
Maphetle Maphetle, onsetelde burgemeester van Tlokwe, het Dinsdag geweier om sy kantoor te ontruim omdat hy teen ‘n hofbevel gaan appelleer, het ‘n ANC-woordvoerder gesê.
“Maphetle Maphetle beset die kantoor omdat die ANC besluit het om teen die uitspraak te appelleer,” het Kenny Morolong, woordvoerder van die ANC in die Noordwes, gesê.
“Die burgemeester en speaker, albei as applikante, het besluit om te appelleer en die ANC steun dit.”
Die Pretoriase hooggeregshof het Maandag ‘n aansoek verwerp om die raadsvergadering, waartydens Maphetle ontsetel is, nietig te verklaar.
Regter Neil Tuchten het bevind dat die vergadering en die verkiesing van die DA-raadslid Annette Combrink as burgemeester, wettig was.
Tuchten het ook bevind dat Maphetle se besetting van die burgemeesterskantoor onwettig is.
Op 2 Julie is Combrink vir die tweede keer sedert November tot burgemeester verkies nadat Maphetle ontsetel is.
Maphetle en die speaker van Tlokwe, Barei Segotso, het ‘n aansoek voor die hof gebring om die vergadering, waartydens Combrink tot burgemeester verkies is, nietig te verklaar.
Maphetle moes teen Dinsdagoggend 10:00 die kantoor ontruim. Die ANC het daarna gesê die uitspraak sal gerespekteer word.
Tiaan Kotzé, woordvoerder van die DA in die Noordwes, het gesê die burgemeester het Dinsdagoggend geweier om die kantoor te ontruim en het gesê die ANC appelleer teen die uitspraak.
“Die DA het nog nie regsdokumente ontvang nie. Wat hulle doen is heeltemal onwettig,” het Kotzé gesê.
Die party het die balju gevra om die hofbevel uit te voer en is besig om regsadvies in te win. – Sapa

