Duiweboer vermoor noord van Pretoria

‘n Boer Dinsdagaand op sy plaas in Bon Accord, noord van Pretoria, vermoor in die jongste plaasaanval.

Johan Coetzee is met ‘n graaf doodgeslaan. Sy dogter het glo op haar pa liggaam in ‘n buitegebou op die plaas afgekom.

‘n Kluis is met ‘n slypmasjien oopgesny en ‘n vuurwapen asook kontant en reisdokumente word vermis.

Coetzee was ‘n diereliefhebber en het ondermeer met duiwe geboer.

Lt.Kol. Katlego Mokgale, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê ‘n saak van moord is aanhangig gemaak.

Wit egpaar by Namibiese oord aangeval

“Dis die mees vreesaanjaende geluid om te hoor hoe ’n deur afgebreek word en jy is binne vasgekeer.”

Ida Ryan (66) en haar man, Larry (67), het albei ernstige be­serings opgedoen toe hulle Woensdag in die middernagtelike ure deur drie swart mans in hul kamer oorval is.

Die egpaar van Bethal, Mpumulanga, het saam met nog vriende uit Suid-Afrika by ’n lodge buite Windhoek oornag, voordat hulle die volgende dag vir ’n kort wegbreek na die Etosha Nasionale Park sou vertrek, het die Republikein berig.

Ida het met ’n diep snywond en erge kneuswonde aan die struweling ontkom, terwyl Larry, wat herhaaldelik met ’n knopkierie op sy kop geslaan is, bloeding op die brein opgedoen het. Hy is gister suksesvol vir die bloeding geopereer en moet ten minste twee dae in die hoësorgeenheid deurbring.

Ida het tydens ’n onderhoud vertel sy en haar man het Woensdagoggend omstreeks een-uur van ’n hou teen die kamer se deur wakkergeskrik. Dit was egter doodstil daarna, tot sowat ’n uur later, toe die egpaar deur die “vreesaanjaende geluid van ’n deur wat oopgebreek word” en met ’n pistool se loop wat in die deur verskyn, begroet is.

Ida en Larry het opgespring en die deur teen die oormag aan die anderkant probeer toedruk en toehou.

“Ek het op my knieë gestaan en van onder teen die deur gedruk, terwyl Larry die deur met sy skouer probeer toedruk het.”

Die egpaar is egter oorval deur drie swartes, met een wat Larry met ’n knopkierie oor die kop geslaan het. Nog een het vir Ida in haar arm met ’n “mes met ’n baie lang lem” gesteek. Een van die aanvallers het sakke gegryp wat op ’n stoel by die venster gelê het en waarin Ida se beursie met identiteitsdokument en kaarte, juwele, skoene en reis­dokumente was.

“Die swartes het nie ’n woord gesê nie. Ek kon in die lig van die buitelig sien die een met die knopkierie was lank en skraal en het ’n hoed op gehad; ’n ander een was fris en groot.”

Die drie swartes het uit die kamer gestorm en in die bosse in verdwyn.

“Toe ek buite toe storm, het drie swartes met groen uniforms buite gestaan. Larry het egter geskree ek moet inkom en die deur toemaak.” Volgens Ida het die lodge nie sekuriteitspersoneel nie en weet hulle nie wie dié swartes was nie.

So hard het sy tydens die aanval geskree dat Ida se stem tydens die onderhoud ’n dag later steeds hees was.

“Die eienaars se kind het van my geskree wakker geword en hulle wakker gemaak.” Dié het met flitse en honde hul na die Ryan’s gehaas.

“Eers toe ons die lig aansit en tot verhaal kom, het ons al die bloed gesien soos wat die wond aan my arm gebloei het.”
Die polisie is ontbied, terwyl die lodge-eienaar Ida se wond verbind het om die ergste bloeding te stop.

Die egpaar is in die Mediclinic-hospitaal in die hoofstad opgeneem, waar Ida nege steke vir die wond in haar arm gekry het. Larry het ’n breinskandering ondergaan en is stil gehou tot sy operasie Maandag om die bloeding op sy brein te verlig.

Hy het Vrydag uit sy hospitaalbed gesê die egpaar sal weer Namibië besoek, waar hulle in die sewentigerjare gebly het.

“Ons het ses jaar in Namibië gebly, Sodom en Gomorra toe getrek, net om terug te kom en hier ’n pak slae te kry!”
Die polisie het teen druktyd nog geen verdagtes in hegtenis geneem nie.

