Christoff Becker, een van die sogenaamde Waterkloof-vier, is Dinsdag op parool vrygelaat.
‘n Woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het gesê Becker is vrygelaat na ‘n bevel van die hooggeregshof in Pretoria.
Sy prokureurs het vroeër dié maand ‘n dringende aansoek om parool in die hooggeregshof gebring. Dit is toegestaan.
Die vier seuns van Waterkloofhoërskool, naamlik Becker, Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt, het glo op 1 Desember 2001 ‘n hawelose swarte in Moreletapark, Pretoria, aangerand.
Hulle is in Junie 2005 skuldig bevind aan moord.
Die slagoffer is nooit uitgeken nie. Die vier is op 11 Februarie 2014 vrygelaat ná vyf en ʼn half jaar van die 12 jaar tronkstraf wat hulle opgelê is.
Becker en Du Preez se parool is egter teruggetrek nadat ʼn selfoonvideo aan die lig gekom het wat glo wys hoe hulle partytjie hou in die tronk. Hulle is op 28 Februarie weer teruggestuur tronk toe.
Becker is later na Kokstad oorgeplaas nadat ’n selfoon glo by hom gekry is. Du Preez kan eers weer in Januarie 2015 vir parool oorweeg kan word.
Belgiese polisie het gister ’n woonstel in Gent, België, omsingel waar vier gewapende mans ’n gyselaar aangehou het.
Daar was geen aanvanklike aanduidings dat terrorisme ’n rol gespeel het nie, het AFP berig.
‘n Groot polisie-operasie was gisteroggend in die werkersklas woonbuurt waar die woonstel geleë is, van stapel gestuur om omstanders van die toneel weg te hou.
Belgiese media het berig dat ’n gyselaarsdrama twee maande gelede ook in Gent afgespeel het. Die voorval was met afpersing verbind.
Die EFF se top ses leiers sal tydens die verkiesingkonferensie wat tans by die Universiteit van die Vrystaat gehou word, aangewys word.
Floyd Shivambu, hoofsweep van die EFF, het universiteit geprys vir sy onpartydigheid omdat hy die EFF geakkommodeer het.
“Dit is ‘n dapper instelling met ‘n sterk leierskap,” het hy met verwysing na Jonathan Jansen gesê.
Die Vaal Universiteit van Tegnologie wou nie verlof gee aan die EFF om sy konferensie daar te hou nie, selfs nadat hulle die saal bespreek en betaal het.
Julius Malema, leier van die party het gesê “die regse partye, soos die DA”, het ‘n plafon bereik en sal nie nog swart stemme lok nie. Hy het bewerings, dat die EFF in die parlement deur die Demokratiese Alliansie gebruik word, verwerp. “Ons werk net saam oor bestaande kwessies.”
Die DA het hulself reeds verbind tot ‘n Trotskistiese ideologie van “struggle”, soortgelyk aan dié van die EFF.
Die EFF is vol vertroue oor sy prestasie in die 2016 plaaslike verkiesing en het Sondag die ANC gewaarsku dat sy oorheersing bedreig word.
“Om die waarheid te sê, ons raai die regerende party in Tshwane, Ekurhuleni en Nelson Mandela Bay aan om hul tassies te begin pak,” het Malema aan afgevaardigdes gesê in Bloemfontein.
Hy het egter voorspel dat geen party al die metropolitaanse munisipaliteite sal wen nie. “Die plaaslikeregeringsverkiesings gaan dissipline van die EFF vereis.
Malema het gesê die toekoms van Suid-Afrika is helder en die party kan die land vorentoe vat. “Ons was op die spits van die berg en het die toekoms gesien,” het hy gesê. “Die toekoms lyk baie helder. Suid-Afrika sal ekonomiese emansipasie bereik danksy die EFF.” Hy meen die EFF is die enigste organisasie wat die land kan bevry.
Hy het egter gemaan dat die land ‘n leierskapkrisis beleef en het verwys na werkloosheid, dienslewering en opvoeding. “Ons is in ʼn krisis omdat die 8 miljoen mense werk soek, en dit nie kan kry nie,” het hy gesê.
