Babalyk in Ceres gevind

crimesceneDie lyk van ‘n baba is in Ceres in die Wes-Kaap gevind, het die polisie gesê.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het gesê inwoners het die kind se lyk Maandag omstreeks 17:00 ontdek.

“‘n Saak van moord word ondersoek en ‘n nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om die oorsaak van die dood te bepaal. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Geen verdere besonderhede is bekend gemaak nie.

Van Wyk het persone met inligting gevra om die polisie te kontak. – Sapa

Regering stel plaaswerkers se werk in gevaar

landbouwerkTLU SA het die Minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersen, versoek om haar uit te spreek oor haar kollega van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se ideologiese proses om blanke grondeienaars van hulle regmatige eiendom te ontneem.

TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, noem minister Nkwinti se planne “konstruktiewe ontneming van blanke grondeienaar, indien dit nie doodgewone gewettigde grondgryp is nie”.

Mnr. Meintjes het Minister Joemat-Petterson in ‘n brief gevra of haar kollega se beleid dan regeringsbeleid is, en of sy, in wese ook as die minister wat ‘n direkte belang by voedselsekerheid het, kan saamgaan met daardie ideologiese benadering wat kommersiële landbou totaal gaan vernietig.

Terselfdertyd is Minister Nkwinti per brief ingelig dat totdat hy en sy departement die ordentlikheid aan die dag lê om op korrespondensie te reageer, TLU SA nie deel sal wees van die NAREG-proses of enige van sy ministeriële werksessies nie, en dat TLU SA sy optrede nie erken as deel van openbare deelname proses nie en dat dit ook nie voldoen aan administratiewe vereistes nie.

Mnr. Meintjes het ‘n beroep gedoen op Minister Joemat-Petterson om toe te sien dat die planne en voorstelle van grondhervorming, nie soveel reg aan werkers gee dat voedselsekerheid in gedrang kom nie, want in terme van daardie voorstelle sal boere uiteindelik geen besluite meer op hulle eie plase kan neem sonder arbeiders se goedkeuring nie.

“Hierdie voorstelle plaas die Regering effektief in beheer van alle landbou-eiendomme. Dit  is ‘n kommunistiese benadering wat gevolg word, en sal TLU SA geen ander keuse hê as om boere aan te moedig om  binne die korste moontlike tyd maatreëls in plek te kry om sonder arbeid hulle bedrywe voort te sit,” sê mnr. Meintjes.

Sou hierdie voorstelle in wetgewing vervat word sal dit die totale ekonomie negatief beïnvloed en voorspel ons hongersnood in Suid Afrika.

Ulundi glo broeines van politieke onverdraagsaamheid

moordNog niemand is in hegtenis geneem in verband met die dood van die ANC-voorsitter op Ulundi in KwaZulu-Natal nie.

Makhosonke Msibi is Sondagaand voor sy huis doodgeskiet na sy terugkeer van ‘n ANC-vergadering op KwaNongoma.

Ulundi en KwaNongoma het die afgelope jare bekend geraak as ‘n broeines vir politieke onverdraagsaamheid wat tot talle gewelddadige sterftes gelei het.

Intussen het die minister van Polisie, Nathi Mthethwa, aangedui dat hy Msibi se familie vandag sal besoek.- RSG

Amcu nooi NUM na Marikana-herdenking

marikanabordDie president van NUM, Senzeni Zokwana is na die beplande Amcu-herdenking van die Marikana-slagting uitgenooi, maar  het nog nie aangedui of hy die uitnodiging sal aanvaar nie.

Die mynwerkersvakbond Amcu het sy planne bekendgemaak om die Marikana-gebeurtenis Vrydag te herdenk.

Verlede jaar op 16 Augustus is 34 mynwerkers tydens skermutselings met die polisie doodgeskiet by Lonmin se myn op Marikana in Noordwes.

Die herdenkingsgeleentheid sal by Wonderkop gehou word waar Amcu-lede deur die polisie in ‘n lokval gelei is en afgemaai voor die wêreld se TV-kameras.

Advokaat Dali Mpofu, biskop Joe Seoka en die Amcu-leier Joseph Mathunkwa sal die geleentheid lei.

Die Minister van polisie, Nathi Mthethwa, het in Marikana in Noordwes aangekom na die skietery van ‘n NUM-vakbondverteenwoordiger in die gebied Maandag.

