Jonathan Jansen oor sy moedertaal

Deel op
'Ras/kleur is die aanjaer ('turbo') vir transformasie; verandering wat geensins verbetering hoef te wees nie."
‘Ras/kleur is die aanjaer (‘turbo’) vir transformasie; verandering wat geensins verbetering hoef te wees nie.’

deur Leon Lemmer

In die nuwe Suid-Afrika is daar baie nuwe dinge waaraan gewoond geraak moet word. Een hiervan is die kitsrektor. Hierdie term verwys na iemand wat nie oor tyd deur die range (van junior lektor tot lektor tot senior lektor tot medeprofessor tot professor) gevorder en op elke vlak behoorlik ondervinding van die akademie opgedoen het nie. Nee, hierdie mense het hulle sommer gou in ‘n pos hoër as dié van professor (naamlik dekaan, viserektor of rektor) bevind. Op daardie senior vlakke is ‘n mens veronderstel om reeds grondige ervaring van en insig in die wese van die akademie te hê. Weens gebrekkige voorbereiding kan dit kwalik van kitsgevalle verwag word.

Dit is natuurlik moontlik om buitengewoon vinnig in die akademie te vorder as iemand akademies buitengewoon briljant is. In die nuwe Suid-Afrika gaan dit egter nie hierom nie. Dit gaan veel eerder om transformasie, wat insluit dat iemand op grond van ras/kleur en geslag vinnig na die boonste vlakke kan vorder; natuurlik mits hy/sy nie wit en manlik is nie. Dit kan op vordering in die akademie ten koste van die akademie dui.

Tradisioneel blanke Afrikaanse universiteite ly seker die ergste onder die kitsrektorverskynsel. Hierby kom ‘n tweede kenmerk eie aan die nuwe Suid-Afrika, naamlik dat die blanke rektore aan Afrikaanse universiteite plek vir bruin rektore moet maak. Hier geld veral twee oorwegings. Eerstens word gepoog om die indruk te wek dat ‘n bruin rektor ‘n mindere bedreiging as ‘n swarte vir die heil van Afrikaans as onderrigtaal inhou. Tweedens funksioneer die bruin rektor as oorgangsfiguur van die vorige wit rektore na die swart rektore wat noodwendig na die bruine kom. Eers met ‘n swart rektor in die stoel sal die transformasieproses volledig verwesenlik wees. Ras/kleur is die aanjaer (“turbo”) vir transformasie; verandering wat geensins verbetering hoef te wees nie.

Wat baie duidelik by die vulling van sodanige rektorskappe behoort te wees, is dat die politieke stert die akademiese hond swaai. Wat reeds net so duidelik is, is dat ‘n bruin rektor nie met die heil van Afrikaans vertrou kan word nie. Daar is die klassieke voorbeeld van Jakes Gerwel, ‘n hoogleraar in Afrikaans, wat om politieke redes sy intreerede in Engels gelewer het en as rektor die Universiteit van Wes-Kaapland om politieke redes van ‘n oorwegend Afrikaanse universiteit tot ‘n uitsluitlik Engelse universiteit getransformeer het. Hoeveel te meer sal bruin rektore uit ander dissiplines as Afrikaans nie met oorgawe dieselfde paadjie bewandel nie? Hier onder vestig ek die aandag op drie sodanige rektore wat onderskeidelik as ‘n sielkundige, teoloog en opvoedkundige beskou word.

Daar is net een tradisioneel Afrikaanse universiteit waar Afrikaans (nog) nie (erg) agteruit boer nie en dit is die Potchefstroom-kampus. Die rede hiervoor is dat dit die enigste sodanige inrigting is wat steeds ‘n wit rektor het, maar sy pos word vir vulling in 2014 geadverteer. Aan universiteite is die stragegie om die universiteitsraad te transformeer, dus demografies meer verteenwoordigend te maak, en dan die rektorstoel teen wil en dank met ‘n nie-witte te vul.

Sedert 2009 is Cheryl de la Rey die rektor van die Universiteit Pretoria. Sy het in 1983 die graad BA behaal en eers in 1999 die doktorsgraad. Ná drie jaar as onderwyseres het sy wel deur die range van junior lektor tot professor en daarna tot viserektor gevorder. Maar sy het twee nie-akademiese voordele geniet, naamlik sowel ras/kleur as geslag. Die aankondiging van haar aanstelling as rektor is met ongeloof begroet. Sy kon dit aanvanklik self ook nie glo nie. Naas geslag onderskei ‘n ander faktor haar van die twee gevalle hieronder, naamlik dat sy Engelssprekend wil wees omdat sy naskools uitsluitlik aan Engelsmedium-universiteite (Durban-Westville en Kaapstad) studeer het. Daar moet nie verwag word dat sy uit haar pad sal gaan om Afrikaans as onderrigtaal te bevorder nie.