‘n Stigter van die Friends of Jacob Zuma-trust is voorsitter en mede-eienaar van ‘n maatskappy wat vlootkontrakte ter waarde van R406 miljoen ontvang het, berig die Sunday Times.
Don Mkhwanazi het ontken dat sy verbintenis aan die president gehelp het met die toeken van kontrakte aan ‘n maatskappy waarvan hy 48% se aandele besit.
“Die president ken nie tenders toe nie,” het Mkhwanazi skriftelik aan die Sunday Times gesê. “Enige verhouding met die president kan nie gekoppel word aan enige kontrakte wat deur ʼn openbare tenderproses toegeken is nie.”
Die koerant berig dat die departement van verdediging skipinstandhouding en -herstelwerk uitgekontrakteer het aan Southern African Shipyards, die privaatmaatskappy waarvan Mkhwanazi mede-eienaar is.
Die maatskappy het glo die afgelope drie jaar reeds ses multi-miljoen rand se kontrakte ontvang.
Transnet het in Augustus ook ‘n kontrak ter waarde van R1.4 miljard aan Southern African Shipyards toegeken vir sleepbote.
Mkhwanazi, wat al sedert 2006 ʼn aandeelhouer in Shipyards is, was tussen 2010 en 2012 ‘n direkteur by Transnet. Hy het gesê die sleepboot-kontrak is aan die maatskappy toegeken twee en ʼn half jaar nadat sy termyn as direkteur van Transnet verstryk het.
Slegs een van die vier frigatte en een van die drie duikbote wat tydens die land se wapentransaksie gekoop is, steeds operasioneel is.
Die regering het in 1999 onder meer 26 Gripen-vegvliegtuie vir die lugmag en frigatte en duikbote vir die vloot aangekoop onder ‘n wolk van korrupsie.
Die ANC ontken dat drie koerante gestraf word vir hul aanvalle teen President Jacob Zuma, het ANC-woordvoerder Zizi Kodwa gesê.
“Die bewering is verkeerd en kwaadwillig. Dit dui daarop dat die regering nie soberheidsmaatreëls kan oorweeg betreffende media-aankope nie,” het Kodwa gesê en bygevoeg: “Die regering het ‘n reg om kostes te sny waar hulle kan.”
Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat die regering van plan is om ‘n plan te implementeer om die Sunday Times, Mail & Guardian, en City Press van reklame-inkomste ter waarde van miljoene rande te ontneem.
‘n Naamlose amptenaar het die drie koerante uitgesonder wat ‘n “anti-ANC en anti-regeringsaanslag” op die “demokratiese staat” dryf, het Sapa berig.
Die koerant het berig dat die grootste begunstigde van die besluit Independent Media sal wees, wat onder die eienaarskap van Iqbal Survé sal voordeel trek uit die besluit.
Kodwa gesê soberheidsmaatreëls is gedurende Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies se ampstermyn aangekondig.
Hy het gesê die regering het onderneem om verkwistende uitgawes te sny en minder op nie-noodsaaklikhede uit te gee.
“Dit het lank gelede begin. Die bewering kan nie nou gemaak word nie.”
Kodwa het gesê die aantyging dat die drie koerante gestraf word, is vals.
“Ons is ‘n demokrasie. Ons het selfs diegene ondersteun wat nie saamstem met ons nie. Dit is nie so dat dit as gevolg van straf is nie. Ons regering sal nooit so ‘n standpunt inneem nie,” het hy gesê.
“Maar die regering het ‘n reg om koste te sny in terme van waarde vir geld, nalv soberheidsmaatreëls. Daar is ook niks verkeerd as die regering sy mediakoopkrag konsolideer nie.”
Mejuffrou Suid-Afrika, Rolene Strauss het haar Mejuffrou Wêreld-kroon aan Suid-Afrika opgedra.
Die laaste keer wat ‘n Suid-Afrikaner die titel kon wen was in 1974 toe Anneline Kriel as Mej. Wêreld aangewys is.
Sy is Sondag in Londen as Mej. Wêreld gekroon is, het pres. Jacob Zuma gesê.