Die minister het by die plaaslike polisiestasie aangedoen vir ‘n inligtingsessie deur beamptes voordat hy die gesin van ‘n mynwerker wat na bewering doodgeskiet is – die 27-jarige Mncedi Mabhulu – besoek het.

Volgens sekere berigte is dit steeds onduidelik op hierdie stadium hoe die mynwerker gesterf het, hoewel daar aanvanklik berig is dat sy geskiet is.

Intussen het die polisie gister toegeslaan opmynhostelle in Marikana en beslag gelê op ‘n aantal tradisionele wapens.

Intussen dreig die Farlam-kommissie om uitmekaar te val weens ‘n gebrek aan befondsing vir die slagoffers. Privaatfinansiers glo die staat moet die Marikana–slagoffers se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu en ander vergoed, en hulle is dus huiwerig om geld te gee.

Hierdie potensiële befondsers sluit die Raith-stigting en die Black Lawyers Association in. Raith het reeds R2 miljoen bewillig.

Verdere uitstel sal nadelig wees vir die kommissie, en die beseerdes en aangeklaagdes moet teenwoordig wees by die verrigtinge as die kommissie hervat om met sy geloofwaardigheid ongeskonde ander kant uit te kom, het waarnemers gesê.

Myner geskiet by Wonderkop, dae voor Marikana-herdenking

myner‘n Myner is Maandag doodgeskiet by ‘n woongebied in Wonderkop, naby Lonmin se Marikanamyn buite Rustenburg, het Noordwes-polisie gesê.

Die 44-jarige vrou is in die kop geskiet terwyl sy teruggekeer het van ‘n winkel op Wonderkop om 12:30, het brig. Thulani Ngubane gesê.

“Dit is ‘n myn residensiële gebied wat nie ver van Rowland Shaft is nie en in die nabyheid van die National Union of Mineworkers (NUM) en Association of Mineworkers and Construction Union se kantore by Lonmin.”

Die vrou, wat gewerk het op vier Belt Shaft, was van diens af ten tye van haar dood. Ses 9mm patrone is gevind.

‘n Moorddossier is geopen. Die motief is nog nie bekend nie.

Ngubane kon nie NUM se vroeëre bewering bevestig dat die vermoorde vrou ‘n NUM-organiseerder was nie.

Noordwes se polisie kommissaris Lt-genl Zukiswa Mbombo het ‘n beroep op plaaslike inwoners gedoen om nie te spekuleer oor die motief vir die moord nie.

Vroeër, het NUM se woordvoerder Lesiba Seshoka gesê in ‘n verklaring dat die vrou ‘n vakbondorganiseerder was.

“Ons is teleurgesteld dat te midde van die toenemende sluipmoorde in Marikana en die breër Rustenburg-area, daar nie enige vordering met betrekking tot die inhegtenisneming en vervolging van die verdagtes is nie,” het hy gesê.

“Terwyl baie van die verdagtes bekend is aan die polisie, is nie een in hegtenis geneem of vervolg nie.”

Seshoka het gesê Lonmin-vakbondverteenwoordigers is opdrag gegee om terug te keer om te werk, selfs al het die NUM gewaarsku dat dit nie veilig is nie.

“Die vakbond is bekommerd dat die maatskappy se pre-okkupasie met winste en die polisie se onbevoegdheid kan lei tot ‘n ernstige bloedbad in Rustenburg,” het Seshoka gesê.

Kommentaar van Lonmin was nie onmiddellik beskikbaar nie.

Cosatu het gesê dit is tragies dat die moord gebeur het dae voor die 16 Augustus-herdenking van die Marikana-slagting.

In die vorige week, is 10 mense, onder wie twee polisiebeamptes en twee veiligheidswagte, dood in staking-verwante geweld.

OB besoek Nkandla onder wolk van geheimhouding

Die Openbare Beskermer (OB), het pres. Jacob Zuma se Nkandla-kompleks Maandag besoek.

Thuli Madonsela
Thuli Madonsela

Dit vorm deel van haar ondersoek na staatsbesteding wat tot R206 miljoen aan verbeterings aan Nkandla beloop.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, en van haar senior amptenare het OB Thuli Madonsela na die kompleks vergesel, het Mike Ramagoma, die minister se adviseur, gesê.

Die OB en die regering is volgens Ramagoma dit eens daar moet verseker word dat die veiligheid by Nkandla nie deur die besoek benadeel word nie.

