
’n Fotograaf van die Daily Sun is Saterdag in hegtenis geneem en aangerand nadat hy foto’s van polisiebeamptes wat omkoopgeld van Chinese winkeleienaars aanvaar, probeer neem het.
Volgens Reggy Moalusi, die adjunkredakteur, is die fotograaf, Ricky Dire na bewering in Rustenburg, Noordwes deur die polisie aangerand, het die koerant Maandag berig.
Die winkeleienaars het Dire gekontak om te kla dat die polisie hulle afdreig vir omkoopgeld.
Moalusi het gesê hulle het regsverteenwoordigers gekry om tussenbeide te tree, en die fotograaf is vyf ure later vrygelaat. Die polisie het glo ook gedreig om Dire tot Maandagoggend toe te sluit.
Volgens Moalusi is Dire se selfoon gekonfiskeer en die foto’s is uitgevee.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder, het die beamptes klagtes van intimidasie, crimen injuria en verset teen inhegtenisneming teen Dire aanhangig gemaak. Sy het ook gesê die fotograaf was onder die invloed van drank.
“Hy is in hegtenis geneem omdat hy die polisie beledig het. Toe hulle hom in hegtenis wou neem, het hy hom daarteen verset,” het sy gesê.
Molale sê die polisie is nie bewus van die bewerings oor omkoopgeld nie.