“Ons is baie trots dat een van ons eie hierdie gesogte titel kon insamel ná maandelange harde werk en toewyding,” het hy in ʼn verklaring gesê.
Rolene Strauss
“Me. Strauss het bewys dat Suid-Afrikaners oor die vermoë beskik om op wêreldverhoë te kan uitblink. Ons is vol vertroue dat sy die Suid-Afrikaanse vlag selfs nog hoër sal laat wapper terwyl sy haar nuwe verantwoordelikhede nakom. Namens alle Suid-Afrikaners wens ons haar hartlik geluk en alles van die beste vir hierdie nuwe rol.”
Strauss, ‘n mediese student van die Vrystaat, en boorling van Volksrust, het eerste prinses mej. Hongarye Edina Kulcsar en tweede prinses Mej. Amerika Elizabeth Safrit uitgestof om die kroon te dra.
Intussen stroom gelukwense in op sosiale media.
Die universiteit van die Vrystaat het op sy Facebookblad gesê: “Mej. Wêreld is ʼn Kovsie! Baie geluk aan Rolene Strauss dat jy die wêreld oorwin het. Ons is baie trots.”
Jonathan Jansen, rektor en vise-kansellier van die Universiteit van die Vrystaat het op Twitter gesê: “Hou op met huil! So ongelooflik trots op my student. Die Universiteit van die Vrystaat vier vanaand fees! Baie geluk Rolene. You lift us up.”
Die vierde-jaar mediese student het die derde Suid-Afrikaner geword wat dié titel inpalm.
Die vorige wenners was Penny Coelen in 1958 en Kriel in 1974.
Straus was beroepswedders se gunsteling om met die titel weg te stap.
‘n Gyselaarsdrama ontvou tans in Sydney, Australië. Volgens praag se plaaslike verteenwoordiger in die stad, het “‘n vrou, vermoedelik ‘n polisievrou wat nie aan diens was nie, ‘n geweerkolf opgemerk in die rugsak van ‘n man wat die Lindt-sjokoladewinkel in Martin Place binnegegaan het ongeveer 9:45 vanoggend. Sy het dadelik alarm gemaak. Volgens die Lindt-baas is daar 50 mense, hoofsaaklik koffiekopers, in die winkel en hulle is beveel om teen die venster te staan met hulle hande teen die venster. Al-Noesra se vlag is bo hulle koppe vertoon. Die Federale polisie van Nieu-Suid-Wallis het die gebied ontruim en dit wemel van swaar gewapende polisie.”
Taakmag- en onluspolisie buite die kafee in Sydney
Al-Noesra is ‘n Midde-Oosterse terreurgroep wat in Sirië en Libanon aktief is, veral in die Siriese burgeroorlog wat deels deur die VSA en VK gesteun word in ‘n poging om die bewind van president Basjar al-Assad omver te werp.
Die polisiekommissaris van Nieu-Suid-Wallis, Andrew Scipione, sê dat die owerheid nog nie regstreeks met die gyselaarnemer in verbinding was nie. Tot dusver duur die gyselaarsdrama reeds vier ure lank.
Volgens die plaaslike CNN-verwante televisienetwerk, Seven Network, word ten minste 13 mense in die Lindt-sjokoladekafee aangehou. Die netwerk het ook ‘n foto van die mense binne-in die kafee gepubliseer wat ‘n swart vlag met Arabiese skrif vashou. Op die vlag staan daar: “Daar is geen God behalwe God nie en Mohammed is die profeet van God.”
Videomateriaal toon mense, vermoedelik gyselaars, wat met hul hande teen die vensters druk.
Die Australiese eerste minister Tony Abbott het aan verslaggewers gesê dat die owerheid nog nie weet wat die persoon motiveer wat vir die toestand verantwoordelik is nie.
“Ons weet nie of dit polities gemotiveer is nie, hoewel daar ooglopend sekere aanduidings is dat dit wel die geval kan wees,” het hy gesê.
Die eerste minister het bygevoeg: “Die hele punt van polities gemotiveerde geweld is om mense te terroriseer om nie hulself te wees nie. Australië is ‘n vreedsame, oop en vrygewige samelewing. Niks moet dit ooit verander nie.”
