Die Instituut vir Rasse-aangeleenthede sê die tekort aan maatskaplike werkers in die land is ‘n bron van kommer.
Die Instituut sê ‘n ondersoek wat gedoen is toon dat die land sowat 16 700 gekwalifiseerde maatskaplike werkers het, maar dat die meerderheid nie praktiseer nie.
Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini het verlede week gesê die departement onderhandel met die nasionale tesourie om fondse te verkry sodat nuwe gegradueerdes wat nie werk kry nie, in diens geneem kan word.
Die instituut sê sowat 40 persent van maatskaplike werkers is veronderstel om in die Regering se diens te wees en dat daar ondersoek ingestel moet word na die rede hoekom soveel werkers nie praktiseer nie. – RSG