Madonsela wou nie besonderhede bekend maak oor haar ondersoek na die veiligheidopgradering aan die president se Nkandla-woning nie.

Madonsela het bevestig dat sy die woning gister besoek het as deel van haar ondersoek, maar sê kragtens die wet op die openbare beskermer kan inligting nie nou bekend gemaak word nie.
Haar kantoor sê sy wag steeds vir inligting om haar ondersoek te voltooi. Haar voorlopige verslag sal aan alle betrokke partye bekend gemaak word.
Die finale verslag sal glo wel openbaar gemaak word.

Thulas Nxesi, minister van openbare werke, het sy departement se ondersoek na die Nkandla-projek vroeër ingevolge die minimum-inligting-veiligheidstandaarde geklassifiseer.

Nxesi het dié besluit blykbaar geneem omdat die verslag volgens die departement sensitiewe kwessies insluit wat Zuma se veiligheid kan bedreig as dit uitlek.

Die OB hoop om die Nkandla-verslag teen die einde van die week te voltooi.

Kabinet wens Zim geluk met suksesvolle verkiesings

Tina Joemat-Pettersson
Tina Joemat-Pettersson

Die Kabinet het ‘n verklaring uitgereik waarin hulle “die mense van Zimbabwe en politieke partye gelukwens met die suksesvolle, gladde parlementêre en plaaslike verkiesings”.

Pres. Jacob Zuma se rol as die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se fasiliteerder geprys en gesê die rol wat dialoog gespeel het om alle politieke partye te oorreed tot vreedsame verkiesings, was deurslaggewend.

Daar heers eenstemmigheid in die SAOG oor die geloofwaardigheid van die Zimbabwiese verkiesingsuitslag, met die uitsondering van Botswana wat meen die verkiesing was nie vry en regverdig nie.

Botswana is die enigste land in die Gemeenskap wat nie van Suid-Afrika afhanklik is nie, weens die diamantreus De Beers se belange in die land.

Die SAOG vergader Saterdag en Sondag onder meer om die verslag van sy waarnemerspan by die Zimbabwiese verkiesing te oorweeg en ’n besluit oor die aanvaarbaarheid van die verkiesing te neem.

By die inligtingsessie na afloop van die kabinetsvergadering het Phumla Williams, waarnemende kabinetswoordvoerder, en Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, gesê Suid-Afrika het nog nie ’n finale gevolgtrekking oor die verkiesingsuitslag gemaak nie.

 

 

Onderhandelinge tussen goudprodusente, vakbonde hervat

goldSalarisonderhandelings tussen vakbonde en goudprodusente hervat vandag voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.

Vier vakbonde wat mynwerkers verteenwoordig het ‘n geskil verklaar nadat samesprekings met die Kamer van Mynwese verlede maand misluk het.

Die saak is toe na die kommissie verwys. Dit is die derde keer die maand dat die partye voor die kommissie is.

Die goudbedryf bied ‘n salarisverhoging van vyf persent aan, terwyl vakbonde tot 100% eis, afhangende van senioriteit.

Die Kamer van Mynwese sê werkgewers se aanbod is gebaseer op die dalende goudprys en ‘n afname in produktiwiteit.

Die Kamer verteenwoordig goudprodusente wat sowat 140 000 mynwerkers in diens het. – RSG

Staking dreig in steenkoolbedryf

steenkool‘n Dreigende staking in die steenkoolbedryf, sal geweldige druk op die land se kragnetwerk plaas.

Die vakbonde, Solidariteit, UASA en die NUM het ‘n geskil met hul werkgewers verklaar en gevra dat loononderhandelinge deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie gehoor word.

Die vakbonde het produsente se hersiene aanbod van 7,5% vir ongeskoolde myners en 7% vir geskoolde myners, verwerp.

Motsamai Motlhamme, die sektor se hoofonderhandelaar, sê hulle moet nog sekere kwessies met die KVBA oor die onderhandelinge besleg.

 

 

Tekort aan maatskaplike werkers in SA

maatskaplikewerkDie Instituut vir Rasse-aangeleenthede sê die tekort aan maatskaplike werkers in die land is ‘n bron van kommer.

Die Instituut sê ‘n ondersoek wat gedoen is toon dat die land sowat 16 700 gekwalifiseerde maatskaplike werkers het, maar dat die meerderheid nie praktiseer nie.

