Bradley Manning skuldig bevind aan spioenasie

bradleymanning‘n Amerikaanse militêre regter kolonel Denise Lind het Dinsdag bevind dat Bradley Manning nie skuldig is aan samewerking met die vyand nie – die mees ernstige aanklag wat hom in die gesig gestaar het vir die lek van dokumente aan WikiLeaks.

Maar sy het hom skuldig bevind aan die meeste van die ander 20 kriminele aanklagte in die grootste oortreding van geklassifiseerde inligtingswette in die Amerikaanse geskiedenis.

Die Amerikaanse regering het vir die maksimum straf gevra wat hulle beskou as ‘n ernstige oortreding van nasionale veiligheid. Manning se inligting het slagveldverslae van Irak en Afghanistan ingesluit.

Anti-geheimhoudingsaktiviste het Manning se optrede geprys as ‘n lig op donker Amerikaanse bedrywighede in die buiteland.

Aanklaers het tydens die krygsraad aangevoer dat Amerikaanse veiligheid deurWikiLeaks se anti-geheimhoudingswebwerf in die gedrang gekom het, met inligting oor ‘n aanval deur ‘n Amerikaanse Apache-helikopter en die gevangenes in Guantanamo.

Die lêers is deur Manning gesteel toe hy ‘n junior intelligensie-ontleder in Irak in 2009 en 2010 was. – Reuters

Zim na stembusse

Gushungo
Gushungo

Veertien partye sal Woensdag aan die verkiesings in Zimbabwe deelneem in wat waarnemers as ‘n verbete stryd tussen die twee voorste kandidate, Robert Mugabe en Morgan Tsvangirai beskryf. Stembusse het vanmore geopen.

Daar is altesaam vyf presidensiële kandidate wat hulself beskikbaar gestel het. Die stembusse sluit om 19:00 vanaand.

Meer as ses miljoen Zimbabwiese kiesers gaan toustaan in die land se presidensiële en parlementêre verkiesings.

Gushungo, wat “krokodil” beteken is die bynaam vir  die huidige president wat ook die oudste een in Afrika is.

Pres. Robert Mugabe (89) gaan poog om die eerste minister in die vorige eenheidsregering, Morgan Tsvangirai, se derde probeerslag om as wenner uit die stryd te tree, weer te fnuik.

Die Zimbabwiese president het belowe om die mag om sy aartsvyand, Tsvangirai, te oorhandig as hy in die verkiesing verloor.

“Dit is ‘n normale ding om te doen as jy aan ‘n kompetisie deelneem waar daar slegs twee uitkomste is, wen of verloor, jy kan nie albei hê nie. As jy verloor moet jy oorgee aan diegene wat gewen het,” het Mugabe aan joernaliste by State House in Harare Dinsdag gesê.

Baie min van hulle glo hom omdat herinneringe van die chaotiese 2008-verkiesing, wat deur moorde, aanrandings en intimidasie van politieke opponente deur Mugabe se Zanu-PF gekenmerk is, nog vars in die geheue van sy MDC-teenstanders is.

Duisende gewapende onlustepolisie is ontplooi in gebiede wat as brandpunte geïdentifiseer is.

Radio Zimbabwe berig dat duisende polisielede na die sentrale provinsie gestuur is, terwyl vragmotors met gewapende polisielede sekere dele van Harare patrolleer.

Die gebiede is vestings vir Tsvangirai en was die kern van die geweld na die verkiesing in 2008, waarin 200 mense dood is wat bande met die MDC gehad het.

Die verkiesing sal die einde van ‘n vierjaarlange wankelrige eenheidsregering beteken, met sowel die MDC as Zanu-PF wat voorspel dat hulle ver gaan wen.

Mugabe is reeds 33 jaar aan bewind, in ‘n ampstydperk wat deur ekonomiese chaos en vernietiging in sy land gekenmerk is, maar ten spyte daarvan nie sy gewildheid aangetas het nie.

Soldaat voor oor moord op polisiehoof

Tirhani Maswanganyi
Tirhani Maswanganyi

‘n Weermaglid is een van die vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die moord op die Johannesburgse polisiehoof maj. genl. Tirhani Maswanganyi beplan het, het die Pretoria-Noord-distrikhof Dinsdag gehoor.

