Tlokwe-aansoek oor ANC-burgemeester vandag

Annette Combrink
Annette Combrink

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria sal Dinsdag ‘n aansoek deur die ANC aanhoor om die burgemeester van Tlokwe, Maphetle Maphetle, wat uit sy amp verwyder is, ongeldig te verklaar.

Die ANC wil ook ‘n raadsvergadering, waartydens die DA-raadslid, Annette Combrink as burgemeester ingestem is, nietig laat verklaar.

Die ANC erken Combrink nie as burgemeester nie en sê Maphetle is steeds in dié amp.

Combrink is vroeër die maand vir die tweede keer as burgemeester verkies sedert November toe Mpahetle ontsetel is.

Die ANC in Noordwes se dissiplinêre komitee het onlangs 14 van sy raadslede geskors toe hulle ten gunste daarvan gestem het om Maphetle uit sy amp te verwyder.

Ramaphosa, ANC-adjunkpresident, en Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, het die stad vroeër besoek in ‘n poging om die party se sake reg te ruk. Besonderhede oor die ontmoetings, wat ‘n lekgotla in Pretoria insluit, is nie bekend gemaak nie. Die vergaderings is agter geslote deure gehou.

Sowat 4 000 mense van die Ikageng-township by die stad het verlede Vrydag na die munisipale kantore opgeruk en onder meer geëis dat Maphetle die trekpas kry. Hulle eis dat die raadslede wat uit die party geskop is omdat hulle die DA gehelp het om Maphetle uit te skop, weer moet terug.

Die hooggeregshof in Pretoria sal vandag uitspraak lewer oor die geldigheid van die raadsvergadering se besluit.

Die Tlokwe-raad bestaan tans uit 22 opposisielede (onder wie 19 DA-lede) en 20 ANC-lede.