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini het verlede week gesê die departement onderhandel met die nasionale tesourie om fondse te verkry sodat nuwe gegradueerdes wat nie werk kry nie, in diens geneem kan word.

Die instituut sê sowat 40 persent van maatskaplike werkers is veronderstel om in die Regering se diens te wees en dat daar ondersoek ingestel moet word na die rede hoekom soveel werkers nie praktiseer nie. – RSG

Afrika eis dringende Veiligheidsraad-hervorming

Vuk Jeremic
Vuk Jeremic

Suid-Afrika het die Verenigde Nasies gevra om sy Veiligheidsraad te wysig om Afrika-state in te sluit.

Die president van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het ‘n oproep vir die hervorming van die Veiligheidsraad gedoen.

Vuk Jeremic het die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking Maite Nkoana–Mashabane in Pretoria ontmoet oor die aangeleentheid.

‘n Dringende oproep vir verandering om ‘n meer deursigtige en verteenwoordigende Veiligheidsraad is insgelyks deur die minister geloods.

“Daar sal geen verandering wees sonder ons nie, aangesien 70% van die kwessies wat na die Veiligheidsraad vir bespreking verwys word, rondom ons handel. So kan dit nie voortgaan sonder ons nie,” het sy bygevoeg.

Die Raad het vyf permanente lede met vetoreg en 10 verkose nie-permanente lede met ‘n twee jaar termyn met geen vetomagte nie. Suid-Afrika het reeds twee termyne as ‘n nie-permanente lid gedien.

“As dit nie Afrika insluit nie dan is ons beter af sonder enige verandering, en verandering is nodig. Anders sal die VN sal stadig wegkwyn na irrelevansie.“

Sy het beklemtoon dat die raad kan nie langer sonder die vasteland kan aangaan nie.

Pretoria: Dele nog sonder water

Pretoria
Pretoria

Die meeste gebiede in Pretoria, insluitende Sunnyside, Arcadia, Hatfield en nabygeleë voorstede ondervind sedert die naweek watertekorte.

Die Tshwane Metroraad sê dit is weens ‘n hoofpypleiding wat by die Bosmanstasie gebars het.

‘n Woordvoerder, Blessing Manale, sê kontrakteurs het sedert gister aan die pype gewerk en hoop om die toevoer binnekort herstel te hê.

Inwoners moes die hele naweek met wateronderbrekings sukkel.

Die stad sê die watertoevoer na Sunnyside en Arcadia sal vanmiddag herstel wees.

‘n Woordvoerder sê herstelwerk aan die hoofpypleiding, wat gebars het, is voltooi en dat waterverbindings herstel sal wees sodra die waterdruk gestabiliseer het. – RSG

Vragmotor vol sianied slaan om

cyanide‘n Vragmotor wat sianied vervoer het op die R33 tussen Amsterdam en Piet Retief in Mpumalanga omgeslaan.

Die hoofbrandweerbeampte van die Mkhondo plaaslike munisipaliteit, Anton Nortje, sê die pad sal tot môre gesluit word vanweë die gevaar om die gifstof te verwyder.

Hy het motoriste versoek om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

Klipgooiers versper pad, brand voertuig in Limpopo

limpopoprotestInwoners van Ha-Bungeni buite Makhado in Limpopo het ‘n voertuig van die Departement van Watersake aan die brand gesteek en ‘n sjebeen afgebrand.

Die inwoners het die Bungeni-Mashau-pad ook versper en voertuie beskadig uit woede nadat die liggaam van ‘n verstandelik gestremde man gevind is.

Intussen is die situasie kalm by Tshisaulu naby Thohoyandou waar inwoners gisteraand ‘n pad met brandende bande en klippe versper het.

Die oproerige skare eis die inhegtenisneming van ‘n moordverdagte nadat ‘n vrou se liggaam met ‘n meswond twee weke gelede gevind is.

Motoriste moes tussen Thohoyandou en Makhado naby Tshilidzini–hospitaal onder klipgooiers deurloop.

Die ontdekking van die vrou se liggaam met steekwonde het inwoners in opstand laat kom want hulle sê daar is al talle moorde in die gebied.

“Die rede waarom mense in opstand is, want baie mense gaan hier dood. Daar is ‘n staking, want die mense glo die polisie doen niks daaraan nie. So mense is in opstand sodat die polisie iets moet doen. Misdaad gebeur in Tshisaulu en die polisie doen niks daaraan nie,” het een van die inwoners gekla.