Fidel Castro se stryd teen die VSA in Afrika

fidelDeur Madelein Jacobs

Onlangs was Fidel se broer Raul Castro in Suid-Afrika vir die begrafnis van Mandela. Hier het President Obama sy blad geskud.

VSA President John F Kennedy sou dieselfde gedoen het. JFK het op 23 Oktober 1963 gese:

“… there is no country in the world including any and all the countries under colonial domination, where economic colonization, humiliation and exploitation were worse than in Cuba, in part owing to my country’s policies during the Batista regime. I approved the proclamation which Fidel Castro made in the Sierra Maestra, when he justifiably called for justice and especially yearned to rid Cuba of corruption. I will even go further: to some extent it is as though Batista was the incarnation of a number of sins on the part of the United States. Now we shall have to pay for those sins.”

Vir lesers wat nie weet nie: Amerika, Amerikaners en Amerikaanse maatskappye het hul Kubaanse buurland, ekonomie en bevolking, insluitend vrouens en jong meisies, verkrag en misbruik tydens die Batista-bewind.

Soos President John F. Kennedy laat blyk het: Amerikaanse besigheidbeleid jeens Kuba, het die Afrikanerbewind se apartheidsbeleide in Afrika en Suid-Afrika mede-menslik en Christelik laat lyk.

As mens die ANC moet glo, het Fidel, Raul en hulle rewolusionere Kuba ‘n deurslaggewende rol in die “bevryding” van Suid-Afrika gespeel. U, liewe leser, moet die ANC glo.

Die Afrikaner-Republiek het ophou bestaan weens die sondes van die VSA in Kuba.

Kuba is ‘n relatief klein buur-eilandjie van die VSA. Kuba behoort geografies tot Suid-Amerika, die VSA se agterplaas. Kuba is soos Rusland, baie ver gelee vanaf Suid-Afrika.

Gedurende 1959, net na die Kubaanse Rewolusie, het die verregse wit Amerikaner, Francis Parker Yockey, Kuba besoek. Yockey het linkse staatsleiers soos Fidel Castro geadviseer om met Rusland saam te werk, en om die VSA-Weste se globale imperiale mag op sy swakste plek, dit is in Afrika te verminder.

Fidel Castro het die politieke wette soos uiteengesit in Yockey se boek, Imperium, ter harte geneem, en die geweldige groot magsvakuumgeleentheid in Angola in 1975 met beide hande aangegryp. Fidel het vas geglo, of Kuba vul die magsvakuum van 1975 in Luanda, Angola, of die VSA doen dit deur middel van sy streekslakei, Suid-Afrika.

Sou die SAW Luanda in 1975 bereik het, sou die geskiedenis heeltemaal anders verloop het vir Afrikaners. Suid-Afrika sou ‘n bestendige imperiale supermoondheid geword het, en vir Fidel het dit beteken dat die VSA-Weste se wereldmag nog groter sou geword het.

Fidel Castro het die SAW se besetting van Luanda in 1975 gestuit, en so Suid-Afrika verhoed om die magsvakuum in strategiese Angola te vul. Dit het deterministies gelei tot die einde van die Afrikanerstaat binne minder as 2 dekades. Alles wat na 1975 met die Afrikanerstaat se geopolitieke mag gebeur het, was die gevolg van Fidel Castro se strategie in Angola.

Tot en met 1987, het Fidel vas geglo dat Suid-Afrika Luanda en Angola moet beset om polities te oorleef. Fidel Castro was reg. Fidel se geopolitieke analise van Angola was korrek. So ook China se analise van Angola, in 1975, sowel as in die 21ste eeu.

President Zuma besef ook die belang van Angola. Hy het gedurende 2013 hard gewerk om Angola tussen die DRK en Suid-Afrika deur middel van Inga III te integreer. Die VSA is bewus daarvan, en het nou uit die bloute aangebied om die helfte van die koste van Inga III te finansier.

Die globale geopolieke spel vorder onverpoos, maar sonder Afrikaners, wat ter versagting darem instinktief twee keer probeer het om beheer oor Luanda en Angola te verkry. Beide kere het een leier, Fidel Castro, die politieke insig en wilskrag van die hele Afrikanerkabinet geklop.

Was Fidel Castro ‘n Afrikanerleier, sou Suid-Afrika ‘n supermoondheid gewees het.

Geopolities gesien, het President Zuma meer insig as alle oorlede en lewende Afrikanerintellektuele saam. Dog Zuma se onlangse suksesse in Suider-Afrika hang ten nouste af van Afrikaner-Rooivalke, hulle vlieniers, en logistieke ondersteuning, waaronder Russiese vervoerstelsels.

Al is die Afrikanerstaat totaal vernietig beginnende in Angola, kan Afrikaners vandag nog steeds ‘n bydrae maak tot die globale politieke magspel.

U hoef nie as u nie wil nie, maar sommiges sal en doen dit reeds. Vir maksimum effektiwiteit in die geskiedenis, is die aangewese weg om Fidel Castro se geopolitieke insig in Angola te volg.

Lees Fidel Castro se mening oor die stryd in Angola, Mandela en apartheid hier.

Is Afrikaans ‘n blote toevalligheid? – ope brief aan Palesa Morudu

'n Gedeelte van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl
‘n Gedeelte van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl

deur Willem de Jager

Mooi woorde, Palesa, in vandag se Rapport, waarin jy skryf:

Sedert Nelson Mandela se dood deur sy geheel en al onwaardige opvolger aangekondig is, het wit en swart, jonk en oud gesing, gedans, geboe, gestry en gebid oor wat sy nalatenskap beteken.

Die eg Suid-Afrikaanse viering van sy lewe weerspieël dit waarvoor hy sy hele volwasse lewe geveg het.

Op 22 Julie 1985, skaars 48 uur nadat PW Botha ’n noodtoestand afgekondig het, het Oliver Tambo, destydse ANC-president, miljoene Suid-Afrikaners gevra om “die land onregeerbaar en apartheid onwerkbaar te maak”.

Dit is goed ontvang in die townships, waar ons klippe na die polisie en weermag gegooi het en die tronke en strate met ’n vasberade verset gevul het.

’n Paar jaar later is apartheid vervang deur ’n staat wat ons drome beliggaam het vir ’n nie-rassige, nie-seksistiese toekoms.

Graag wil ek jou komplimenteer op jou aanwending van die ironie: Jy volg jou ode aan nie-rassigheid pragtig op met ‘n paragraaf oor die tragiese lot van *swart* mense (20 jaar later) in hierdie “wonderlike… demokrasie” wat julle gebou het. Ek se “julle” in antwoord op jou “ons” wat julle in die strate verset het teen apartheid. Ironies genoeg “suffer” die nuwe *swart* middelklas steeds/weer volgens jou. Ai.

palesa_morudu
Palesa Morudu wat gewoonlik rubrieke in die Business Day publiseer, word deur Rapport as ‘n ‘Kaapse skrywer’ beskryf.

Voorts wil ek vir jou en Rapport beide komplimenteer op julle pragtige Afrikaans. Julle slaag werklik daarin om ‘n etniese niemandsland vir ons op te tower waarin Afrikaans ‘n blote toevalligheid is. Net jammer dit weerspieël geen werklike situasie nie, soos jou artikel. Ons het nou reeds gesien dat omgekeerde apartheid sowel as die illusie dat ras/ etnisiteit ‘n banale onbenulligheid is, nie die oplossing is nie. Is dit heeltemal onmoontlik dat ons realisties na ons diversiteit kan kyk en daarvolgens aan oplossings dink? Ek verstaan dat die ras-taboe ons vermoë om rasioneel te dink beïvloed maar ons kan ten minste probeer.

