Duisende mense sal na verwagting opdaag vir die herdenkingsdiens op Wonderkop by Marikana waar 34 mynwerkers ‘n jaar gelede gedurende onwettige stakings in ‘n polisielokval omgekom het.
Vakbonde, waaronder NUM en Solidariteit, het Amcu se uitnodiging om deel te neem van die hand gewys.
President Jacob Zuma het intussen om kalmte gepleit nadat nog sterftes onlangs by Wonderkop aangemeld is en daar daar sprake van hernude geweld tussen die twee strydende vakbonde NUM en Amcu was.
Hy het die land gevra om 16 Augustus as ‘n dag van gebed en verootmoediging te beskou.
Die NUM en Solidariteit sal aan die herdenking by Marikana deelneem nie. Solidariteit se adjunk-hoofsekretaris – Gideon du Plessis – sê sy vakbond is nie bereid om die verhoog met Lonmin te deel nie.
Die Metodiste Kerk van Suid-Afrika sê intussen geleenthede om die slagting te herdenk, moet met waardigheid plaasvind. Biskop Ziphozile Siwa sê die onderskeie seremonies wat gehou word mag nie politieke ondertone hê nie.
Siwa het ook ‘n pleidooi gelewer vir finansiële ondersteuning vir die Marikana kommissie.
Op 16 Augustus verlede jaar is 34 mynwerkers dood en 78 beseer toe die polisie met skerppunt-ammunisie op onwettige stakers geskiet het.
Familielede en naasbestaandes van die slagoffers sal na verwagting die eerste herdenking van die slagting in Rustenburg bywoon.
Die ANC in Noordwes het by die mynwerkersvakbond, NUM aangesluit en boikot die herdenking omdat dit volgens hulle nie die Marikana-ondersteuningsgroep ondersteun wat die geleentheid georganiseer het nie.
Die ANC sê hulle beskou dit as immoreel en onaanvaarbaar dat ‘n traumatiese voorval die politieke speelveld van sommige partye word.
Die Grondwethof sal vandag ‘n beslissing maak oor of die Staat die regskostes van die mynwerkers moet betaal wat tydens die Marikana voorval gewond of in hegtenis geneem is.
Indien die Marikana kommissie wat die dood van die slagoffers ondersoek nie staatsbefondsing ontvang nie, loop dit die gevaar om uitmekaar te val. Advokaat Dali Mpofu verteenwoordig die mynwerkers.
Hy het die Staat hof toe geneem en gevra dat sy regspan vir hul dienste betaal word, aangesien die privaat instansies nie langer hul weg oopsien om die slagoffers se regspan te ondersteun nie.