Maswanganyi sou as getuie optree in ‘n belangrike korrupsiesaak en daar word vermoed dat dit die motief vir die moord was.

Ndaedzo Isaac Vele (29), Tshepo Mosai (30), Roger Godfrey Moseki (33), en Nditsheni Daniel Nefolohodwe (32), het vlugtig Dinsdag vlugtig in die hof verskyn voor hul borgtogaansoeke tot Donderdag uitgestel is.

Maswanganyi (51) se lyk is op 17 Junie naby Hammanskraal in ‘n veld, noord van Pretoria, gevind.

Sy hande en voete was vasgebind en sy verlate bakkie is langs die R101 gevind.

Lucas Moseki, staatsaanklaer, het gesê die staat sal borg vir die vier beskuldigdes teenstaan.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van moord, beplande moord, roof met verswarende omstandighede asook daarvan dat hulle ‘n voertuig sonder die eienaar se toestemming bestuur het.

Vele het in ‘n beëdigde verklaring wat aan die hof voorgelees is, gesê hy is ‘n soldaat. Hy vrees dat hy geskors kan word indien hy vir te lank in aanhouding is. Hy het verder gesê sy verloofde is swanger met hul eerste kind en sal in November kraam.

Vele het ook erken dat hy voorheen veroordeel is op aanklag van verkragting, waarvoor hy ‘n opgeskorte vonnis opgelê is.

Op die dag van die moord het hy sy bevelvoerder by die OR Tambo Internasionale Lughawe opgelaai en daarna ‘n paar goed vir haar gedoen.

Vele se bevelvoerder het in ‘n verklaring bevestig dat hy haar daardie dag by die lughawe gaan haal het.

Die bevelvoerder se verklaring is nie geverifieer nie en kan dus nie ingedien word as bewys nie.

Stander het gesê die borgaansoek kan nie voortgaan totdat dit nie gedoen is nie. – Sapa

Dodetal styg ná skietery by Grootvleimyn

Grootvleimyn
Grootvleimyn

Altesaam sewe onwettige mynwerkers het gesterf toe ‘n geveg in ‘n mynskag in Brakpan-Noord aan die Oos-Rand uitgebreek het. Nóg 12 is gewond.

Nooddienswerkers het aanvanklik op vier lyke afgekom by die Grootvleimyn.

Volgens berigte is skote die naweek afgevuur toe ‘n ondergrondse geveg tussen twee groepe onwettige mynwerkers uitgebreek het.

Sommige families beweer hul familielede is steeds vermis. Soek en reddingspanne sal later vandag besluit of hulle sal voortgaan met hul soektog na vasgekeerde onwettige mynwerkers.

Sewe liggame is sover gevind nadat skote gevuur is tydens ‘n ondergrondse botsing tussen twee strydende groepe werkers.

‘n Woordvoerder van die Ekurhuleni Nooddienste, Rogers Mamaila sê twee vlakke van die mynskag is deurgesoek sonder dat enige iemand gevind is en nog een vlak sal gefynkam word voordat ‘n besluit geneem word. – Sapa

Tlokwe se ANC-burgemeester skop vas

Annette Combrink, haastig vir haar kantoor
Annette Combrink ( links), haastig vir haar kantoor

Maphetle Maphetle, onsetelde burgemeester van Tlokwe, het Dinsdag geweier om sy kantoor te ontruim omdat hy teen ‘n hofbevel gaan appelleer, het ‘n ANC-woordvoerder gesê.

“Maphetle Maphetle beset die kantoor omdat die ANC besluit het om teen die uitspraak te appelleer,” het Kenny Morolong, woordvoerder van die ANC in die Noordwes, gesê.

“Die burgemeester en speaker, albei as applikante, het besluit om te appelleer en die ANC steun dit.”

Die Pretoriase hooggeregshof het Maandag ‘n aansoek verwerp om die raadsvergadering, waartydens Maphetle ontsetel is, nietig te verklaar.

