIFA op ‘n perskonferensie laat blyk dat die 2018- en 2022-toernooie steeds gehou sal word in Rusland en Katar.

Die federasie, wat al geruime tyd gebuk gaan onder beskuldigings van korrupsie, het gesê hulle sal ten volle met die ondersoekers saamwerk.

Blatter het vroeër in ‘n verklaring onderneem om korrupte amptenare uit die sport te skop.

Tot dusver het net Europese sokkeradministrateurs gevra dat more se presidentsverkiesing uitgestel moet word. Uefa sê in die lig van die jongste onthullings kan die verkiesing in ‘n klug ontaard.

Dié samewerking om korrupsie uit te roei, sal die VSA se planne om die Wêreldbeker in 2018 in Rusland te kelder, bemoeilik.

Intussen het die Suid-Afrikaanse minister van sport, Fikile Mbalula, gesê hy sal later reageer op bewerings dat Suid-Afrika se bodproses om die 2010 sokkerwêreldbeker aan te bied, ondersoek word.

Dit volg na bewerings dat een van die mense wat in die jongste korrupsie-ondersoek betrek word, Jack Warner, by omkopery in Suid-Afrika se bod betrokke was.

Die Suid-Afrikaanse sokkervereniging, Safa, het vroeër gesê die ondersoek na Suid-Afrika se bodproses is bloot bewerings. ‘n Woordvoerder van Safa, Dominic Chimhavi sê niemand in Suid-Afrika word by die ondersoek betrek nie.

Blatter sal Donderdag sy eerste openbare verskyning maak sedert strafregtelike aanklagte teen veertien voormalige Fifa-amptenare ingedien is.

Die Amerikaanse prokureur-generaal, Loretta Lynch sê korrupte amptenare van die FIFAS-sokkerbeheerliggaam het omkoopgeld tydens die proses geneem en sê 14 senior amptenare en bemarkers is betrokke by sowat twee miljard rand se omkoopgeld.

Twee metropolisielede in omkooplokval gevang

Twee Tshwane-metropolisiebeamptes is in kennis gestel dat hulle geskors kan word hangende ‘n ondersoek nadat hulle glo omkoopgeld van Yusuf Abramjee, hoof van die teenmisdaadveldtog Crime Line, geëis het.

‘n Lokval is glo vir die beamptes gestel. Die twee beamptes moes ‘n spoedkamera in Centurion beman. Hulle was nie veronderstel om motoriste van die pad af te trek nie maar slegs met die kamera spoedoortreders af te neem en boetes dan later per pos uit te reik.

Volgens ‘n woordvoerder van die Tshwane-metropolisie het Abramjee Maandag die owerhede in kennis gestel dat die twee beamptes hom van die pad af getrek het en omkoopgeld geëis het. Hy het geweier om te betaal en die beamptes het hom laat gaan.

“Die beamptes het egter motoriste van die pad af getrek en aan motoriste gesê hulle moet omkoopgeld betaal sodat hulle nie later ʼn boete ontvang nie,” het die woordvoerder aan Sapa gesê.

Hulle het R200 gevra.

Die twee beamptes is onmiddellik in hegtenis geneem. Daar is R1 200 by een van die beamptes gevind en R710 by die ander beampte. Hulle kon nie rekenskap gee van die geld nie, vermoedelik omdat dit omkoopgeld was.

Die twee beamptes het intussen kennisgewings van skorsing ontvang.

Hulle sal sewe dae hê om daarop te antwoord voor ʼn besluit geneem sal word oor of hulle geskors moet word.

Fotograaf wat omkopery afneem glo aangerand

Chinese winkels doen fluks sake
Chinese winkels kla oor polisie omkoopgeld vra

’n Fotograaf van die Daily Sun is Saterdag in hegtenis geneem en aangerand nadat hy foto’s van polisiebeamptes wat omkoopgeld van Chinese winkeleienaars aanvaar, probeer neem het.

Volgens Reggy Moalusi, die adjunkredakteur, is die fotograaf, Ricky Dire na bewering in Rustenburg, Noordwes deur die polisie aangerand, het die koerant Maandag berig.

Die winkeleienaars het Dire gekontak om te kla dat die polisie hulle afdreig vir omkoopgeld.

Moalusi het gesê hulle het regsverteenwoordigers gekry om tussenbeide te tree, en die fotograaf is vyf ure later vrygelaat. Die polisie het glo ook gedreig om Dire tot Maandagoggend toe te sluit.

Volgens Moalusi is Dire se selfoon gekonfiskeer en die foto’s is uitgevee.

Volgens ‘n polisiewoordvoerder, het die beamptes klagtes van intimidasie, crimen injuria en verset teen inhegtenisneming teen Dire aanhangig gemaak. Sy het ook gesê die fotograaf was onder die invloed van drank.

“Hy is in hegtenis geneem omdat hy die polisie beledig het. Toe hulle hom in hegtenis wou neem, het hy hom daarteen verset,” het sy gesê.

Molale sê die polisie is nie bewus van die bewerings oor omkoopgeld nie.

Jackie Selebi vry en doen inkopies in Pretoria

Jackie Selebi in die hof
Jackie Selebi in die hof

Die voormalige polisiehoof en veroordeelde misdadiger Jackie Selebi, wat in 2012 op mediese parool vrygelaat is weens sy ernstige siektetoestand, is afgeneem waar hy in Pretoria inkopies doen, berig Beeld Maandag.

Hy is in sy luukse BMW-6-reeks deur ‘n chauffeur na ‘n winkelsentrum in Monumentpark toe aangery om die Sondagkoerante te gaan koop.

Selebi het met ‘n paar inkopiegangers gepraat alvorens hy sy koerant gekoop het.

Hy het sonder enige hulp geloop en, volgens Beeld, het hy heel gesond gelyk.

Toe verslaggewers hom ‘n paar ure later bel om oor sy gesondheid uit te vra, het hy gesê hy voel bietjie beter en hoop dat sy toestand verder sal verbeter.

Selebi sê dat sy siekte hom tuis laat bly en hom nie toelaat om te bestuur nie.

DIe mediese paroolraad het op 20 Julie 2012 besluit dat Selebi vrygelaat kon word aangesien hy aan onomkeerbare nierversaking, hoë bloeddruk en suikersiekte ly.

Sy skielike verval in swak gesondheid het onafhanklike dokters verbaas, wat gesê het dat nierversaking normaalweg ‘n siekte is wat stadig vererger.

Ten tye van sy vrylating op mediese parool, het die minister van korrektiewe dienste, Sibusiso Ndebele, gesê dat Selebi huis toe gestuur word omdat sy departement oor beperkte middele beskik om na terminaal ongestelde pasiënte om te sien.

Selebi is op 3 Augustus 2010 tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis omdat hy omkoopgeld van die veroordeelde dwelmhandelaar Glenn Agliotti aanvaar het.

Toe sy laaste appèl in Desember 2011 van die hand gewys word, het hy by sy huis inmekaar gesak.

Die gemaklike manier waarop Selebi mediese parool ontvang het, staan in kontras met die aansoeke van Clive Derby-Lewis om parool. Die voormalige LV van die Konserwatiewe Party, wat reeds 20 jaar gevangenisstraf uitgedien het, is reeds vir sowel mediese as gewone parool deur amptenare van die departement van korrektiewe dienste aanbeveel. Sy vrylating word egter deur dieselfde minister wat Selebi vrygelaat het, teruggehou.

– Sapa en praag