Tsvangirai betwis vry en regverdige verkiesing

Morgan Tsvangirai
Morgan Tsvangirai

Die Zimbabwiese eerste minister, Morgan Tsvangirai, sê hy glo nie dat die land se verkiesingskommissie môre ‘n vry en regverdige verkiesing in die land kan hou nie, en het gevra dat die lede bedank.

Tsvangirai het aan meer as 50 000 ondersteuners in Harare gesê hy vrees dieselfde stemknoeiery wat die vorige verkiesings in 2008 ontsier het, sal weer voorkom.

Hy sê die land se Verkiesingskommissie het getoon dat hy nie gereed is nie, nadat chaos voorgekom het tydens die vroeë stemmery op 14 en 15 Julie vir lede van die polisie en weermag wat op stemdag aan diens sal wees.

Hy het gewaarsku dat politieke onrus kan voorkom indien mense van stemlokale weggewys word en daar vermoedens is dat daar met die stemme geknoei is.

Die hoof van die Verkiesingskommissie, Rita Makarau, het die kommissie verdedig en gesê hulle is gereed om toesig oor ‘n geloofwaardige verkiesing te hou.

Met die ongenaakbaarheid wat sy politieke loopbaan reeds dekades lank kenmerk, het president Robert Mugabe gewaarsku Tsvangirai nie moet probeer om nie-amptelike uitslae aan te kondig indien die Zimbabwe Verkiesingskommissie (ZEC) versuim om hulle betyds vry te stel nie.

“[Mnr Tsvangirai] weet wat nie toegelaat word deur die wet nie. Die ZEC is die enigste organisasie watverkiesingsuitslae mag aankondig. Ek by voorbaat sê dat as jy ‘n wetbreker is, sal die polisie jou in hegtenis neem,” het Mugabe gesê. – RSG/Business Day

3 thoughts on “Tsvangirai betwis vry en regverdige verkiesing”

Maak 'n opvolg-bydrae