Regter Neil Tuchten het bevind dat die vergadering en die verkiesing van die DA-raadslid Annette Combrink as burgemeester, wettig was.

Tuchten het ook bevind dat Maphetle se besetting van die burgemeesterskantoor onwettig is.

Op 2 Julie is Combrink vir die tweede keer sedert November tot burgemeester verkies nadat Maphetle ontsetel is.

Maphetle en die speaker van Tlokwe, Barei Segotso, het ‘n aansoek voor die hof gebring om die vergadering, waartydens Combrink tot burgemeester verkies is, nietig te verklaar.

Maphetle moes teen Dinsdagoggend 10:00 die kantoor ontruim. Die ANC het daarna gesê die uitspraak sal gerespekteer word.

Tiaan Kotzé, woordvoerder van die DA in die Noordwes, het gesê die burgemeester het Dinsdagoggend geweier om die kantoor te ontruim en het gesê die ANC appelleer teen die uitspraak.

“Die DA het nog nie regsdokumente ontvang nie. Wat hulle doen is heeltemal onwettig,” het Kotzé gesê.

Die party het die balju gevra om die hofbevel uit te voer en is besig om regsadvies in te win. – Sapa

SA eis Morsi se vrylating van Egipte

morsiDie Suid-Afrikaanse regering eis dat die ontsetelde president van Egipte, Mohammed Morsi, vrygelaat word.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, sê Suid-Afrika dring daarop aan dat die president “en alle ander politieke gevangenes onvoorwaardelik vrygelaat word.”

Hy het verwys na gevangenes wat “sedert die ongrondwetlike verandering van die regering op 3 Julie” in aanhouding is.

Monyela het bygevoeg dat die regering ook ‘n beroep gedoen het op alle partye om hul van “geweld en wraaksug te weerhou.”

Volgens Monyela is die regering bekommerd oor mense wat teen die ongrondwetlike verwydering van die ontsetelde president betoog, aangesien die optogte reeds talle mense se lewens geëis het.

Morsi is verlede jaar as die land se president verkies, en is vroeër vandeesmaand in ‘n staatsgreep ontsetel nadat talle betogings teen sy bewind gehou is. Hy is sedertdien nie in die openbaar gesien nie.

Sy ondersteuners hou onafgebroke optogte ter ondersteuning van sy heraanstelling.

Die afgelope naweek se geweld het die lewe van 82 mense geëis. – Sapa

FW verraai en Naspers verdraai

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt’s se Facebookblad

Die boikotaksie wat daar die afgelope paar weke spontaan teen die Naspersgroep losgebars het, kom ná jare van oneerlikheid deur mnr. Koos Bekker se maatskappy.

Naspers redeneer nie hy, hy stigmatiseer. Hy debatteer nie, hy verguis. Soos ‘n viswyf op die Kaapse dokke skel hy op enigeen wat maar ‘n millimeter van die gefabriseerde konsensus in dié land afwyk.

Van die eerste oomblik dat ek by die Afrikaanse taaldebat betrokke geraak het in die laat negentigerjare, het die Nasperskoerante my begin aanval en belaster. Die destydse redakteur van Die Burger, mnr. Arrie Rossouw het by die KKNK-kunstefees, wat insgelyks deur Naspers beheer word, ‘n platvloerse aanval op my en praag geloods deur te vra: “Wil jy Afrikaans hê, of wil jy vreet?”

Dit was na aanleiding van die veldtog wat ons destyds teen die maatskappy Parmalat gevoer het, wat Afrikaans van sy produkte verwyder het.

Naspers maak geld uit Afrikaans, sommer baie geld. Die KykNET-kanaal, wat benewens rugby een van die trekpleisters vir Afrikaners is om R600 per maand vir DSTV te betaal, is in Afrikaans. Oor die algemeen is Afrikaners lojale mense: lojaal teenoor hul taal, maar ook handelsmerke. Naspers buit daardie lojaliteit gewetenloos uit.

Terwyl Koos Bekker en sy kultuurmarxistiese trawante op die Naspersdireksie al die pad bank toe lag omdat hul sukses ten dele op Afrikanerlojaliteit gegrond is, ondermyn die maatskappy oral waar hy kan die beeld en posisie van Afrikaners in Suid-Afrika.