Die kern van jou boodskap is weinig anders as wat dit dit ten tye van Britse oorname meer as honderd jaar terug was: Die skep van ‘n “Suid Afrikaanse” identiteit is steeds die refrein. 50 miljoen gewillige min-of-meer Suid-Afrikaners maak inderdaad ekonomies sin. Maar net vir ‘n paar groot varke wat geen god ken nie, behalwe Mammon.

‘n Kultuuroorlog breek uit in VSA

duckdynasty
Phil Robertson met gevoude arms

Dinge tussen die Republikeine en Demokrate wat ras betref lyk al sedert die inhuldiging van die VSA se eerste swart president nie te waffers nie. Daar heers ‘n ongemaklikheid en ‘n gemor oor gesondheidswetgewing, die skuldplafon en ‘n anti-wit klimaat wat posgevat het.

Republikeine sal aanstons weens immigrasie nie meer ‘n pro-wit-beleid openlik kan voer nie en die rassekwessie prut deurentyd onder die oppervlak.

Maar nou het ‘n volskaalse kultuuroorlog uitgebreek oor ‘n gewilde TV-reeks wat die ou Noord-Suid verdeling soos tydens die Amerikaanse burgeroorlog teen mekaar opgestel het.

Mededingende faksies het die Grand Canyon van Amerika se politieke kloof oopgemaak met ‘n nasionale gesprek oor Duck Dynasty, waarvan die rolspelers baie op helde uit die Confederacy, die pro-wit Suide, lyk.

Duck Dynasty is ‘n Amerikaanse realiteitsreeks op A & E.

Dit wys die lewens van die Robertson-gesin, wat ryk geword het uit hul familie-saak, Duck Commander, wat hulle uit Wes-Monroe, Michigan, bedryf.

Die Robertsons maak produkte vir eendjagters, veral die eendfluit. Die Robertson-broers Phil, Si, en Phil se seuns Jase, Willie , en JEP , is bekend vir hul lang baarde en hulle Christelike standpunte.

Die besigheid het in ‘n skuur begin, waar Phil Robertson 25 jaar lank eendfluite uit Louisiana se sederhout vervaardig.

Sy seun Willie is nou die hoof-uitvoerende beampte van die maatskappy en hul daaglikse doen en late word uitgesaai op die realiteitsreeks.

Die reeks het al verskeie gewildheidsrekords op beide A & E en kabeltelevisie as ‘n geheel gebreek, met die vierde seisoen se première wat ‘n ongelooflike 11.800.000 kykers gelok het.

Dit is loshande die gewildste reeks in die geskiedenis, maar op 18 Desember 2013 het A & E aangekondig dat hy Phil Robertson onbepaald gaan skors as gevolg van anti-gay kommentaar wat hy gemaak in ‘n GQ-onderhoud.

En boonop het Robertson die Bybel as bewys gebruik en hy weier botweg om verskoning te maak vir sy vergelyking dat gay-wees iets met bestialiteit in gemeen het. Dit is genoeg van ‘n rooi vlag vir “progressiewes” in die VSA om rasend te raak van veroordeling en ‘n nuwe anti-wit koors.

Duidelik het diesulkes uiteindelik ‘n rede gevind om die gewildheid wat regse idees in Amerika het, met vars ywer te beveg.

Robertson het in die onderhoud gesê: “Alles vervaag oor wat reg en wat verkeerd is… Sonde word aanvaarbaar. Dit begin met homoseksuele gedrag en beklad net alles… Bestialiteit, rondslaap met hierdie vrou en daardie vrou en dan daardie mans.”

Dit was waarskynlik net ‘n kwessie van tyd voordat die ster sy idees in die openbaar sou weergee om te bots met die “progressiewe houdings”, lees totalitêre en onverdraagsame vooroordele, van Amerika se Hoofstroomnuusnazi’s.

 

Mandela-gedenkdiens in Soweto: ten minste laat ons die wêreld lag

Op die pawiljoene het mense hul eie partytjie gehou want die klank was ingestel vir die TV-kameras, nie die gehoor nie
Op die pawiljoene het mense hul eie partytjie gehou want die klank was ingestel vir die TV-kameras, nie die gehoor nie

deur Alet Bredenkamp

Ek en Chris het Dinsdag Madiba se gedenkdiens by die ENB-stadion in Soweto gaan bywoon.

Dit was n baie interessante ervaring. Chris het my 04:00 (in Pretoria) kom oplaai, sodat ons die 05:00 gratis bus kan kry na Gold Reef City, om 06:00 by die stadion te kan wees sodra die hekke oopmaak. Onthou, ons het gedink die hele Soweto staan tou buite die hekke, so ons kans om in te kom, is maar skraal.

Teen 05:30 was daar (by Gold Reef City); nog geen teken van n bus nie, net toue mense wat al hoe langer word. Toe begin ek en Chris stap stadion toe, nadat ons n swart meisie omgepraat het om saam te stap en ons die pad te wys. Ons loop toe die string busse raak by ‘n robot so ‘n ent van Gold Reef City af, en die swart meisie oortuig die swart busbestuurder om ons almal op te laai. Om 05:40 stop die busse toe by Gold Reef City en van die ander mense word opgelaai.

Op die bus sing en juig die mense. Ons hou partytjie! Duidelik is ‘n begrafnis ‘n fees. Dis ‘n heerlike atmosfeer wat heers.

By die stadion aangekom, gaan staan ons almal buite hekke H. Sesuur word halfsewe. Geen mens kom die hekke oopmaak nie. Iemand vertel die hekke aan die ander kant van die stadion is oop, en die stadion word vol. Dit begin reën. Ons hardloop om die stadion, maar daardie hekke is ook toe en die mense daar is kwaai oor hulle plek in die tou. Toe skree iemand ons hek het oopgemaak. Ons hardloop terug, hardloop in en beland voor die enigste rolhek wat oop is. Die toue is LANK. Die mense sing, maar ‘n swart vrou skel ‘n swart man wat deur die kantreling probeer klim om in die tou te kom. Die swart vrou agter haar rol haar oë, pluk my aan die arm en beduie ek moet voor háár kom inklim, sy maak vir my plek. Ek klim in, en die gawe vrou sê ek moet dat Chris nou weer by my moet inklim. Ubuntu is ‘n gawe ding. Ons skiet soos springhase deur die rolhek sodat almal kan inkom. Behalwe die kwaai vrou – sy sit vas in die hek en vertraag die proses met ‘n halfminuut.

NIEMAND kyk wat is in ons rugsakke en ander sakke nie. Daar is geen beduidenis van sekuriteit nie. Ons gaan binne meters van minstens sewentig wêreldleiers wees.Vreemd.

Baie bly om binne die stadion te wees, gaan ons in. Slim Chris kies vir ons sitplekke in die heel voorste ry, so na as moontlik aan die sprekers-podium. Dit beteken ons reën nat, maar wat, die reën gaan nou-nou ophou. Dis Suid-Afrika dié.

Die massas mense het nooit opgedaag nie

Die rëen het nie opgehou nie. Nooit nie. Die massas mense het ook nie gekom nie. Teen 11:00 was die stadion nog nie eens halfpad vol nie, deels omdat min van die beloofde busse geloop het. Agterna het ons gehoor dat baie busbestuurders nie gewerk het nie, uit respek vir Mandela! Regoor Gauteng het mense gesukkel om by hulle werke te kom, omdat die busbestuurders op hul eie manier respek betoon het. Hierdie land is snaaks, wrintiewaar.

Ons reën nat en word tandeklap-koud. Die mense sing en dans. Dis tienuur, maar elfuur sal alles darem begin. Ons hou uit. Elfuur kom en gaan. Halftwaalf … Kwart voor twaalf … dit reën. Twaalfuur begin die program eers, maar o wee, die mense op die pawiljoene kan niks hoor wat die sprekers sê nie. Die klanksisteem is nooit ingestel vir hulle nie, net vir die TV-kameras. So die mense hou aan sing en hul eie partytjie hou.