Senekal-plaasaanvallers nog op vrye voet

Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met die aanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas naby Senekal in die Vrystaat verlede week nie.

Vrystaatse polisiewoordvoerder, Phumelelo Dhlamini, vra enigeen wat inligting het oor “vier mans” wat gesoek word om hul naaste polisiekantoor te bel.

Hy het egter nagelaat om te noem dat die aanvallers swart was, was kennelik die soektog kan belemmer.

Dries Stemmet en sy vrou Fransie is verlede Woensdagaand in hul slaapkamer deur die swart aanvallers oorval. Hulle het ‘n sementblok deur die egpaar se slaapkamerruit gegooi.

Dries is met ‘n stuk sementblok teen die kop geslaan. Hy het sy bewyssyn verloor waarna hulle hom vasgemaak het. Fransie is ook vasgemaak.

‘n Onbekende bedrag kontant, ses vuurwapens en selfone is gesteel. Een van die wapens is later in die veld gevind.

Jong beroepsjagter in plaasaanval doodgesteek

‘n Jong beroepsjagter, Jakes van Deventer is Dinsdag tydens ‘n plaasaanval by Warmbad (BelaBela) in Limpopo vermoor.

Vier swart verdagtes het Van Deventer en sy verloofde, Monique de Souza (28), in die vroeë oggendure in hul slaapkamer oorval.

Die aanvallers het die slagoffer met skerp voorwerpe gesteek. Hy is op die toneel dood.

Die paartjie se drie kinders en hul ouma was tydens die aanval in die huis. Hulle is ongedeerd, maar ly aan skok.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die verdagtes het die vrou aangerand, maar sy kon die aanvallers afweer en het glo een van hulle met ‘n mes gesteek. Sy is in die hospitaal opgeneem vir behandeling.

Die aanvallers het toegang tot die huis verkry deur ‘n veiligheidshek oop te breek by die kombuis.

Otto het Woensdag gesê een verdagte is laat Dinsdagmiddag in ‘n lokasie naby Warmbad in hegtenis geneem na ‘n gesamentlike poging van onder meer verskeie eenhede van die Limpopo-polisie, speurders van die Bela-Bela-polisie, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en die buurtwag.

“Van die gesteelde ware is in die verdagte se besit gevind. ʼn .308-jaggeweer wat vermoedelik aan die slagoffer behoort, was ook in sy besit.”

Die vermeende aanvaller het Donderdag in die landdroshof verskyn. Die soektog na die ander verdagtes duur voort.

Plaasaanvallers by Memel vasgetrek

Vier swartes is in hegtenis geneem na ‘n mislukte plaasaanval op ‘n egpaar by Memel in die Vrystaat. Die Maritz-egpaar kon daarin slaag om hulself te bevry en het dadelik hulp ontbied. Hulle is ongedeerd.

Konst. Peter Kareli, woordvoerder van die polisie, het gesê Jacob en Bessie Maritz het Sondag na kerk tuisgekom waar die vier gewapende swartes die egpaar ingewag het.

Hulle is vasgebind deur die aanvallers wat met vuurwapens, juweliersware en ‘n skootrekenaar in die egpaar se Toyota Hilux-bakkie op die vlug geslaan het.

Volgens Kareli het die boere in die omgewing en die polisie die verdagtes agternagesit.

Een het glo te voet gevlug, terwyl die ander drie saam met ‘n vyfde verdagte in ‘n Toyota Yaris wat hulle ingewag het, verder gevlug het.

Die polisiebeamptes het op die aanvallers losgebrand en een verdagte is in die been getref. Die ander drie verdagtes is in hegtenis geneem.

Kareli het gesê al vier verdagtes, tussen 24 en 61 jaar oud, sal binnekort in die hof verskyn. Die gesteelde goedere is teruggevind. Die polisie soek intussen na ‘n vyfde verdagte.

Vier van Zim vas vir wildboer se moord

Vier Zimbawiërs het Maandag in die Mokopane-landdroshof verskyn weens die moord op dr. Louis-John Botha (64), ‘n wildboer van Swartwater in Limpopo.

Die verdagtes Bruce Mho (23), Trymore Nyube (23), Daniel Lismart (27) en Anton Moyo (27), is glo voorheen deur Botha gehuur om ‘n heining op sy plaas te span.