Net waar hy kan, verteken Naspers ons geskiedenis. Eers het FW verraai en nou gaan Naspers verdraai.

Naspers steun regstellende aksie en radikale grondhervorming. Terwyl hy ons, die Afrikaanse skrywers, sangers en taalaktiviste, maar ook ons hele volk, honend verguis en swartsmeer, is die blaaie van sy koerante en internetruimtes oop vir Britse radikales soos prof. Ruth Hall wat haat teen ons grondeienaars en boere aanhits.

Dis vir my die moeilikste van alles om te begryp: Waarom haat Koos Bekker en sy maatskappy die Afrikaner so? Eenmaal het Bekker in ‘n toespraak na ons verwys as “ruwe mense”. Was al ons groot skrywers, filosowe en politieke leiers uit die verlede “ruwe mense”? Al ons groot skilders soos Pierneef en Maggie Laubscher wie se skilderye vir miljoene op veilings in Londen verkoop word, ‘n digter soos N.P. van Wyk Louw, sangers soos Gé Korsten en Mimi Coertse, verdien hulle almal die stigma van “ruwe mense”?

Koos Bekker is seker die grootste filistyn in hierdie land se geskiedenis! Hy misken alles wat Afrikaans is.

Ek is nie geneig tot komplotteorieë nie, maar hier is iets baie snaaks aan die gang. Die een oomblik het FW de Klerk  nog die volk verseker dat hy met die ANC gaan “onderhandel”, die volgende oomblik dank hy sy eie generaals af en hensop voor Ronnie Kasrils, Joe Slovo en die bokwagter van Qunu, soos Albert Brenner na hom verwys.

En as gevolg van dít alles verkry Naspers ‘n mediamonopolie in Afrikaans en toenemend in Suid-Afrika. In weerwil van die Mededingingswet, duur daardie mononpolie tot vandag toe en word op allerlei onderduimse maniere onderhou. Die afgelope paar dae is praag.co.za se bediener aangeval en ons word deur naamlose mense op Facebook beswadder wat spog dat hulle op ons spioeneer en selfs ons privaat boodskappe en epos lees. Werk hulle vir Naspers? Werk Naspers saam met die Nasionale Intelligensiediens om onafhanklike media in Afrikaans in die kiem te smoor? Wat is hier aan die gang?

Watse beloftes of ooreenkomste is daar agter die skerms in die vroeë negentigerjare tussen Naspers en die ANC gemaak? Iets in die trant van: Ons kan saam plunder aan die oorblywende Afrikanerbates en sodra iemand sy kop uitsteek om vrae te vra, dan sê ons hom so sleg dat die see hom nie kan afwas nie?

Want dis min of meer die Naspers-modus-operandi. Sodra daar ‘n Afrikaner opstaan, of dit nou Steve of Sunette Bridges of Jaap Kelder of wie ook al is, wat indringende vrae begin vra oor plaasmoorde, korrupsie en die verval van plaaslike regering, dan is die Naspersmedia altyd daar om hulle as “rassiste”, “verregses” en “kranksinniges” te verguis.

In Suid-Afrika maak Naspers geld uit die Afrikaner, maar hy steun die politiek van die Afrikaner se vyande. Hoe rym dit? Ek dink ek het dit al voorheen gesê, maar Naspers is die enigste maatskappy ter wêreld wat nie van sy eie kliënte hou nie. Hy minag hulle. En natuurlik beskik Naspers oor ‘n horde kommentators en joernaliste wat in die maatskappykultuur geïndoktrineer is en wat ons, die “ruwe mense”, ewe veel minag.

Daarom spuug Max du Preez, Neels Jackson, Jonathan Jansen, Waldimar Pelser, Adriaan Basson, Tim du Plessis en ‘n horde ander ‘n konstante stroom Afrikanerhaat uit wat daarop gemik is om ons te kry om onsself te verag. Ook moet ons enige aanspraak wat ons op menseregte mag hê, selfs die mees basiese reg op lewe, afsweer.

