Soldaat voor oor moord op polisiehoof

Tirhani Maswanganyi
Tirhani Maswanganyi

‘n Weermaglid is een van die vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die moord op die Johannesburgse polisiehoof maj. genl. Tirhani Maswanganyi beplan het, het die Pretoria-Noord-distrikhof Dinsdag gehoor.

Maswanganyi sou as getuie optree in ‘n belangrike korrupsiesaak en daar word vermoed dat dit die motief vir die moord was.

Ndaedzo Isaac Vele (29), Tshepo Mosai (30), Roger Godfrey Moseki (33), en Nditsheni Daniel Nefolohodwe (32), het vlugtig Dinsdag vlugtig in die hof verskyn voor hul borgtogaansoeke tot Donderdag uitgestel is.

Maswanganyi (51) se lyk is op 17 Junie naby Hammanskraal in ‘n veld, noord van Pretoria, gevind.

Sy hande en voete was vasgebind en sy verlate bakkie is langs die R101 gevind.

Lucas Moseki, staatsaanklaer, het gesê die staat sal borg vir die vier beskuldigdes teenstaan.

Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van moord, beplande moord, roof met verswarende omstandighede asook daarvan dat hulle ‘n voertuig sonder die eienaar se toestemming bestuur het.

Vele het in ‘n beëdigde verklaring wat aan die hof voorgelees is, gesê hy is ‘n soldaat. Hy vrees dat hy geskors kan word indien hy vir te lank in aanhouding is. Hy het verder gesê sy verloofde is swanger met hul eerste kind en sal in November kraam.

Vele het ook erken dat hy voorheen veroordeel is op aanklag van verkragting, waarvoor hy ‘n opgeskorte vonnis opgelê is.

Op die dag van die moord het hy sy bevelvoerder by die OR Tambo Internasionale Lughawe opgelaai en daarna ‘n paar goed vir haar gedoen.

Vele se bevelvoerder het in ‘n verklaring bevestig dat hy haar daardie dag by die lughawe gaan haal het.

Die bevelvoerder se verklaring is nie geverifieer nie en kan dus nie ingedien word as bewys nie.

Stander het gesê die borgaansoek kan nie voortgaan totdat dit nie gedoen is nie. – Sapa

Maak 'n opvolg-bydrae