Die groot skerms wys Madiba se beeld, maar so af en toe wys die kameras belangrike mense wat instap. Almal van hulle het sambrele en dik jasse, en lyk droog. Ons is nat en koud. Die skare juig vir FW de Klerk, vir Winnie Mandela en vir Mbeki; baie vir laasgenoemde. Zuma se gesig verskyn. Almal boe. Verbaas kyk ek en Chris na mekaar. Kan dit waar wees? Dit gebeur weer en weer. Wanneer Zuma se gesig verskyn, boe die skare met oorgawe, en skree: Mbeki! Mbeki! Ons land lyk toe bietjie anders as wat ons gedink het…

Obama was die enigste na wie se toespraak 'n mens kon luister
Obama was die enigste na wie se toespraak ‘n mens kon luister

Toesprake is verstommend vervelig

Die “interfaith prayer” is ‘n ramp. Die rabbi dog glo ‘n gebed is ‘n preekbeurt en spring weg met ‘n baie lang en omslagtige storie oor die Jode se geskiedenis wat begin by Josef en die uittog uit Egipte. Ek en Chris is van die min mense wat kan hoor wat die man sê en ons vind dit oogoorkruis vervelig. Die res van die mense dans hul eie danse.

Die sprekers volg die een na die ander. Almal is verstommend vervelig, en sê presies dieselfde goed oor en oor. “Madela was n groot man, hy was n voorbeeld vir ons, hy het geglo in vryheid en gelykheid. Hy was 27 jaar in die tronk. Hy was n groot man. Ons sal hom mis. Viva Mandela” (wat volgens Chris effe onvanpas is by n begrafnisdiens). Dis nou nadat die spreker eers die staatsleiers, die konings, president Zuma, ens, ens, ens welkom geheet het. Dan kom die volgende spreker op, heet weer elke belangrike persoon welkom, en sê dan weer dieselfde goed oor Madiba.

Die enigste vermaak vir die skare is wanneer die kamera rondswaai in die gehoor en Zuma raaksien. Dan boe die skare. Dit raak so erg dat die groot skerms afgesit word. Nou het die skare geen kontak meer met die verrigtinge nie. Ons klomp op die pawiljoene hou ons eie Madiba-gedenkdiens. Dis n heerlike atmosfeer wat heers tussen ons klomp nat hoenders. Ons het in elk geval n lekkerder tyd as die belangrike gaste. Wanneer die groot skerms weer aangaan en hulle wys, sit van hulle en gaap, van hulle gesels met mekaar en sommiges slaap sommer so skeef in die stoel. Pleks húlle natgereën het. Dan sou hulle wakker kon bly.

Of ja – die gebaretaaltolk. Ek het vir Chris gesê die man lyk eienaardig. Dit lyk of hy alles n halfminuut te stadig sê. Die TV-kamera neem hom ook eienaardig af. Die meeste van die tyd sien ons net die helfte van sy gesig en een arm. Ek kan g’n niks uitmaak wat hy beduie nie. Hy het ook so ‘n vet, ronde Sotho-gesig, sodat ek nie sy gesigsuitdrukking kan lees nie. Ná die tyd hoor ek dat die man g’n gebaretaaltolk was nie. Hy het brabbeltekens gesein. Die ANC het hom al vantevore gebruik, en toe ook baie klagtes oor hom gekry. Nou sê die ANC hulle het geen idee wie die man is en waar hy vandaan kom nie! Die polisie sê ook op RSG dat húlle geen idee het wie die man is nie. Dis nou die man wat ons land toegelaat het om n armlengte van Ban Ki Moen en Barack Obama af te staan! Dis beide skreeusnaaks en baie vernederend.

Laasgenoemde twee sprekers was die enigste wat die moeite werd was om na te luister. Obama is n baie goeie spreker. Hy is die enigste spreker vir wie die hele skare doodstil gesit en luister het.

Ná Obama se toespraak het ek en Chris geloop (soos ‘n groot deel van die skare). Buite was chaos. Niemand weet waar om die busse te kry nie, daar staan baie busse vol passasiers, maar sonder drywers … Ek en Chris begin toe weer stap Gold Reef City toe, en slim Chris sien n bus raak met n drywer aan boord. Ons spring op en beland maklik terug by ons motor. Later hoor ons op die radio dat die situasie buite die stadion besig is om handuit te ruk. Die radio-omroepster het later die buskoördineerder op die lug gekry en beveel om dringend busbestuurders te stuur. Die omroepster was so kwaad. Ek het, soos die omroepster, baie simpatie gehad met die oproerige skare, want ek weet hoe dit voel om agt ure lank nat te reën, vrieskoud te wees en en nie her- of derwaarts te weet nie.

Alles in ag genome, is ek baie bly ons het gegaan. Ek is werklik dankbaar oor wat Mandela gedoen het vir die land, en ek het n kans gehad om respek aan hom te gaan betoon. Dit was lekker om deel te wees van my land se singende, dansende, opstandige mense. Die sirkus op die verhoog het sy eie vermaaklikheidswaarde gehad. Ek sou wou hê dat my land beter moes vertoon in die buitewêreld, maar nou ja.

Ten minste laat ons die wêreld lag.

Wanneer is terreur geregverdig?

thaiprotest2Die terreur wat Mandela teen onskuldige wit burgerlikes waaronder ook kinders, uitgeroep het, is oor die afgelope week of twee as ‘n goeie, regverdige, progressiewe en veral verdedigbare opsie voorgehou.

Is alle terreur dan regverdigbaar? Helaas nee, want in werklikheid is terreur en opstand, volgens die Weste, net goed solank as wat hulle belange daardeur gedien word.

Westerse inwoners mag simpatie met onderdrukte Afrikaners hê, maar hul regerings is min gepla dat hulle die terreur hier aktief aangehelp en befonds het en onskuldiges  daarvoor laat boet het.

Twee voorbeelde van hoe terreur deur die Weste beskou word, speel tans voor ons oë af. In voortgesette protes in die Oekraïne en Thailand het betogers in beide lande probeer om regeringsgeboue te bestorm. Die Weste beskou die eerste poging as edel, maar nie die tweede nie.

Volgens CNN word die Oekraïne se polisie van “gewelddadige onderdrukking van pro-EU-protes” beskuldig. Pro-EU-protes sal terloops min oplewer, indien enige iets. Ná die Weste die aftog moes blaas oor hul beplande aanval op Sirië, is Europese uitbreiding na oos effens gestrem.

Die feit is dat die EU baie welklinkende beloftes maak en min doen weens die ekonomiese en finansiële krisis wat die blok teister. Daarbenewens is die ou problematiek van die Koue Oorlog uitgedien aangesien die nuwe entente met Iran die Amerikaanse missielafweerstelsels in Oos-Europa onnodig maak.

Betogers het EU-vlae rondgeswaai en die volkslied gesing. ‘n Honderdtal mense wat betoog het ter ondersteuning van die Oekraïne se Europese integrasie is, volgens ‘n verklaring van Pole se ministerie van buitelandse sake, “wreed onderdruk”. Die ministerie moes baie verlig gewees het dat hulle “bewyse” daarvan kon opspoor.

Die Verenigde State van Amerika veroordeel ook die “geweld teen betogers” in ‘n aanlynverklaring deur die Amerikaanse ambassade in Kiev.

Dit moet reeds heel duidelik wees waarom die VSA, die Verenigde Koninkryk, en die EU, asook die Fortune 500-belange wat die regerings van elkeen rig, agter die betogers sit en letterlik al hulle aktiwiteite befonds.