As Afrikaner moet jy gesien en nie gehoor word nie. Jy moet stilletjies uit die vertrek verdwyn, jou plaas of jou huis afgee sodat Koos Bekker en Ton Vosloo vir hulle paleise en chateaux in Frankryk kan gaan koop. (Daaroor spog hulle in die “glanstydskrifte” wat hulle met ons geld in die Kaap uitgee.) As ‘n moordbende by jou huis of jou plaas opdaag, moet jy “in vrede vrek”, soos ‘n oudsoldaat dit eenkeer aan my gestel het.

Ons moet plaasmoorde en geweld as ‘n onvermydelike newe-effek van “demokrasie” aanvaar. So pas het die Naspersdagblaaie ‘n resensie oor die e-boek, Plaasmoord: behind the violence on South African farms gepubliseer. Die resensie is geskryf deur dieselfde linkse aktivis, Nechama Brodie, van Africa Check wat Steve Hofmeyr in die openbaar oor sy moordstatistiek aangeval en probeer diskrediteer het. In haar resensie, soos in haar sogenaamde “verslag” oor plaasmoordstatistiek, kom sy tot die gevolgtrekking dat “slegs 17 boere tussen 2003 en 2010 vermoor is!

Die Burger, Beeld en Volksblad laat geen debat oor hierdie of enige ander kwessie toe nie. Hulle leuse is mos:

“Ons redeneer nie, ons stigmatiseer.”

Daarom is Naspers se boodskap helder en duidelik:

“Ons sal enige standpunt, enige gerug, enige belediging publiseer solank dit vir die Afrikaner nadelig is en solank dit ons materiële belang dien.”

Hoe lank kan ons nog met die Naspersmonster saamleef? Óf ons sal hom moet vernietig, óf hy gaan ons vernietig.

Naspers delenda est.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt’s se Facebookblad

ANC erken Zim-burgers se aandeel in SA

Zim-wynkelners slaag die toets
Zim-wynkelners slaag die toets

Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het het toegegee dat pres. Robert Mugabese stelling dat Zimbabwiese burgers Suid-Afrika se ekonomie oorgeneem het, waar is.

Hy gesê Suid-Afrika kan by Mugabe gaan kers opsteek wat betref beleggings in onderwys en opleiding.
Hoewel “dit erg is om by Mugabe te hoor”, is dit nie onwaar nie, het Mantashe by ‘n inligtingsessie erken.
“In die landbou en gasvryheidsbedryf is daar orals Zimbabwiërs omdat ons jongmense blykbaar dink sulke tipe werk is benede hulle.”
Hy het ook Zanu-PF daarvan beskuldig dat hy die ANC wil destabiliseer met Julius Malema se Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), maar nie meer besonderhede gegee oor dié poging nie.
Mantashe het verklaar dat Malema se nuwe politieke beweging deur Zanu-PF gedryf word en daarom afwyk van die Vryheidshandves “en baie meer met Mugabe en Zanu-PF” te make het.
“Nêrens in die Vryheidshandves sê dit grond moet sonder vergoeding gevat word nie. Malema gaan te kere oor die besitreg van minerale onder die grond. Besit die staat dit nie reeds danksy wetgewing nie?”

Die ANC bekommer nie dat Malema die jeugstem gaan afrokkel nie. “Die jeug identifiseer met die EFF, akademici met (dr.) Mamphele (Ramphela) se Agang . . . die ANC is vir almal.”

Brittanje wil immigantestroom stop

ukimmigrationOm immigrasie te bevraagteken was vir jare beskou as rassisties in Brittanje, maar al drie vernaamste partye het begin om te praat oor die moeilike onderwerp in reaksie op stygende openbare angs dat die VK oorspoel gaan word deur ander rasse en kulture.

Die gewildheid van anti-immigrasie veldtogte deur veral UK Independence Party (UKIP) het die kwessie nou in die hoofstroom gedwing.

Cameron se regerende Konserwatiewes, wat agter raak by die Arbeiders in die plaaslike stembusse, het belowe om ‘n verreikende immigrasiebeleid in te voer en sê hulle gaan netto-immigrasie met ‘n derde verminder.

