SA eis Morsi se vrylating van Egipte

morsiDie Suid-Afrikaanse regering eis dat die ontsetelde president van Egipte, Mohammed Morsi, vrygelaat word.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, sê Suid-Afrika dring daarop aan dat die president “en alle ander politieke gevangenes onvoorwaardelik vrygelaat word.”

Hy het verwys na gevangenes wat “sedert die ongrondwetlike verandering van die regering op 3 Julie” in aanhouding is.

Monyela het bygevoeg dat die regering ook ‘n beroep gedoen het op alle partye om hul van “geweld en wraaksug te weerhou.”

Volgens Monyela is die regering bekommerd oor mense wat teen die ongrondwetlike verwydering van die ontsetelde president betoog, aangesien die optogte reeds talle mense se lewens geëis het.

Morsi is verlede jaar as die land se president verkies, en is vroeër vandeesmaand in ‘n staatsgreep ontsetel nadat talle betogings teen sy bewind gehou is. Hy is sedertdien nie in die openbaar gesien nie.

Sy ondersteuners hou onafgebroke optogte ter ondersteuning van sy heraanstelling.

Die afgelope naweek se geweld het die lewe van 82 mense geëis. – Sapa

Maak 'n opvolg-bydrae