Die Europese Unie is eenvoudig besig om die tradisionele proteksionisme wat magtige multinasionale maatskappye belemmer, af te water met behulp van Hitler se ou plan om na die Ooste uit te brei.

Beleidmakers met korporatiewe befondsing het die vermoë om ‘n politieke program te skep wat korporatiewe fascisme ‘n werklikheid sal maak.

Sulke planne sal geen snars aan die lewensgehalte in Oos-Europa verander nie, maar sal ‘n paar nuwe verbruikerslawe waarborg wat niks aan hul mismoedige lewensomstandighede sal kan verander nie.

In skrille kontras is die protes teen die regime van Thaksin Shinawatra en sy suster, premier Yingluck Shinawatra vir die Guardian – nog ‘n “betroubare” Westerse nuusbron – net ‘n opstand deur ‘n gewelddadige, ondemokratiese gespuis.

Die regime van Thaksin Shinawatra en premier Yingluck Shinawatra word deur Wallstraat gesteun.

Die Guardian het opsetlik versuim om ten minste 3 sterftes, almal studente, te bevestig in ‘n poging om die betogers as ‘n moorddadige bende uit te beeld.

‘n Bietjie op dieselfde trant as wat Hector Pieterson se dood tot vervelens toe uitgestal word, maar die Kerkstraat- of Amanzamtotibomme is vergete.

In 2004 het Thaksin probeer om ‘n vryehandelsooreenkoms sonder parlementêre goedkeuring deur te druk. Dit het tot sy ongewildheid gelei.

Ingesluit was 3M, Bechtel , Boeing, Cargill , Citigroup , General Electric , IBM, Monsanto, Goldman Sachs en JP Morgan, Lockheed Martin, Raytheon, Chevron, Exxon, BP, Glaxo Smith Kline, Merck, Northrop Grumman, Syngenta , asook Phillip Morris.

Op die vooraand van die militêre staatsgreep wat hom uit die kussings gelig het, het Thaksin letterlik in New York voor die Fortune 500 se Raad op Buitelandse Betrekkinge gestaan om ‘n vorderingsverslag te gee.

Sedert die 2006-staatsgreep is Thaksin deur die Amerikaanse korporatiewe elite verteenwoordig via hul openbarebetrekkingemaatskappye soos Kenneth Adelman van die Edelmanfirma (Freedom House, International Crisis Group , PNAC ) , James Baker van Baker Botts ( CFR ) , Robert Blackwill van Barbour Griffith & Rogers ( CFR ) , Kobre & Kim, en tans Robert Amsterdam van Amsterdam & Peroff ( Chatham House) .

Bykomende ondersteuning vir Thaksin word verskaf deur die US State Department via die National Endowment for Democracy se NRO, by name Prachatai .

Dit is duidelik dat astronomiese bedrae en hulpbronne belê is in die Shinwatra-regime soos die Weste naarstiglik probeer om hul beleggings te beskerm.

In die Oekraïne is stootskrapers gebruik om deur die polisieversperrings te verbreek. Dié barbaarse optrede is nog nie deur die Weste veroordeel nie.

Vir Thai-betogers is dit onwaarskynlik dat hulle sal voordeel trek uit ‘n stootskrapervoorhoede. Waarop die Weste egter geen antwoord het nie, is vreedsame verset.

Betogers het ‘n dag of wat gelede die blitsverkiesing wat die eerste minister, Yingluck Shinawatra se Rooi Hemde uitgeroep het, geïgnoreer en sê sy moet in hegtenis geneem en van hoogverraad aangekla word.

Die betogers het Shinawatra 24 uur tyd gegee om te bedank nadat sy die blitsverkiesing uitgeroep het. Die spertyd het Dinsdagaand verval. Dit was haar laaste troefkaart.

Die leier van die Geel Hemde, die opposisie se Suthep Thaugsuban, het gedreig dat protesoptrede verskerp sal word. Die uitkoms beloof om spannend te wees.

Shinawatra is die tussentydse eerste minister tot die verkiesing op 2 Februarie aanstaande jaar.

Gaan die Mandela-handelsmerk oorleef?

madibawineBottels wyn en kombuisvoorskote met die gesig en naam van Nelson Mandela is maar ‘n paar van die kommersiële voordele vir die Suid-Afrikaanse handelsmerk.

Maar die familietwis oor sy “nalatenskap” – lees geld – ná sy afsterwe Donderdag op die ouderdom van 95, is ook nog lank nie verby nie.

Op die spel is die erfporsies van Mandela se meer as 30 kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Die meeste probeer reeds om die Mandelanaam en -beeld te gebruik om alles van klere tot die werklikheids-TV te bemark.

Die ander wedloop is om die beheer van die politieke Mandelanalatenskap tussen die regerende African National Congress en die Nelson Mandela-stigting wat sy breër boodskap wil aanwend.

Vir die ANC en DA is Mandela se reputasie as ‘n anti-apartheid held die moeite werd om stemme vir die komende jaar te werf.

Vir die Stigiting is dit ‘n Anglo-Amerikaanse bemarkingsprojek waar die ondersteuners hoop “nie-rassigheid” kan hulle invloed in die wêreld waarborg.

Verskeie Suid-Afrikaanse handelsmerkkenners meen nogtans die beskerming van die Mandela-handelsmerk gaan bykans onmoontlik wees.

In die oordrewe sug van rolspelers om dit te kommersialiseer of uit te buit, is die risiko duidelik dat die Xhosa se beeld dit nie gaan oorleef nie.

Volgens ‘n beëdigde verklaring deur advokaat George Bizos het die twee dogters , Makaziwe Mandela en Zenani Dlamini, probeer om beheer van die belangrikste Mandela Trust sedert 2005 oor te neem en uiteindelik trustees geword sonder Mandela se goedkeuring.

Mandela was briesend toe hy uitgevind het wat die dogters gedoen het, het Bizos en die ander medewerkers gesê in die verklaring .

‘n Gedeelte van die inkomste van die Stigting se 46664 klereversameling – vernoem na Mandela se gevangenenommer op Robbeneiland – en die kunswerke gaan om te betaal vir familielede se opvoeding, volgens Bizos .

Maar ‘n paar familielede het gevra vir ‘n enkelbedrag betaling van 12 miljoen rand, het hy bygevoeg .

Mandela se kinders, veral die oudste dogter Makaziwe Mandela is duidelik daarop uit om die Stigting vir persoonlike doeleindes aan te wend.

“Dit is ons s’n, waarop ons geregtig is,” het sy aan die Financial Times in April gesê.

Die Nelson Mandela-stigting beskik oor die kopiereg van verskeie handelsmerke vir Mandela.

Daar is ten minste 40 maatskappye amptelik by die Suid-Afrikaanse regering geregistreer wat gebruik maak van die Mandelanaam . Die maatskappye het nie ‘n skakel na óf Nelson Mandela, enige van sy familielede of enige geografiese gebied wat die Mandelanaam gebruik nie.

Die lys sluit in die Gandhi-Mandela Verpleegkunde Akademie, Mandela Truck Shuttle Services, Mama Mandela Marketing Company, Dankie Mandela toiletware en Mandela se Shed, ‘n restaurant.

“Madiba” word gebruik deur meer as 140 geregistreerde maatskappye , insluitend Madiba Truck Stop, Madiba Wines, Madiba se Driving School, Madiba-hoenders , Madiba Kontant en Madiba Drankwinkel .

Duidelik dink die Stigting, op eg-Amerikaanse trant, dat hulle ‘n paar sake gaan maak in die toekoms om die handelsmerk vir eie gewin uit te buit.

Mandela “behoort aan die ANC en aan die hele land,” het ANC-woordvoerder Jackson Mthembu egter vroeër aan die Sunday Times koerant gesê.