Hy sê dat meer inligting vrygestel sal word sodra dit beskikbaar raak.
Twee Amerikaanse amptenare is ook reeds oor die voorval in kennis gestel. Daar is ten minste een gewapende verdagte betrokke en tot dusver is sy motief nie bekend nie, volgens hulle. Die Amerikaanse president, Barack Obama, is ook oor die situasie in kennis gestel.
Die kafee is geleë te Martinplein in Sydney se sentrale sakegedeelte.
Video-opnames toon polisie- en noodpersoneel op die toneel, terwyl ‘n aantal strate reeds afgesper is.
Die Martinpleinstasie is reeds toegemaak en sekere kantore is as ‘n voorsorgmaatreël ontruim, volgens die polisie. Hulle raai mense aan om van die toneel weg te bly.
‘n Redakteur van die koerant, The Australian, was self vanoggend in die kafee. Hy het kort voor die beleg vertrek.
“Toe die polisie aanstorm en die gebied ontruim, het ek omgedraai en ‘n man teen die venster gesien, met sy gesig na my toe en my sy hande in die lug.
“Eers het ek gedink dit was die gewapende man wat op die polisie reageer – maar het binnekort tot die aaklige besef gekom dat die kliënte aangesê word om teen die vensters te staan,” skryf Kenny in die koerant.
“Terreur het die hart van Sydney binnegedring,” sê hy.
Dit lyk asof nie kleurrewolusie in Hongkong nie die pyp gaan rook nie.
Hongkongse polisie het Donderdag begin om die toneel van die stad se sogenaamde “pro-demokrasie betogings” op te ruim.
Tente en versperrings is verwyder na twee maande se siviele ongehoorsaamheid en politieke opmarste en vergaderings die middestad van Hongkong lam gelê het.
Die meeste militante betogers het beloof om nie die stryd gewonne te gee nie.
China het intussen gemaan dat hulle nie morele lesse van Angelsaksers, die borge van die opstand, sal aanvaar nie.
‘n Paar dosyn betogers was Donderdag al wat oorgebly het van die tienduisende wat met die hoogtepunt van die betogings in die Admirality-distrik van die stad byeengekom het.
Die Palestynse owerheid het Israel blameer vir die skielike dood van ‘n Palestynse kabinetsminister.
Israel het sy troepe in die Wes-Oewer intussen vermeerder en die minister van verdediging, Moshe Yaalon, het verskoning vir die dood aangebied.
Volgens die Palestyne toon die voorlopige lykskouing – wat betwis word deur Israeliese patoloë – dat hy gesterf het tydens ‘n gewelddadige konfrontasie met Israeliese troepe.
Nagenoeg 30 Israelse soldate en grenspolisie het Woensdag traangas en skokgranate op omtrent 100 betogers in die dorp, Turmusiya noord van Ramallah, afgevuur wat teen Joodse besettings geprotesteer het deur olyfbome te plant.
‘n Gestampery het uitgebreek en ‘n grenspolisieman het die 55-jarige Palestynse minister, Ziad Abu Ein, gestamp en ferm met een hand om die nek gegryp.
Minute later het die minister swak begin voel, op die grond neergeval en sy bors vasgegryp. Hy het onderweg na die hospitaal beswyk.
Die voorval het plaasgevind midde verhoogte spanning tussen Israel en Palestyne ná maande se gewelddadige onluste in Jerusalem, Tel Aviv en die Israelies-besette Wes-Oewer.
‘n Palestyne amptenaar het aan Reuters gesê dokters van Jordanië en Palestina wat by die nadoodse ondersoek betrokke was, het bevind dat Abu Ein dood is “nadat hy geslaan is, traangas ingeasem het en mediese bystand vertraag is.”
‘n Israelse mediese bron met kennis van die nadoodse ondersoek, het egter aan Reuters gesê die minister is dood ná ‘n hartaanval en dat hy voorheen aan sy hart gely het.
Die Palestynse president, Mahmoud Abbas, het die voorval as “barbaars” bestempel en gesê topleiers sal na afloop van Abu Ein se begrafnis, met volle militêre eer Donderdagmiddag, hul reaksie oorweeg.