Russel Botman is sedert 2007 die rektor van die Universiteit Stellenbosch. Hy het in 1978 die graad BA verwerf en eers in 1994 die doktorsgraad. Hy was twaalf jaar lank predikant waarna hy in 1994 senior lektor, in 1999 medeprofessor, in 2000 professor en in 2002 viserektor geword het. Ras/kleur/transformasie (die onderwerp van sy doktorale proefskrif), dus politieke oorwegings, het skynbaar so ‘n groot rol in sy vinnige vordering in die akademie gespeel dat sy aktivistiese UDF/ANC-verlede eerder as ‘n bate pleks van, soos dit hoort, as ‘n absolute diskwalifikasie gefunksioneer het. Hy is deurgaans in Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland onderrig, waaruit egter nie afgelei moet word dat hy enigsins met die heil van Afrikaans vertrou kan word nie.

‘Jonathan Jansen se doktorale proefskrif van skaars 200 bladsye handel oor ‘n dekade van Zimbabwe se skoolleerplanne’

Jonathan Jansen is sedert 2009 die rektor van die Universiteit Vrystaat. Hy het die graad BSc in 1979 aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi en ‘n biologie-onderwyser geword. Beurse het hom in staat gestel om ses jaar lank in Amerika te studeer, waar hy aan twee uiters linkse universiteite, Cornell en Stanford, studeer en onderskeidelik ‘n magister- en ‘n doktorsgraad (eers in 1991) voltooi het. Sy doktorale proefskrif van skaars 200 bladsye handel oor ‘n dekade van Zimbabwe se skoolleerplanne. Hierna het hy vinnig gevorder tot professor in 1994, dekaan in 1997, eers aan Durban-Westville en van 2001 af aan die Universiteit Pretoria.

Hy is in Montagu gebore en is van huis uit Afrikaans en ‘n NG Sendingkerk-mens. Op grond van Jansen se ses jaar in Amerika en natuurlik opportunistiese politieke oorwegings het hy sy moedertaal versaak en Engels tot sy “eerste taal” verhef. Dan is die volgende stap maklik: As hy so goed is deur Engels te word, waarom kan almal nie maar verengels nie? Sy standpunt is dan soortgelyk aan dié van Alfred Milner (1854-1925) wat probeer het om die Transvaal te verengels. In sy aansoek om die rektorskap het Jansen egter onderneem om Afrikaans te bevorder. In sy intreerede het hy genoem dat hy iedere swart student wil dwing om Afrikaans te leer. Wat het van hierdie voorneme geword? In sy bespreking van Jansen se 2009-boek het Chris (Boetman) Louw Jansen ‘n wolf in skaapsklere genoem. Hy is nog nie verkeerd bewys nie.

Oor die rol wat ras/kleur in Jansen se bevordering gespeel het, kan daar min twyfel wees, al verkondig hy dat sy aanstelling uitsluitlik aan sy besondere akademiese voortreflikheid te danke is. In sy boek, Knowledge in the Blood (2009), vertel Jansen dat Johan van Zyl, toe die rektor van die Universiteit Pretoria en tans die uitvoerende hoof van Sanlam, glad nie in die blanke kandidate vir die dekaanspos belanggestel het nie. Die pos is toe deur Jansen gevul. Voordat Jansen as rektor in Bloemfontein aangestel is, het die destydse voorsitter van die raad van die Universiteit Vrystaat, regter Faan Hancke, verkondig dat die volgende rektor nie-wit sal wees. Sodanig was die nie-akademiese ingesteldheid weens al die politieke stof wat met die Reitz-video (2008) opgeskop is.

Op 18 September het Jansen die Percy Baneshik-gedenklesing gelewer. ‘n Verkorte,vertaalde weergawe is in Die Burger (3 deser, p 17) gepubliseer, met die volledige teks op daardie koerant se webwerf. Ek gebruik die oorspronklike teks, maar vestig die aandag op net enkele aspekte.

Jansen het dit tereg teen die sotlike strategie van bv die Afrikaanse Taalraad (ATR) om Afrikaans en die “non-English languages under one political umbrella” te bring. Hy noem dit tereg “a very superficial scheme to advance” Afrikaans. ‘n Mens vra jou af: Waarom beywer al die taalaktiviste vir Afrikaans hulle nie ondubbelsinnig vir die heil van Afrikaans nie? Waarom die dekmantel van “ander inheemse tale” gebruik as hulle eintlike doel is (of behoort te wees) om Afrikaans te bevorder?