Daar gaan dus ‘n geveg oor die inkomste wees wat ‘n paar uit die naam sal wil wurg, een wat die politieke geveg oor sy nalentskap gerieflik mag uitskakel. Die hoop beskaam nie.

 

Soos Josef: Van prisonier tot President

deur Madelein Jacobs

In die ou dae toe ons oumense nog baie Bybel gelees het, was daar ‘n bekende Bybelse verhaal oor ‘n prisonier wat president geword het.

Die Bybelse verhaal van Josef toon ooreenkomste met ‘n soortgelyke bekende Egiptiese verhaal oor twee broers, en is gedeeltelik daarop gebaseer. Die Bybelse verhaal oor Josef wat onderkoning oftewel “president onder die grondwet” geword het, speel hom ook af in Egipte, in Afrika.

Josef was van jongs af polities bewus en aktief, en word daarom deur sy bedreigde broers geëlimineer. Dog Josef oorleef en word as slaaf in Egipte, die wêreldsupermoondheid, aan ‘n baie gesiene en invloedryke politieke persoon verkoop. ‘n Politieke Potifar veroorsaak op veraderlike wyse dat Josef weer geneutraliseer word, en in ‘n Egiptiese tronk beland.

Die koning van Egipte droom, dink vooruit, en sien ‘n baie belangrike ekonomies-politieke siklus vir Egipte aankom: sewe jaar van vinnig groeiende borrelekonomie, en daarna die onvermydelike sewe jaar van groot resessie. Nie alleen verklaar die nie-Egiptenaar Josef hierdie komende siklus vir die koning van Egipte nie, maar stel ook ‘n meesterplan voor, hoe om die siklus te benut deur ‘n nasionale grondoordragskema deur opgegaarde voedsel vir grond te verruil, wat die mag en rykdom van die Egiptiese koning geweldig sal vergroot. Met hierdie puik politieke plan word die nie-Egiptiese prisonier toe die dienende president van Egipte, die wereldsupermoondheid van daardie tyd.

Die groot politieke plan soos wel opgeteken deur die Bybelskrywers, is egter vandag heeltemaal vergete. Al wat ons van die Bybelverhaal kan onthou en vir ons kinders vertel, is die aangrypende gebeure en pragpropaganda van ‘n goeie slaaf en modelprisonier wat ‘n uitstekende president geword het, en toe nie wraak geneem het nie, maar sy broers met hom versoen het.

Nelson Mandela was die Josef van Londen. Londen, die finansiële sentrum van die heersende Westerse wêreldmoondheid, het baie gehelp om van die politieke prisonier ‘n ikoniese president te maak. Met mnr Mandela aan bewind in Kaapstad en Pretoria, is kapitaalbeheer geliberaliseer, en het skatryk Suid-Afrika se grootste maatskappy na Londen ontsnap, om van daar multinasionale maatskappye van die heersende Westerse wêreldorde en Washington-konsensus te word. Anglo-American was Suid-Afrika se grootste maatskappy, wat voor Londen se Nelson president geword het, die helfte van Suid-Afrika se industrialisasie moes finansier. Ná Mandela het dit gedaal tot niks – ek verwys hier na plaaslike industrialisasie.

Die Suid-Afrikaanse Gencor het na Londen se Nelson as president tot in die wêreld se grootste en rykste multinasionale mynmaatskappy ontwikkel: BHP Billiton, wat in Londen genoteer is, wie se groei gefinansier is met geheime Eskomkragtariewe wat net aan BHP Biliton beskikbaar en bekend was, wat hulle in staat gestel het om betyds hul reusechroombates in Suid-Afrika teen maksimum waarde te verkoop, net voordat die kragprys vervierdubbel het.

President Mandela het soos ‘n keiser sy eie Londen-ondersteunde Xhosa-opvolger gekies en aangestel, en nieteenstaande die onervare president Mandela se oneindige persoonlike goedheid en heiligheid, het tradisionele Zoeloes van Kwazulu-Natal met ‘n geheue van Londen se Suid-Afrikaanse empire in opstand gekom teen die ontsaglike rykdomoordrag vanaf Suid-Afrika na Londen.

Volgens die Bybelverhaal oor onderkoning, oftewel president, Josef in Egipte, het daar egter later ander konings en dinastieë in Egipte aan bewind gekom, en dit het die geskiedenisverloop beïnvloed.

Josef?
Josef?

Mnr Mbeki is onverwags deur mnr Zuma as tradisionele Zoeloe uit Londen se ekonomies neoliberale kussings gelig, en sedertdien voer Londen ‘n hewige politieke propaganda-oorlog teen Nkandla, wat nou fataal stoom verloor het deur Madiba, ook Londen se geliefde, se doodsaankondiging.

Dit is dus ironies dat die dood van Londen se Nelson, Londen se sterk aanslag teen sy aartsopponent Nkandla heeltemaal ongedaan gemaak het.

Dit is ook insiggewend dat Jacob besluit het om Nelson op 15 pleks van 16 Desember te laat begrawe. Gelofte- oftewel Versoeningsdag, word dus nie Mandeladag nie, met die een wat op die ander volg.

Die skryfster van hierdie artikel distansieer haar van enige negatiewe uitlatings of beledigende kommentare oor Zoeloepresident Zuma of San-Xhosa-Nelson Mandela. Die skryfster is baie lief vir Madiba se kritiese stellings oor die VSA, en Zuma se doeltreffende aksies teen Londen en die neoliberale Washington-konsensus.

Wat van kostes wat verswyg word?

taxOns betaal reeds duur vir energie, medisyne, bankwese, en telekommunikasiedienste. Maar ‘n bietjie navorsing toon dat ons veel meer betaal op ‘n verskeidenheid maniere waarop ons sakevriendelike hoofstroommedia nie sal praat nie.

1. Farmaseutiese maatskappye: Die bedryf gaan baie verder as winste, met die werklike privatisering van ons liggame. Een vyfde van die menslike genoom is in privaatbesit deur patente.

Variante van griep en hepatitis is reeds opgeëis deur korporatiewe en universiteitslaboratoriums, wat navorsers verhoed om gepatenteerde lewensvorme te gebruik om kankernavorsing te doen.

Nou moet belastingbetalers dubbel opdok sodat regerings groot aankope doen soos vir anti-retrovirale medisyne.

2 . Oliemaatskappye: Hoe het die groot oliemaatskappye vergoed vir hul besoedeling en die agteruitgang van die omgewing en vergiftiging van waterbronne?

Exxon en Chevron betaal byna geen belasting aan hul regering nie, soos die meeste ander privaat oliemaatskappye wat van belastingontduiking ‘n kuns gemaak het.

3 . Telekommunikasie: Ons betaal vir hulle om te spioeneer op ons en gratis data in te samel, behalwe dat ons heeltemal te duur vir data en kommunikasie betaal. Data beteken geld, inkomste, waartoe ons nie toegang het nie, en ook geen beheer nie.

4 . Banke: Astronomiese bankfooie. Daar is kompetisie op die horison, maar dit gaan maar stadig. Die vier Groot banke in Suid-Afrika is al uitgevang dat hulle saamspan teen kliënte.

5 . Myne: Inkomste Hier Winste Oorsee.

Heckie van Tonder

AussieGate: Indonesië kook oor bure se verraad

aussiegateIndonesiërs het dié week van woede gekook oor die verraad van hul bure ná onthullings dat Australië se Seine-direktoraat die selfone van senior Indonesiese regeringsamptenare , insluitend President Susilo Bambang Yudhoyono afgeluister het, en die ergste van alles, sy vrou, Ani Yudhoyono s’n ook.

Aussie-intelligensie het op die einste senior Indonesiese kabinetsamptenare gespioeneer wat, soos die president, as stoere bondgenote van die VSA en Australië beskou word.

