
deur Willem de Jager
Mooi woorde, Palesa, in vandag se Rapport, waarin jy skryf:
Sedert Nelson Mandela se dood deur sy geheel en al onwaardige opvolger aangekondig is, het wit en swart, jonk en oud gesing, gedans, geboe, gestry en gebid oor wat sy nalatenskap beteken.
Die eg Suid-Afrikaanse viering van sy lewe weerspieël dit waarvoor hy sy hele volwasse lewe geveg het.
Op 22 Julie 1985, skaars 48 uur nadat PW Botha ’n noodtoestand afgekondig het, het Oliver Tambo, destydse ANC-president, miljoene Suid-Afrikaners gevra om “die land onregeerbaar en apartheid onwerkbaar te maak”.
Dit is goed ontvang in die townships, waar ons klippe na die polisie en weermag gegooi het en die tronke en strate met ’n vasberade verset gevul het.
’n Paar jaar later is apartheid vervang deur ’n staat wat ons drome beliggaam het vir ’n nie-rassige, nie-seksistiese toekoms.
Graag wil ek jou komplimenteer op jou aanwending van die ironie: Jy volg jou ode aan nie-rassigheid pragtig op met ‘n paragraaf oor die tragiese lot van *swart* mense (20 jaar later) in hierdie “wonderlike… demokrasie” wat julle gebou het. Ek se “julle” in antwoord op jou “ons” wat julle in die strate verset het teen apartheid. Ironies genoeg “suffer” die nuwe *swart* middelklas steeds/weer volgens jou. Ai.

Voorts wil ek vir jou en Rapport beide komplimenteer op julle pragtige Afrikaans. Julle slaag werklik daarin om ‘n etniese niemandsland vir ons op te tower waarin Afrikaans ‘n blote toevalligheid is. Net jammer dit weerspieël geen werklike situasie nie, soos jou artikel. Ons het nou reeds gesien dat omgekeerde apartheid sowel as die illusie dat ras/ etnisiteit ‘n banale onbenulligheid is, nie die oplossing is nie. Is dit heeltemal onmoontlik dat ons realisties na ons diversiteit kan kyk en daarvolgens aan oplossings dink? Ek verstaan dat die ras-taboe ons vermoë om rasioneel te dink beïvloed maar ons kan ten minste probeer.
Die kern van jou boodskap is weinig anders as wat dit dit ten tye van Britse oorname meer as honderd jaar terug was: Die skep van ‘n “Suid Afrikaanse” identiteit is steeds die refrein. 50 miljoen gewillige min-of-meer Suid-Afrikaners maak inderdaad ekonomies sin. Maar net vir ‘n paar groot varke wat geen god ken nie, behalwe Mammon.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.