Jansen het dit tereg ook teen “black elites trumping the value of indigenous languages in schools while their own children attend … schools in English”. Dit laat my dink aan Wannie Carstens wat op 26 September in ‘n toespraak “gedroom” het van Afrikaanssprekendes wat “spontaan” hulle kinders na Afrikaanse skole stuur. (Die volledige teks is op 27 September op LitNet gepubliseer.) Maar dan bring Carstens terselfdertyd hulde aan mense wat reeds jare lank in die ATR dien en openlik dislojaal teenoor Afrikaans is omdat hulle hulle kinders in Engelse skole geplaas het.

Ingevolge sy droom behoort Carstens moreel verplig te voel om hom met woord en daad vir die ontsetelling van dislojale Afrikaanssprekendes in die ATR te beywer. Die beste beginpunt is immers om jou eie huis in orde te kry en die ATR is een van Carstens se huise. Waarom het hy nie die ruggraat om iets daadwerkliks hieraan te doen nie? Carstens se kernprobleem is dat hy te veel deur modegiere gebuig word. Ek verpes dit dat hy feminisme-onthalwe na Afrikaans as “haar”, dus vroulik, verwys. As taalkundige stel hy hier gewoon ‘n slegte voorbeeld. Dat Carstens van sy neo-linkse politieke etiket hou, val nie te betwyfel nie. Hy verwys na diegene wat hom met Piet Croucamp en Anton van Niekerk assosieer en vervolg dan: “Ek moet erken dis nie ‘n slegte geledere om te deel nie!” (Maroela Media, 2 deser).

Waar is die ATR se voorsitter, Michael le Cordeur, se kommentaar oor Jansen se jongste uitlatings? Hy het dikwels baie te sê oor Kaaps en politieke sake, maar swyg nou oor die dwase standpunt van Jansen, terwyl dit eintlik om verdoeming smeek. Op die ATR-webwerf word daar geen ATR-standpunt oor hierdie saak gestel nie. Lesers word bloot na kommentaar in ander bronne verwys.

‘Die aanstelling van Danny Titus as die kultuurhoof van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) was ten minste net so ‘n onvanpaste transformasieskuif as die aanstelling van die bogenoemde drie bruin rektore’

Die aanstelling van Danny Titus as die kultuurhoof van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) was ten minste net so ‘n onvanpaste transformasieskuif as die aanstelling van die bogenoemde drie bruin rektore. Hoe kan iemand wat klaarblyklik geen aanvoeling vir en simpatie met die Afrikaner, sy taal en die res van sy kultuur het aan die hoof van sodanige kultuur in enige respektabele onderneming staan? Titus funksioneer soms as regter in die ANC-regering se Menseregtekommissie. Daar het hy baie duidelik sy afsku van Afrikaners laat blyk. Hy is ook een van die Afrikaans-dislojales wie se teenwoordigheid reeds lank in die ATR geduld word.

Let op wat Titus oor Jansen se jongste uitlatings oor Afrikaans te sê gehad het. Titus sê: “Afrikaanssprekendes en Afrikaans het Jansen se uitlatings ondersteun. Hy het gesê mense moet na kritiese stemme soos dié van Jansen luister. ‘Afrikaans het inderdaad ‘n groot bydrae om te maak, al is dit net om van sy skynheiligheid ontslae te raak'” (Praag, 2 deser). Let op die vermetele en neerbuigende “al is dit net” en dan word die groot bydrae wat Afrikaans kan maak direk met skynheiligheid verbind. Hoe kan so ‘n element in die boesem van die ATKV en die ATR geduld word? Myns insiens het Titus hom in albei poste as uitnemend ongeskik bewys. In die nuwe Suid-Afrika het die gewoonte in glad te groot mate onder Afrikaners posgevat om beleefdheidshalwe alle beledigings, wat (grootliks) onverdiend na hulle kant toe kom, te verduur.

Jansen verwys in sy gewraakte toespraak na die voorbeeld wat die Universiteit Vrystaat stel. Daar is ‘n “trade-off” wat onderrigtaal betref. Swart studente aanvaar die nie-moedertaal Engels en Afrikaanse studente moet ingelyks dieselfde nie-moedertaal aanvaar. Hy hou dit as billik voor. Maar hy vergeet gerieflikheidshalwe dat diegene wat Engels as moedertaal het geen opoffering hoef te maak nie. “There is no discernible tension, anymore, about using English only in meetings of residences and other public meetings … by bringing black and white students into communion as human beings, and by transforming the learning commons (especially in the residences), the hard lines around rival language – English and Afrikaans – started to dissolve.” Hoekom? Omdat van die Afrikaanssprekendes verwag word om in FW de Klerk-modus toe te gee, dus Afrikaans te versaak en Engels as die primêre universiteitstaal te aanvaar.