Die immigrasiekantoor in Brittanje het bevestig dat hy ‘n terugbetaalbare bedrag van ongeveer R45 000 gaan eis vir visums van “hoërisiko”-besoekers uit ses voormalige kolonies in Afrika en Asië.

Luidens ‘n verklaring wat Maandag uitgereik is, sal Brittanje voortgaan met die loodsprojek wat woede en beskuldigings uit verskeie oorde ontlok het. Die land is ook gewaarsku van weerwraak en dat die besluit handelsverhoudings kan skaad.

Dit is nie bekend wanneer die projek sal begin nie.

Indien die projek suksesvol is, sal Brittanje die bedrag “op ‘n intelligensie-geleide basis op enige visum-roete en enige land” kan toepas.

Die lande wat tans geraak word is Nigerië, Ghana, Indië, Pakistan, Bangladesj en Sri Lanka.

Die immigrasiekantoor het gesê hy hoop die deposito-stelsel verhoed dat mense te lank in die land bly en die koste van buitelanders se gebruik van openbare dienste kan verhaal. – AP

Tsvangirai betwis vry en regverdige verkiesing

Morgan Tsvangirai
Morgan Tsvangirai

Die Zimbabwiese eerste minister, Morgan Tsvangirai, sê hy glo nie dat die land se verkiesingskommissie môre ‘n vry en regverdige verkiesing in die land kan hou nie, en het gevra dat die lede bedank.

Tsvangirai het aan meer as 50 000 ondersteuners in Harare gesê hy vrees dieselfde stemknoeiery wat die vorige verkiesings in 2008 ontsier het, sal weer voorkom.

Hy sê die land se Verkiesingskommissie het getoon dat hy nie gereed is nie, nadat chaos voorgekom het tydens die vroeë stemmery op 14 en 15 Julie vir lede van die polisie en weermag wat op stemdag aan diens sal wees.

Hy het gewaarsku dat politieke onrus kan voorkom indien mense van stemlokale weggewys word en daar vermoedens is dat daar met die stemme geknoei is.

Die hoof van die Verkiesingskommissie, Rita Makarau, het die kommissie verdedig en gesê hulle is gereed om toesig oor ‘n geloofwaardige verkiesing te hou.

Met die ongenaakbaarheid wat sy politieke loopbaan reeds dekades lank kenmerk, het president Robert Mugabe gewaarsku Tsvangirai nie moet probeer om nie-amptelike uitslae aan te kondig indien die Zimbabwe Verkiesingskommissie (ZEC) versuim om hulle betyds vry te stel nie.

“[Mnr Tsvangirai] weet wat nie toegelaat word deur die wet nie. Die ZEC is die enigste organisasie watverkiesingsuitslae mag aankondig. Ek by voorbaat sê dat as jy ‘n wetbreker is, sal die polisie jou in hegtenis neem,” het Mugabe gesê. – RSG/Business Day

Onwettige dobbelmasjiene vernietig

slotmachineMeer as 400 onwettige dobbelmasjiene is in Mahikeng in Noordwes vernietig, nadat daarop beslag gelê is.

Die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling in die provinsie, Matlalepula Rosho, sê onwettige dobbelbedrywighede word deur hoogs gesofistikeerde sindikate uitgevoer.

Volgens die uitvoerende hoof van die provinsie se Dobbelraad, Themba Ngobese, is die wette oor die voorkoming van onwettige bedrywighede heeltemal voldoende, maar slenters verhoed behoorlike wetstoepassing.

Die onwettige operateurs het dikwels lasbriewe op ‘n tegniese punt betwis en kon daarin slaag om die deursoeking van die perseel te uit te stel.

Polisiebeampte gekaap

sapd2‘n Polisiebeampte is gewond nadat drie mans hom van sy dienspistool beroof en sy motor gekaap het, het die polisie in die Oos-Kaap Maandag gesê.

Die 45-jarige adjudant-offisier is Sondag in Mainstraat geskiet, waar hy stilgehou het, het kapt. Jackson Manatha gesê.

