Marikana-ondersoek hervat

calitz
Brig. Adriaan Calitz

Die Marikana Kommissie van Ondersoek sal na verwagting vanoggend hervat word ná ‘n maandlange reses.

Verlede maand het Brigadier Adriaan Calitz van die polisie getuig.

Hy het getuig oor of die polisie uit noodweer opgetree het toe hulle in 2012 op die stakende mynwerkers geskiet het.

Vier-en-dertig myners is in die skietery dood.

Die regsverteenwoordiger van die gesinne van die myners, Dumisa Ntsebeza het hom gepeper met vrae oor of die polisie aangeval was.

Die gesinne van die Amcu-stakers beweer die polisie het nie uit noodweer opgetree nie, alhoewel daar volgens Calitz intelligensie oor opsetlike provokasie en uittarting was.

‘n Woordvoerder van die Kommissie, Phuti Setati sê Calitz sal verder getuig, waarna Kolonel Solomon Vermaak van die SAPD geroep sal word.

Twintig getuies moet nog ondervra word, het RSG berig.

Verlede jaar, het die regsverteenwoordigers van die 200 stakers wat in hegtenis geneem is, onttrek van die verrigtinge. Hulle wou deur die Staat betaal word.

Na maande se twis het die Regshulpraad van Suid-Afrika ‘n mandaat om hulle te betaal gekry.

Bizos roskam Duncan Scott oor Marikana-slagting

George Bizos
Adv. George Bizos

Luitenant-kolonel Duncan Scott van die polisie is vanoggend geroskam deur advokaat George Bizos van die Regshulpsentrum tydens die Marikana Kommissie van Ondersoek se sitting in Centurion.

Bizos het tydens Scott se kruisverhoor hom gevra hoe die polisie daarin geslaag het om 34 mynwerkers dood te skiet en self ongedeerd daaruit te kom.

Die plan wat deur die polisie uitgevoer is om die oproeriges op Marikana te bedwing, was Scott se idee.

Dit het behels om die mynwerkers uiteen te jaag, te omsingel en te ontwapen op 16 Augustus verlede jaar.

Bizos voer aan dat almal wat die plan uitgedink, aanvaar en uitgevoer het, vir die sterftes verantwoordelik is. – RSG

Saak teen Lonminmyners uitgestel

Duncan Scott
Duncan Scott in die warm stoel

Die saak teen die 270 Lonmin-mynwerkers en lede van die publiek wat aangekla word van openbare geweld, ‘n onwettige byeenkoms en besit van gevaarlike wapens is in die Garankuwa landdroshof tot 20 Maart volgende jaar uitgestel.

Die regsverteenwoordiger vir die mynwerkers, advokaat Dali Mpofu sê ‘n aansoek gaan voor die hof gebring word om die saak uit te gooi, omdat dit nie suksesvol verhoor kan word nie.

Hy sê die saak moet teruggetrek word hangende die uitkoms van die Marikana-kommissie van ondersoek.

Die mense is in hegtenis geneem na die onbeskermde staking by die Lonmin platinum-myn by Marikana in Augustus verlede jaar. Vier-en-dertig mense is dood nadat die polisie op stakende werkers geskiet het.

Intussen hervat die Marikana-kommissie van ondersoek vandag sy werksaamhede nadat dit ‘n week lank verdaag het.

Die getuienisleier, Matthew Chaskalson sal voortgaan om die polisie se Duncan Scott te ondervra, terwyl 28 getuies nog voor die kommissie moet getuig.

Advokaat Dali Mpodu sal weer gearresteerde en beseerde mynwerkers verteenwoordig ná ‘n hofbeslissing dat die werkers se regskoste deur die staat betaal moet word. – RSG