DA, EFF sal saamwerk in Tlokwe

tlokweDie DA wil met die 14 geskorste ANC-raadslede in die Tlokwe-stadsraad in Potchefstroom in Noordwes saamwerk wat gehelp het om Maphetle Maphetle as vorige burgemeester te ontsetel.

Die nuwe burgemeester, Annette Combrink, sal amptelik vandag met haar pligte begin.

Sy sê sy sien uit na die moontlikheid om met die geskorste raadslede in ‘n koalisie saam te werk.

Van dié lede ondersteun Julius Malema se Ekonomiese Vryheidsvegters.

Die DA het voorheen aangedui dat hulle van die geskorste raadslede wat met die EFF simpatiseer, finansieel sal ondersteun.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het Maandag beslis dat Maphetle uit die kantore moet padgee.

Die ANC het gister sy planne om teen die uitspraak te appelleer, laat vaar, nadat die ontsetelde burgemeester eers vasgeskop het en nie die kantoor wou ontruim nie. – RSG/praag

Tlokwe se ANC-burgemeester skop vas

Annette Combrink, haastig vir haar kantoor
Annette Combrink ( links), haastig vir haar kantoor

Maphetle Maphetle, onsetelde burgemeester van Tlokwe, het Dinsdag geweier om sy kantoor te ontruim omdat hy teen ‘n hofbevel gaan appelleer, het ‘n ANC-woordvoerder gesê.

“Maphetle Maphetle beset die kantoor omdat die ANC besluit het om teen die uitspraak te appelleer,” het Kenny Morolong, woordvoerder van die ANC in die Noordwes, gesê.

“Die burgemeester en speaker, albei as applikante, het besluit om te appelleer en die ANC steun dit.”

Die Pretoriase hooggeregshof het Maandag ‘n aansoek verwerp om die raadsvergadering, waartydens Maphetle ontsetel is, nietig te verklaar.

Regter Neil Tuchten het bevind dat die vergadering en die verkiesing van die DA-raadslid Annette Combrink as burgemeester, wettig was.

Tuchten het ook bevind dat Maphetle se besetting van die burgemeesterskantoor onwettig is.

Op 2 Julie is Combrink vir die tweede keer sedert November tot burgemeester verkies nadat Maphetle ontsetel is.

Maphetle en die speaker van Tlokwe, Barei Segotso, het ‘n aansoek voor die hof gebring om die vergadering, waartydens Combrink tot burgemeester verkies is, nietig te verklaar.

Maphetle moes teen Dinsdagoggend 10:00 die kantoor ontruim. Die ANC het daarna gesê die uitspraak sal gerespekteer word.

Tiaan Kotzé, woordvoerder van die DA in die Noordwes, het gesê die burgemeester het Dinsdagoggend geweier om die kantoor te ontruim en het gesê die ANC appelleer teen die uitspraak.

“Die DA het nog nie regsdokumente ontvang nie. Wat hulle doen is heeltemal onwettig,” het Kotzé gesê.

Die party het die balju gevra om die hofbevel uit te voer en is besig om regsadvies in te win. – Sapa

Tlokwe-uitspraak Maandag gelewer

tlokweUitspraak sal Maandag gelewer word in ‘n aansoek om ‘n raadsvergadering nietig te verklaar waarin die burgemeester van Tlokwe – Maphetle Maphetle – uit sy amp verwyder is.

Die uitspraak in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria is Dinsdag uitgestel. Die DA-raadslid – Annette Combrink – is aan die begin van die maand vir die tweede keer sedert November as die burgemeester in die munisipaliteit aangewys, wat Potchefstroom insluit.

Die tugkomitee van die ANC in Noordwes het die volgende dag 14 raadslede geskors en wil die vergadering waarop Combrinck gekies is, ongeldig verklaar.

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het die die saak oor wie die regmatige burgemeester van die Tlokwe munisipaliteit in Potchefstroom is, onbepaald uitgestel.

Die ANC het aangevoer dat die raadsvergadering waar Maphetle Maphetle as burgemeester uit sy amp verwyder is en vervang is deur die DA se Annette Combrinck, onwettig was.

Die party het intussen 14 raadslede geskors wat gehelp het om Combrinck as burgemeester te verkies.

Die ANC se provinsiale woordvoerder, Kenny Morolong sê hulle sal steeds hulle hoop in die regstelsel te plaas. Die regter het die DA en die ANC vroeër gewaarsku om nie staatsfondse te mors op hulle politieke stryd nie.

Die onafhanklike verkiesingskommissie in Noordwes het die datums vir tussenverkiesings in die Tlokwe munisipaliteit bekend gemaak.

Daar is 14 vakante poste in die munisipaliteit nadat die 14 ANC raadslede geskors is. Dr Tumelontle Thiba van die OVK sê die tussenverkiesings sal op 7 Augustus en 18 September gehou word.

’n Openbare verhoor deur Noordwes se staande komitee oor openbare rekeninge is Donderdag ontwrig ná die voorsitter, Patrick Chauke, verwys het na Maphetle Maphetle as die burgemeester van Tlokwe.

Die verhoor, wat handel oor ’n forensiese ondersoek verslag waarin Maphetle en lede van sy burgemeesterskomitee betrek word, kon nie verby die aanvanklike vraag van wie die munisipale bestuurder in Tlokwe is, vorder nie.

Die verwysing na Maphetle as die uitvoerende burgemeester het gelei tot uitbarstings deur lede van die publiek, sowel as verskeie geskorsde voormalige ANC-raadslede. RSG/OFM

Tlokwe-aansoek oor ANC-burgemeester vandag

Annette Combrink
Annette Combrink

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria sal Dinsdag ‘n aansoek deur die ANC aanhoor om die burgemeester van Tlokwe, Maphetle Maphetle, wat uit sy amp verwyder is, ongeldig te verklaar.

Die ANC wil ook ‘n raadsvergadering, waartydens die DA-raadslid, Annette Combrink as burgemeester ingestem is, nietig laat verklaar.

Die ANC erken Combrink nie as burgemeester nie en sê Maphetle is steeds in dié amp.

Combrink is vroeër die maand vir die tweede keer as burgemeester verkies sedert November toe Mpahetle ontsetel is.

Die ANC in Noordwes se dissiplinêre komitee het onlangs 14 van sy raadslede geskors toe hulle ten gunste daarvan gestem het om Maphetle uit sy amp te verwyder.

Ramaphosa, ANC-adjunkpresident, en Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, het die stad vroeër besoek in ‘n poging om die party se sake reg te ruk. Besonderhede oor die ontmoetings, wat ‘n lekgotla in Pretoria insluit, is nie bekend gemaak nie. Die vergaderings is agter geslote deure gehou.

Sowat 4 000 mense van die Ikageng-township by die stad het verlede Vrydag na die munisipale kantore opgeruk en onder meer geëis dat Maphetle die trekpas kry. Hulle eis dat die raadslede wat uit die party geskop is omdat hulle die DA gehelp het om Maphetle uit te skop, weer moet terug.

Die hooggeregshof in Pretoria sal vandag uitspraak lewer oor die geldigheid van die raadsvergadering se besluit.

Die Tlokwe-raad bestaan tans uit 22 opposisielede (onder wie 19 DA-lede) en 20 ANC-lede.