“Drie gewapende mans het die polisiebeampte en die ander insittende beveel om uit die motor te klim. Die beampte is van sy dienspistool beroof.”

Die mans het in die polisiebeampte se Toyota Corolla met die registrasienommer DWD 296 EC gevlug.

‘n Saak van poging tot moord en kaping word ondersoek. – Sapa

Carlton-juweeldiefstal beloop nou miljarde

Die Carlton, Grant en Kelly
Die Carlton, Grant en Kelly

Die organiseerder van ‘n diamantuitstalling en -verkope het die geraamde waarde van juwele wat tydens ‘n rooftog gesteel is, meer as verdubbel, het ‘n staatsaanklaer gesê.

Volgens die organiseerder is die juwele helderoordag in die Carlton-hotel, een van die deftigste hotelle in Cannes, gegryp. Die juwele is sowat R1,3 miljard werd.

Die polisie het vroeër gesê die rower het sowat R520 miljoen se juwele gebuit – wat dit selfs op dié vlak een van die grootste rooftogte in onlangse jare maak.

Philippe Vique, assistent-staatsaanklaer, het gesê die Doebai-gebaseerde organiseerder van die tentoonstelling het ná ‘n volle inventaris gesê die waarde van die gesteelde juwele is meer.

Vique het gesê owerhede is op soek na een verdagte wat te voet gevlug het.

Die tentoonstelling van die juwele was veronderstel om vir die publiek oop te wees tot aan die einde van Augustus.

Hotelle in Cannes lyk na ‘n gunstelingteiken hierdie jaar, met twee gewaagde juweelrooftogte wat reeds in Mei tydens die Cannes Filmfees gebeur het. Diewe het ‘n kluis uit die muur van ‘n hotelkamer gehaal met R11 miljoen se juwele.

In ‘n latere voorval, het diewe 80 hotelsekuriteitswagte uitoorlê en ‘n De Grisogono–halssnoer gegryp ter waarde van R30 miljoen sê die ontwerpers.

Die luukse Carltonhotel verskyn in die 1955 Alfred Hitchcock–film, met hartebreker Cary Grant as ‘n gereformeerde inbreker wat ‘n juweeldief met die hulp van mede-ster Grace Kelly jaag in To Catch a Thief.

Die hotel is geleë op die Promenade de la Croisette, wat 2,4 kilometer langs die see loop en ‘n vinnige wegkomkans vir diewe bied. – AP

Verhoor oor Amcu-erkenningsooreenkoms uitgestel

Amcu-lede
Amcu-lede

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddelling en Arbitrasie het ‘n verhoor oor die erkenningsooreenkoms tussen vakbonde en die platinummynmaatskappy Lonmin, tot aanstaande maand uitgestel.

Die mynvakbond AMCU het in Mei met onderhandelinge oor ‘n erkenningsooreenkoms begin.

Samesprekings tussen Lonmin en AMCU het vasgeval en die vakbond het die geskil na die KVBA verwys.

Die NUM het vroeër die maand ook ‘n geskil oor sy erkenning by Lonmin na die KVBA verwys, nadat die vakbond sy meerderheid by die myn verloor het en sy kantore teen die 16de van die maand moes ontruim.

Die NUM het daarna ‘n dringende aansoek by die Arbeidshof ingedien om Lonmin te keer om sy erkenningsooreenkoms op te skort.

Die hof het dié aansoek verwerp op grond daarvan dat dit nie dringend is nie.

Die vakbond Amcu het ‘n beroep gedoen op sy lede wat by Xstrata se Steelpoortmyn in Limpopo afgedank is, om nie deel te neem aan gewelddadige betogings nie.

‘n Mynwerker is Vrydag in onrus by die myn dood. Drie werkers is ook in hegtenis geneem nadat ‘n bus en ‘n vragmotor aan die brand gesteek is.

Die Amcu-takleier, Zeb Mabilu se broer, Leon Mabilu is die mynwerker wat Vrydag dood is.

Mabilu sê Amcu veroordeel Vrydag se geweld. Hy sê Amcu-lede gaan aanhou betoog, maar dit moet op ‘n vreedsame wyse geskied. – RSG