Hierdie elektroniese spioenasie is deel van die nou berugte geheime Vyf Oë wat die gesamentlike intelligensie insameling tussen die VSA, Brittanje, Kanada, Australië en Nieu-Seeland behels: Die sogenaamde “witman se spioenasie-agentskap” wat Suid-Afrika uitsluit.

Vyf Oë word gelei deur die Amerikaanse National Security Agency, en sy ander Anglelsaksiese lede tree as lojale junior vennote op wat op hul eie mense spioeneer. Hoeveel van hulle plaaslike data oorgedra word na Washington is onbekend, maar dit is waarskynlik aansienlik.

Dit is onlangs aan die lig gebring dat die Amerikaanse NSA inligting oor Amerikaanse burgers aan ‘n ander bondgenoot, Israel, beskikbaar stel.

Die redakteur van die Jakarta Post, Meidyatama Suryodiningrat, voel diep beledig en persoonlik geraak deur die onthullings.

Indonesië en Australië werk al vir die afgelope twintig jaar aan ‘n beter verhouding.

Indonesië, met 248.000.000 mense is die naaste aan Australië se 23 miljoen mense, ‘n feit wat dikwels die hoogs xenofobiese Aussies senuweeagtig maak.

Australië se verdediging word deesdae deur Washington gewaarborg wat binnekort gestasioneer sal wees in die noorde van Australië, naby Indonesië.

Hierdie militêre besluit om Amerikaanse Seesoldate in die noorde te plaas hou min voordeel vir Australië in en het alleen daarvoor gesorg dat Indonesië en China op hul hoede gestel is.

Australië se nuwe konserwatiewe eerste minister, Tony Abbot, se arrogante houding nadat dit bekend geraak het dat hy op sy vriende spioeneer, het betrekkinge verder versuur.

President Yudhoyono het sy ambassadeur in Australië beveel om terug te keer, en talle gesamentlike projekte met die Aussies opgeskort.

Die belangrikste is dat Australië die betaling aan Indonesië van US$ 608.700.000 jaarliks ​as ‘n “hulpmiddel” om desperate asielsoekers uit die Midde-Ooste en Afghanistan na Australië te stop, opgeskort is. Dit sal egter net Australië ten nadele strek, alhoewel konserwatiewe kiesers verheug is.

Australië sukkel reeds met hul beeld weens hul “hartelose beleid” teenoor nie-blanke vlugtelinge. Omdat die land nog nooit daarin kon slaag om ‘n eie buitelandse beleid te formuleer wat onafhanklik van die Statebond is nie, sal hulle voortaan waarskynlik verder sukkel.

Kritici sê Australië is ‘n apartheidstaat. Terwyl Suid-Afrika deurentyd aangeval is, het Australië in dieselfde tyd ‘n uitsluitlik wit immigrasiebeleid nagestreef.

Intussen kry die VSA die skuld van Indonesiërs vir AussieGate. Amerika het groot beleggings in die hulpbronryke Indonesië, die wêreld se vierde mees bevolkte land met die grootste Moslembevolking.

Amerikaanse meningsvormers het uitgevaar teen Australië dat hulle nalatig en teenproduktief was om so ‘n belangrike bondgenoot en groeiende ekonomiese reus te antagoniseer en te beledig.

En dit alles net om uit te vind dat die president rugpyn het en sy vrou ‘n argument met haar dogter.

Voorbeeldland en voorbeeldvolk Japan

shintoEk, my vrou en ons twee seuns van 18 jaar, was in Augustus vir drie weke op reis in Japan en dit was ‘n onvergeetlike ervaring. Graag deel ek hierdie ervaring met julle. Voor die aanpak van die reis het ons soveel as moontlik boeke gelees oor Japan. Die meeste boeke raai ’n voornemende reisiger af om nie in Japan ‘n voertuig te bestuur nie. Ons het tog ’n voertuig gehuur, want hiermee kom jy veral op die platteland vinnig oor die weg.

Na ‘n baie lang vlug in die nuwe dubbeldekker Airbus het ons op die lughawe Nara net buite Tokyo geland. Op die lughawe moes alle reisigers met ’n vreemde paspoort in ’n aparte ry staan en hier word iets gedoen wat ons nog nooit in ‘n ander land teëgekom het nie. Van elke vreemde persoon word ‘n foto geneem, maar ook die vingerafdrukke van die twee wysvingers word digitaal geneem deur op twee klein kussinkies te druk. Ons het ook op die lughawe kontant Yen getrek uit die OTM, omdat ons bewus was van die feit dat jy nie sommer by enige bank geld kan trek met ‘n buitelandse bankpas nie. By Citibank was dit dan wel moontlik.

Hierna kon ons ons bestelde voertuig in ontvangs neem; outomaties, want alle voertuie in Japan is outomaties. Hy het ook geen handrem nie, maar ‘n tweede voetrem. Aanvanklik was ons maar super versigtig, maar gou het ons ontdek dat dit eintlik baie maklik is om in Japan te bestuur. Daar word links gery soos in Suid-Afrika en jy vind nêrens in Japan maar een slaggat in ‘n pad nie. Vanaf die lughawe het ons suidwaarts beweeg in die rigting van Kyoto, die voormalige hoofstad van Japan. Onderweg het ons talle besienswaardighede besoek, onder andere by Kamakura waar ons ‘n groot Boeddha beeld sien staan het in die opelug. Ons het die pragtigste kastele en tempels gesien wat ’n groot aantal besoekers trek, maar seker 99% van die besoekers is egter Japanners.

Alle verkeersborde word in Japanse skrif sowel as in Romeinse letters aangegee. Ons navigasie-sisteem was in Romeinse letters bedienbaar. Hierop kan jy dorpsname invoer, winkelname, hotelname, telefoonnommers, ens. Om die hotelle te bereik wat ons vantevore met ‘n kredietkaart gereserveer het, het ons telefoonnommers aan die navigasie-sisteem gevoer. Ons het die groot aantal tolpaaie wel lastig gevind en ook duur. Ons het egter eers later besef dat ‘n mens voor die tyd ‘n digitale kaart kan koop waarmee ’n mens op tolgeld kan bespaar. ’n Mens is egter nie verplig om tolpaaie te neem nie. Die navigasie-sisteem gee voor die aanvang van die reis verskillende opsies, soos reistyd, maar ook die koste aan die tolgeld op ’n bepaalde trajek. Hieruit kan ‘n mens dan ’n keuse doen. Tolpaaie verkort die reistyd soms wel drasties. Daar is duisende brûe en hulle is byna altyd van staal. In Toyo hang heelwat paaie in die lug en is die konstruksie hiervan ook van staal (beton sal waarskynlik makliker breek by aardbewings). Ons het deur tientalle tonnels gery, soms tot 4km lank en nêrens enige rook kon ruik binne-in hierdie tonnels nie.

Hierdie land en sy mense het ons baie verbaas. Japan is ’n besonder skoon land. Jy sien nêrens papiere, blikkies en plastiek rondwaai nie. Selfs in die miljoene stad Tokyo sien jy nêrens rommel rondlê nie. Maar ook sien jy nêrens asblikke op straat staan nie. Jy gooi dus nie jou rommel op straat nie (of soos in Suid-Afrika sommer by die karvenster uit nie). Jy hou dit by jou en tuis gooi jy dit in die asblik. Alle afval word tuis geskei (plastiek, metaal, papier en organiese afval apart).

Die verskeidenheid aan produkte in Japanse winkels is enorm groot. Ons was in die verlede telkens verbaas oor die groot verskeidendheid aan produkte in Europese winkles, maar Japanse winkels oortref die produkaanbod by verre. Die vrugte in Japanse winkels is die grootste en mooiste wat ons ooit gesien het. Die appels en perskes is seker twee keer so groot as grootstes wat ons in Europa gesien het. In geen enkele supermark staan iemand gereed om jou aangekoopte kruideniersware vir jou in te pak nie. Jy pak dit alles maar self in.

