Die Openbare Beskermer (OB), het pres. Jacob Zuma se Nkandla-kompleks Maandag besoek.

Dit vorm deel van haar ondersoek na staatsbesteding wat tot R206 miljoen aan verbeterings aan Nkandla beloop.
Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, en van haar senior amptenare het OB Thuli Madonsela na die kompleks vergesel, het Mike Ramagoma, die minister se adviseur, gesê.
Die OB en die regering is volgens Ramagoma dit eens daar moet verseker word dat die veiligheid by Nkandla nie deur die besoek benadeel word nie.
Madonsela wou nie besonderhede bekend maak oor haar ondersoek na die veiligheidopgradering aan die president se Nkandla-woning nie.
Thulas Nxesi, minister van openbare werke, het sy departement se ondersoek na die Nkandla-projek vroeër ingevolge die minimum-inligting-veiligheidstandaarde geklassifiseer.
Nxesi het dié besluit blykbaar geneem omdat die verslag volgens die departement sensitiewe kwessies insluit wat Zuma se veiligheid kan bedreig as dit uitlek.
Die OB hoop om die Nkandla-verslag teen die einde van die week te voltooi.
