Mejuffrou Suid-Afrika, Rolene Strauss het haar Mejuffrou Wêreld-kroon aan Suid-Afrika opgedra.
Die laaste keer wat ‘n Suid-Afrikaner die titel kon wen was in 1974 toe Anneline Kriel as Mej. Wêreld aangewys is.
Sy is Sondag in Londen as Mej. Wêreld gekroon is, het pres. Jacob Zuma gesê.
“Ons is baie trots dat een van ons eie hierdie gesogte titel kon insamel ná maandelange harde werk en toewyding,” het hy in ʼn verklaring gesê.

“Me. Strauss het bewys dat Suid-Afrikaners oor die vermoë beskik om op wêreldverhoë te kan uitblink. Ons is vol vertroue dat sy die Suid-Afrikaanse vlag selfs nog hoër sal laat wapper terwyl sy haar nuwe verantwoordelikhede nakom. Namens alle Suid-Afrikaners wens ons haar hartlik geluk en alles van die beste vir hierdie nuwe rol.”
Strauss, ‘n mediese student van die Vrystaat, en boorling van Volksrust, het eerste prinses mej. Hongarye Edina Kulcsar en tweede prinses Mej. Amerika Elizabeth Safrit uitgestof om die kroon te dra.
Intussen stroom gelukwense in op sosiale media.
Die universiteit van die Vrystaat het op sy Facebookblad gesê: “Mej. Wêreld is ʼn Kovsie! Baie geluk aan Rolene Strauss dat jy die wêreld oorwin het. Ons is baie trots.”
Jonathan Jansen, rektor en vise-kansellier van die Universiteit van die Vrystaat het op Twitter gesê: “Hou op met huil! So ongelooflik trots op my student. Die Universiteit van die Vrystaat vier vanaand fees! Baie geluk Rolene. You lift us up.”
Die vierde-jaar mediese student het die derde Suid-Afrikaner geword wat dié titel inpalm.
Die vorige wenners was Penny Coelen in 1958 en Kriel in 1974.
Straus was beroepswedders se gunsteling om met die titel weg te stap.
