TLU SA het die Minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersen, versoek om haar uit te spreek oor haar kollega van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se ideologiese proses om blanke grondeienaars van hulle regmatige eiendom te ontneem.
TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, noem minister Nkwinti se planne “konstruktiewe ontneming van blanke grondeienaar, indien dit nie doodgewone gewettigde grondgryp is nie”.
Mnr. Meintjes het Minister Joemat-Petterson in ‘n brief gevra of haar kollega se beleid dan regeringsbeleid is, en of sy, in wese ook as die minister wat ‘n direkte belang by voedselsekerheid het, kan saamgaan met daardie ideologiese benadering wat kommersiële landbou totaal gaan vernietig.
Terselfdertyd is Minister Nkwinti per brief ingelig dat totdat hy en sy departement die ordentlikheid aan die dag lê om op korrespondensie te reageer, TLU SA nie deel sal wees van die NAREG-proses of enige van sy ministeriële werksessies nie, en dat TLU SA sy optrede nie erken as deel van openbare deelname proses nie en dat dit ook nie voldoen aan administratiewe vereistes nie.
Mnr. Meintjes het ‘n beroep gedoen op Minister Joemat-Petterson om toe te sien dat die planne en voorstelle van grondhervorming, nie soveel reg aan werkers gee dat voedselsekerheid in gedrang kom nie, want in terme van daardie voorstelle sal boere uiteindelik geen besluite meer op hulle eie plase kan neem sonder arbeiders se goedkeuring nie.
“Hierdie voorstelle plaas die Regering effektief in beheer van alle landbou-eiendomme. Dit is ‘n kommunistiese benadering wat gevolg word, en sal TLU SA geen ander keuse hê as om boere aan te moedig om binne die korste moontlike tyd maatreëls in plek te kry om sonder arbeid hulle bedrywe voort te sit,” sê mnr. Meintjes.
Sou hierdie voorstelle in wetgewing vervat word sal dit die totale ekonomie negatief beïnvloed en voorspel ons hongersnood in Suid Afrika.