“Die saak is tot 17 Maart uitgestel, wanneer die verdagtes na verwagting sal aansoek doen om borgtog,” het Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

Familielede wat onraad bemerk het toe Botha nie oproepe beantwoord het nie, het op die kluis afgekom wat oopstaan asook bloed in die huis.

Na ‘n soektog is sy liggaam Maandagoggend in ‘n waterkuil met krokodille, sowat 200 m ver van sy huis af, opgespoor.

Volgens die nadoodse ondersoek het ‘n harde hou teen Botha se kop moontlik tot sy dood gelei nadat hy met ‘n graaf en stokke geslaan is deur die aanvallers wat hom in sy huis ingewag het.

Kol. Otto het bevestig dat Botha dood is weens die hou aan sy kop.

Die swart aanvallers het hom daarna vermoedelik na die kuil gesleep en vir dood agtergelaat. Botha, wat vasgebind was, het nietemin klaarblyklik na die oewer probeer swem voor hy dood is.

Krokodille het aan sy liggaam gevreet.

Kleuterskoolhoof met brandende plastiek gemartel

‘n Afrikaanse kleuterskoolhoof is oor die naweek tydens ʼn plaasaanval met brandende plastiek gebrand en gemartel naby Pongola in KwaZulu-Natal, het Beeld Dinsdag berig.

Vier swart aanvallers het Saterdag ná middagete op Armand en Doulina Slabbert se plaas toegeslaan waar hulle ‘n kwekery en kleuterskool bedryf.

Doulina is gebrand deur brandende plastiek op haar maag te laat drup. Die swart aanvallers het haar gemartel om Armand te dwing om hul waardevolle besittings te oorhandig.

Jess Strumpfer, hul buurman, het Maandag gesê die aanvallers het Doulina buite die huis oorval en in die huis in geneem waar Armand besig was om te stort.

Die rowers het Armand se gestremde broer in die huis vasgebind en die egpaar na hul slaapkamer gedwing, waar hulle geld en vuurwapens uit die kluis gesteel het.

Die egpaar is vasgebind, maar Armand kon loskom en het die aanvallers glo gekonfronteer. Die swartes het daarna sonder die twee bakkies te voet gevlug. Sy vrou is in die hospitaal vir brandwonde behandel.

Kol. Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Namibiese plaasmoord: Verdagtes vas

Vyf swart mans wat van die moord op mnr. Reinhard Schmidt op die Namibië Hoodia Jagplaas verdink word, is Dinsdagaand in Windhoek in hegtenis geneem, het die Republikein berig.

Hoofinspekteur Samuel Gariseb van die Mariental-polisie het gister gesê die vermeende misdadigers sal vandag na Kalkrand vervoer word waar die ondersoek na die moord voortduur.

Gariseb kon egter nie gister die name van die verdagtes verstrek nie, maar het gesê drie van die swartes het vermoedelik by Schmidt se huis ingebreek, terwyl die ander twee in ’n motor vir hulle gewag het.

Van die items wat hulle uit Schmidt se huis gesteel het, is intussen gevind en die ander items is vermoedelik reeds verkoop.

Schmidt, ’n Duitse burger en eienaar van die jagplaas buite Kalkrand, is verlede Vrydag­oggend dood in sy huis aangetref met sy hande agter sy rug vasgemaak en sy mond en neus met kleefband toegeplak. Die nadoodse ondersoek is nog nie voltooi nie, maar Schmidt het vermoedelik versmoor.

Die mans is vyf dae ná die moord in hegtenis geneem, nadat die polisie en bestuur van die jagplaas met ’n onverpoosde ondersoek die Vrydag begin het.

“Ons is baie dankbaar vir al die hulp en ondersteuning wat ons van die Kalkrand-polisie, plaasbure en die gemeenskap van ­Kalkrand en Schlip gekry het,” het Schmidt se dogter, dr. Anja Huppertz, Donderdag gesê.

“Die een positiewe ding uit hierdie tragedie is die besef dat daar werklik ’n gemeenskap van wit en swart bestaan wat saamstaan om die land te ontwikkel en sy wettigheid te verseker.”

Huppertz en haar ma, me. Gudrun Schmidt, het van Duitsland na Namibië gevlieg ná die nuus van die moord. Huppertz sê haar ouers het 40 jaar gelede Namibië besoek en omdat hulle lief vir die land geword het, wou hulle nog altyd ’n plaas hier koop. Schmidt was die eienaar van die Reinhard Schmidt Lennestadt RSL GmbH maatskappy in Duitsland wat die hoofverskaffer van plastiese en metaalinspuiters vir General Motors, Volkswagen, Ford en tot ’n minder mate BMW was. Die maatskappy het ook produksieaanlegte in Spanje, Portugal en Kanada gehad.