Japan is ongetwyfeld ‘n land van hoë tegnologie. Jy vind daar produkte wat jy nie kan weet welke doel dit moet dien nie, maar ook vreemde produkte soos ‘n naelknipper met ‘n loep. Veral in elektronika-winkels staan jy verbaas oor die produkaanbod en die kwaliteit. Hier vind jy onder andere deursigtige skottelgoedwassers, mini (deursigtige)  skottelgoedwassers, outomatiese stofsuiers, outomatiese grassnyers, reuse LED lampe, wat ons nog nooit elders gesien het nie, maar ook outomatiese toilette. Oral in Japan is die toilette outomaties. Die toiletsitplek word verwarm en ook die spoelwater waarmee jy afgespoel word tydens/na die toiletbesoek, word verwarm.

Ook die boekwinkels in enorm groot. My een seun, wou Japanese boeke koop en het ons ‘n aantal boekwinkels besoek. Hierdie boekwinkels is almal groter as die biblioteke in Suid-Afrika en alle boeke is in Japannees. Ek het onder andere ook ‘n Engelstalige boek gesoek oor die Japanse Sjintoïsme, maar kon dit nêrens vind nie. Eers met ons tuiskoms kon ek ‘n Nederlandstalige boek oor die Sjintoïsme vind via internet, wat ek dadelik bestel het.

Wat ons besonders gevind het in daardie mooi land is die feit dat die gee van fooie/tips ongebruiklik is. Jy gee niemand ’n fooi in Japan nie. Dit word as ‘n belediging beskou. Ons het elke aand in restaurante geëet, nooit fooie gegee nie en niemand dit sien doen nie. Ook by die hotelle dra jy jou bagasie self en is daar geen portier wat jou te hulp snel en jou koffers na jou kamer dra en dan bakhand staan vir ’n fooi nie.

In Japan eet jy baie lekker. Die kos is vars en die smaak is voortreflik. Daar word in alle opsigte gestreef na perfeksie. Dit sien jy onder andere aan die produkte in ’n bakkery. Aan sommige gebak kan jy sien dat dit meerdere kere op verskillende manier gebak moes gewees het. Ook wil dit voorkom asof die meel daar fyner is as die wat ons ken en hulle gebak is wel meestal soet. Ook die brood is effens soeter as ons bekende brode. Ons het dikwels ook lekker nat-beskuit gekoop wat ons besonder smaaklik gevind het. Nooit geweet dat ons boerbeskuit (wel ongedroog) in Japan sou vind nie. Gedroogte vleis en gedroogte vis koop jy daar ook in elke supermark, van velerlei soorte.

Wat ons ook opgeval het, is die smaak van die vleis. Dis beslis beter as die smaak van vleis in Europa, maar miskien tog nie so smaaklik as die van byvoorbeeld die Spur nie. Tog is die vleis bekend as Kobe beef, van Wagyu beeste, besonder smaaklik. Hierdie Wagyu beeste kry ’n spesifieke dieet en onder andere ook bier om te drink, word gemasseer en rustig gehou. Tussen die vleisvesels van hierdie beesvleis sit ook baie vetweefsel wat die vleis ‘n besondere smaak gee. Mens sou dan dink dat Japanners vet mense moet wees, maar ons het baie selde ’n oorgewig Japanner gesien.

Verder is die Japanners baie bewus van skoonheid en higiëne. Alles word baie goed skoongemaak en baie personeel dra handskoene. By sommige bakkerye neem jy by die ingang van die winkel ’n skinkbord en tang. Met jou tang plaas jy die produkte wat jy uitgekies het op die skinkbord en loop na die kassa. Hier word jou broodjies en ander gebak sorgvuldig ingepak. Die skinkbord en tang wat jy gebruik het, word ook ingehandig en gaan direk in die skottelgoedwasser. Ook dra bus-chauffeurs, taxi-chauffeurs en polisie almal wit handskoene. Soms sien ‘n mens selfs op straat mense met handskoene loop, maar die meeste mense op straat dra geen handskoene nie. Verder sien ‘n mens geen skoonmakers nie. Alle winkels word deur die personeel self skoongemaak. In die skole maak die kinders self die klaskamers en ook toilette skoon.

Die Japanners is baie pligsgetroue en harde werkers. Baie min Japanners werk net 8 ure par dag, maar veel meer. Ons het onder andere ’n gids gehad wat ons by een van die talle kastele begelei het. Die man is nou op pensioen. Maar hy is al vir meer as 25 jaar ’n gids en hy doen die werk sonder enige vergoeding. Hy vertel dat hy vroeër (voor sy pensioen) ses dae per week gewerk het. Vrydae was hy vry, maar inplaas daarvan om op sy weeklikse vrye dag tuis uit te rus, het hy as vrywilliger diens gedoen by die kasteel, waar hy steeds werksaam is.

Die Japanse beskawingspeil is ongetwyfeld hoër as die van ons. Die Japanners is besonder gedissiplineerd. Emosionele uitbarstings word in Japan as ’n groot swakheid beskou. Hulle manier van kommunikasie is baie beleefd en diplomaties. Die stemtoon, die stemhoogte, die woordkeuse en die non-verbale kommunikasie dui op agting en respek vir mekaar. In die hele samelewing kan ’n mens sien dat daar na perfeksie gestreef word; na hoë norme en waardes. Selfs die verpakking van eenvoudige koekies word so deeglik gedoen dat ons dit selfs vervelend gevind het (moeilik om dit oop te kry).

Baie hotelle het swembaddens waar naak geswem word, maar mans en dames apart. In Kyoto het ons in ‘n luukse hotel tuisgegaan met twee swembaddens (dames/mans) en voor elke swembad hang ‘n groot bord waarop enkele reëls pryk in groot letters. Een daarvan was besonder opmerklik: As jy ‘n tatoeëring op jou liggaam het, hoe klein dan ook, mag jy die perseel nie betree nie.

Merkwaardig is dat ’n mens baie min vreemdelinge in Japan sien. Ons het by een geleentheid ‘n groep van ongeveer 6 moslems (dames met kopdoeke) gesien wat uit ’n ander Asiatiese land kom, waarskynlik gasarbeiders uit Indonesië. Ook het ons baie min swartes gesien, seker in totaal 5. Twee daarvan was vergesel van Amerikaanse blanke vroue. By plekke met  besienswaardighede (veral in Tokyo) kom ‘n mens wel ’n aantal buitelanders tee van Europese afkoms, waarvan die meeste Franse, Amerikaners en Duitsers is. Ons wil vermoed dat hulle waarskynlik meestal/almal toeriste is op besoek aan Japan. Ten spyte van ’n krimpende bevolking, voer Japan ’n baie streng immigrasiebeleid. Ook is die Japanners baie op hulle hoede vir uitheemse invloed op hulle kultuur. Die Arabiese Koran is in Japan byvoorbeeld ‘n verbode boek. In teëstelling tot Europa sien ‘n mens nog baie jong Japanners met kinders, terwyl die bevolking in Europa vir ’n baie groter deel uit gryskoppe bestaan.

Die natuur is pragtig. Dis berge en heuwels en alles groen en baie mooi. Die Japanners is baie bewus van die mooi natuur en hulle pas die natuur op. Die verering van die Natuur is immers een van die hoofpylers van die Sjintoïsme. In alle dorpe en stede vind jy onder andere pragtige parke en tuine met watervalle en mooi terrasse en mooi visse. Ook in Tokyo vind mens ‘n paar heel groot parke en as jy daar wandel, besef jy nie dat jy in ‘n groot stad ronddwaal nie. Van hierdie parke binne-in die stede is ook enorm groot. Ook is in Japan nog ’n aantal smeulende vulkane te sien en het ons ook een hiervan besoek, waar kokende water en swael dampe uit die aarde stoot. Ten spyte van die digbevolkte gebied in die sentrale gedeelte van Japan, is die grootste gedeelte van die natuur ongeskonde. Die verbouing van rys sien mens in alle dele van Japan en is dit hulle vernaamste landbouproduk. Tog het ons ook deur ‘n gebied gery waar druiwe en ook wyn geproduseer word.