Waarom nie tweetalige byeenkomste of om die beurt Afrikaanse en Engelse byeenkomste nie? Waarom voorkeur gee aan die voorkeurtaal van die nuwe indringers op die kampus en die voorkeurtaal van die groep wat die universiteit gestig en uitgebou het, minag? Is die speelveld gelyk as wit studente en dosente die grootste offers moet bring? Hulle sou akademies en kultureel veel beter daaraan toe gewees het as die universiteit eentalig Afrikaans gebly het. Waarom mag daar nie van die nuwe kampusbesetters ‘n billike teenprestasie verwag word nie, naamlik dat hulle Afrikaans moet aanleer as hulle kies om daar te studeer? Dit is immers presies hierdie vereiste wat dwarsoor die wêreld gestel word: Daar word van die student verwag om by die universiteit aan te pas en nie andersom nie.

‘n Soortgelyke ongebalanseerde en onbillike situasie doen hom in die breë Suid-Afrikaanse universiteitsituasie voor. Die tradisioneel Afrikaanse universiteite moet tweetalig of verkieslik eentalig Engels word, terwyl die tradisioneel Engelse universiteite ongesteurd soos voorheen kan voortgaan. Dit is net Afrikaans wat as ‘n uitsluitingsmeganisme geëtiketteer word, terwyl Engels in die praktyk dikwels op dieselfde manier funksioneer. Daarteen opper Jansen nie beswaar nie. Hy versuim ook om te noem dat dit net van die tradisioneel wit universiteite verwag word om nie-wittes op al hoe groter skaal te akkommodeer. Die tradisioneel swart universiteite mag maar sonder beswaar ongetransformeerd eksklusief swart bly.

Dieselfde onverkwiklike onbillikheid doen hom by skole voor. Nuwe indringers mag nie toegang tot tradisioneel wit skole geweier word nie en is in die gerieflike posisie dat hulle volle toegang verkry tot geriewe wat oor dekades deur wit onderwysers en wit ouers opgebou is. Mits hulle nie-wit en veral swart is, geniet hulle die verdere voordeel dat hulle nie verplig mag word om skoolgeld te betaal nie. Dit geskied alles in die naam van geregtigheid.

Christo Viljoen, ‘n viserektor van die Universiteit Stellenbosch (1993-1998), verwys na Jansen se “wasige logika”. As Jansen se redenasie tot sy volle konsewensies deurgevoer word en almal in dieselfde mate opofferings moet maak, het ons die volgende situasie: “Géén onderwyser/dosent mag in sy (die dosent se) moedertaal doseer nie, en alle studente moet in ‘n taal anders as hul moedertaal klas loop. Met dieselfde wasige logika stel ek voor: Kom ons voer Chinees in as enigste onderrigtaal in ons skole (en universiteite?). Chinees is per slot van sake die grootste wêreldtaal met verreweg die meeste huistaalsprekers. Dan is ons afgestudeerdes voorbereid daarop wanneer China die land klaar gekoloniseer het, en álle onderwysers en dosente én studente maak die opoffering om in ‘n ander taal as hul eie onderskeidelik onderrig te gee en te ontvang. Niemand word dus onbillik bevoordeel nie” (Die Burger, 5 deser, p 13).

‘Afrikaans has, rightly, been the target of political ridicule’ – Jansen

Jansen bied sy “one major solution to the long-term resolution of the crisis in education” in die volgende gevolgtrekking aan: “This is why Afrikaans-exclusive or even Afrikaans-dominant white schools and universities represent a serious threat to race relations in South Africa … it is English and not Afrikaans that could be the ‘taal van versoening’ … What English does is level the playing fields in the historically Afrikaans universities for common engagement … Afrikaans has, rightly, been the target of political ridicule.” Sy opsomming van ons geskiedenis is: “The scars of our violent past.” Die Jansen-ideaal is: “A school system that introduces English as early as possible, ideally in the Foundation Phase … this means making English a compulsory language course for all students.” Dat so ‘n verpligte kursus in Afrikaans die behoud van die eentalige Afrikaanse Universiteit Vrystaat van weleer kon verseker het, doen hom nie meer in Jansen se wasige logika voor nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.