Ons het elke aand Japanse TV gekyk. Wat ons opgeval het, is dat jy al spoedig ‘n sender vind waar een of ander reeks uitgesaai word wat in die verlede of verre verlede afspeel. Die indruk wat ons gekry het, is dat die Japanner baie trots is op hierdie verlede en daarom graag ook na programme kyk wat die verlede laat herleef. Nog opvallend is dat ons elke dag Japanners gesien het op straat wat in die tradisionele kimono’s rondloop. Hulle was veral te sien by tempels waar heelwat jongedames kimono’s dra. Dit is in teenstelling met Duitsland en Nederland waar tradisionele drag maar selde nog gedra word en dan net tydens volksfeeste. Ons Afrikaners het eintlik geen tradisionele drag nie en kry bowendien dikwels skaam as TV-programme getoon word wat die verlede uitbeeld.

Die twee hoofgelowe in Japan is die Sjintoïsme en die Boeddhisme. Die Boeddhiste huisves beelde in hulle tempels, maar die Sjintoïsme ken eintlik geen beelde nie. Sjintoïstiese tempels is dus byna altyd beeldloos. Alhoewel beide die gelowe imposante heiligdomme ken, vind ‘n mens dikwels ook heel eenvoudige tempels, veral by die Sjintoïsme. Die Sjintoïsme is die oudste religie in Japan en is dit eintlik ’n vorm van animisme. Die Natuur word dus deur die Sjintoïsme vereer en opgepas. Dit is dan vir ons ook opvallend dat die Japanners die verlossingsgodsdienste van die Midde-Ooste buite die deur hou; en kon sulke godsdienste nooit ‘n stewige vastrapplek in Japan vind nie. Vandag is Islam sonder enige teëstand besig om Europa binne te sypel.

Dit was vir ons merkwaardig om te kon sien hoe Nagasaki en Hiroshima, binne tien jaar na die val van die atoombomme volledig herbou was. Ook is dit merkwaardig om te sien, hoe die Japanners groot maatskappy (Honda, Kawasaki, Sony, Mitsubishi, Toyota, Yamaha, Nintendo, Hitachi, Sharp, Canon, Casio, Toshiba, Nikon, Sanyo, Fuji, Olympus, Panasonic, Pentax, ens.) uit die grond kon stamp terwyl daar geen grondstowwe in die bodem sit nie. Yster, koper, olie, ens word alles ingevoer en hiervan word hoë tegnologie produkte gemaak. Terwyl Japan slegs oor 123 miljoen mense beskik, is Japan vandag die derde grootste ekonomie in die wêreld en word veral gespesialiseer in hoë tegnologie-produkte.

Daar word ook redelik baie fietsgery in Japan, selfs in die groot stede. Maar dan moet ’n mens byvertel dat die meeste Japanners nie goed kan fietsry nie. Hulle stel die saal te laag. Hulle doen dit egter om veiligheidsredes. ‘n Wankelende fietsryer kan maklik die voete op die grond sit om ’n val te voorkom en ook is dit makliker om by ‘n verkeerslig te stop. Maar omdat die saal so laag sit, is dit moeilik om krag uit te oefen op die pedale.

Iets wat ons in Japan nie mooi gevind het nie is die kragdrade en telefoondrade wat alles aan pale gemonteer word en in die lug hang. Krag- en telefoondrade word in Europa onder die grond begrawe. ‘n Voordeel van die kragdrade wat in die lug hang, is dat die veiliger is en dat nuwe drade maklik aangelê kan word en oues verwyder word. Net soos die Noord-Europeërs is die Japanners nie behep met die versiering van hulle gebou deur middel van beelde en ander tierlantyn nie. Dit is in teenstelling met Suid-Europa waar geboue ryklik versier word (ook beeldryk).

Langs die snelweë vind ‘n mens dikwels rusoorde waar motoriste brandstof kan aanvul en iets lekkers kan nuttig. Dit het ons opgeval dat sommige reisigers, wanneer hulle daar stop, hulle voertuie nie eens sluit nie. Die enjins laat hulle dan ook nog draai, met die sleutels in die slot, terwyl hierdie reisigers gou iets gaan koop. Die bedoeling van die draaiende enjin is om die airco aan die gang te hou sodat die kajuit van die voertuig koel bly. Dit was in Augustus immers elke dag ongeveer 35 grade. Ons wil hiervan aflei dat daar nie sluipers is in Japan wat sit en wag om voertuie te ontvreem nie. In Japan is die misdaadsyfer besonder laag en die doodstraf bestaan steeds.

Wat ons ook opgeval het, is die keurige kleredrag van die mense. Japanners met verslonsde klere kom jy byna nie tee nie. Baie Japanners verskyn op straat asof hulle uit modeboeke stap. Onder die jong dames is kort rokkies populêr, maar ‘n lae hals kom jy nie tee nie. Ten spyte van die warm somerweer in Japan, dra baie dames sykouse en die mans pakke. Ook dra baie dames op straat sambrele om die son af te weer. Langs die pragtige strande van Japan het ons groot skares swemmers verwag, maar die strande is (byna) leeg. Japanners hou nie daarvan om in die son te lê nie. Die Japanse skoonheidsideaal (veral onder die dames) is om so wit as moontlik te wees.

In die restourante is die bediening besonder vinnig. Kort nadat jy jou bestelling geplaas het en die eerste teue van jou drankie geneem het, verskyn ‘n bord voor jou neus met die sissende gereg daarop wat jy bestel het.

In Japan mag jy in die openbaar nie rook nie, maar ook nie openbare geboue nie. Slegs op spesifieke aangewese plekke, mag gerook word. In Tokyo word hierdie tekens wat rook verbied onder andere op die sypaadjies (straat teëls) afgebeeld.

Parkeerplek is nie altyd volop nie. In die groot stede het baie hotelle ‘n hysbak-sisteem vir voertuie. Jy kan nie in die parkeergarage rondry nie, maar kom net by die ingang binne. Jy moet dan uit jou voertuig klim, waarna ‘n hysbak-sisteem jou voertuig wegneem en iewers bêre. Wil jy later die voertuig terugsien, druk die portier op ‘n knop en jou voertuig verskyn. Hy staan dan al omgedraai, sodat jy nie nog agteruit hoef te ry om uit die parkeergarage te kom nie. My sommige hotelle staan egter voor die parkeergarage ’n groot draaitafel wat voertuie omdraai.

Japan is nie so ‘n duur land as wat mens dink nie. Hotel akkommodasie is selfs goedkoper as in Europa. Petrol kos omgereken ongeveer dieselfde as in Suid-Afrika. Amerikaanse McDonalds en KFC vind ‘n mens oral in Japan en die prys-kwaliteit is dieselfde as in Europese lande.

As daar ‘n land en ’n volk is by wie ons sommer baie kan leer, is dit Japan en sy mense. Dit is dan ook betreurenswaardig dat ons so min van hierdie voorbeeldvolk weet uit die Land van die Rysende Son. Ons Afrikaner-oë is immers kollektief gerig op Amerika as voorbeeld, terwyl Amerika ’n sinkende skip is. Gedurende die boikot-jare is ons deur die ganse westerse wêreld veroordeel en geboikot, maar die wyse Japanners en Taiwanese het ons juis nie veroordeel en geboikot nie.

Groetnis

Petrus van Eeden