Schmidt word Maandag op die plaas begrawe.

Twee bejaardes in Virginia aangeval

Twee bejaardes is op hul plaas in Virginia in die Vrystaat aangeval.

Sers. Mamello Mokhuoane, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie swart verdagtes het deur ‘n venster die huis binnegedring. Die verdagtes het glo almal klapmusse gedra.

Ronald Nel (66) en sy vrou Ciska is vroeg Donderdagoggend is met elektriese kabels vasgebind. “Die verdagtes het ʼn vuurwapen op die egpaar gerig en geld geëis. Die drie het die huis deursoek en op die kluissleutels afgekom.”

Die verdagtes het met ‘n aantal wapens waaronder jaggewere en ‘n pistool, ammunisie, kontant en ‘n selfoon gevlug.

Volgens Mokhuoane kon Nel en sy vrou daarin slaag om hulself los te wikkel en bure en die polisie te ontbied. Die polisie ondersoek ‘n saak van gewapende roof.

Ambulans weier hulp in jongste Namibiese plaasaanval

‘n Bejaarde egpaar is Woensdagoggend op hul plaas naby Hochfeld in Namibië deur vier gewapende swart rowers aangeval, vasgebind, aangerand en beroof, het die Republikein berig.

Die naaste ambulansdiens het egter hulp aan die wit egpaar geweier.

Mnr. Gernot en me. Renate Zander, albei in hul sewentigs, van die plaas Monteith sowat 50 km suid van Hochfeld, was volgens hul buurvrou, me. Heike Kash, gisteroggend tussen middernag en eenuur aangeval.

“Hulle was nog besig om TV te kyk, toe hulle ’n klop aan die deur hoor en aanvaar het dat dit hul plaaswerkers is. Vier gewapende mans het hul egter verras,” het Kash gesê.

“Mnr. Zander is wreed aangerand en met ’n swaar ystervoorwerp op sy kop geslaan wat erg gebloei het. Hy is ook op sy rug geslaan wat baie seer is. Me. Zander is gewurg. Hulle was albei vasgebind,” vertel Kash.

Me. Zander het gister in die vroeë oggendure met hul bakkie hulp by hul bure gaan soek nadat hul landlyntelefoon se drade uitgetrek en hul selfone gesteel is.

“Sy beskryf die gewapende mans as een lange en drie kortes. Sy is ook nie seker wat alles gesteel is nie, maar ’n vuurwapen en hul selfone is weg,” sê Kash.

“Die mans het aangedring op geld, maar daar was nie baie geld nie, net in hul beursies. Die Zanders is gedwing om hul kluis oop te sluit en die slaapkamer is omgedolwe.”

Die polisie van Hochfeld en Okahandja was op die toneel. Ses verdagtes, van wie vier in die huis was, is nog op vrye voet. Die kommunikasiehoof van die polisie, adj.kom. Edwin Kanguatjivi, het die voorval bevestig.

Volgens die polisie wou geen private of staatsambulans uitkom na die plaas nie. Mnr. Zander se dogter het met hom na ’n hospitaal in Windhoek gejaag waar hy steke vir sy wonde gekry het en X-strale geneem is.

’n Boer in die omgewing, mnr. Marius Basson, het aan Republikein gesê dit is die tweede keer in vier maande wat mense op plase in hul omgewing aangeval is. “Die Hammans (die bekende Afrikanerbeesboer, mnr. Eddie Hamman se ma en suster), ongeveer 30 km van ons af, is so vier maande gelede aangeval en die Zanders is 20 km van ons af.”

Skaars minder as ’n maand gelede is nog ’n bejaarde egpaar in die Ooste aangeval. Mnr. Acker en me. Dorea von Moltke is op 18 Janaurie op hul plaas, Okatjombua, sowat 90 km noordoos van Gobabis op die pad na Summerdown, deur twee mans oorval, vasgebind en beroof. Mnr. Von Moltke, ’n bekende oudonderwyser, was erg aangerand.

Plaasaanval in Namibië skok

Sy pa is erg getraumatiseerd en wil nie oproepe of besoekers in die private kliniek op Gobabis, Namibië ontvang nie.

Só sê mnr. Marius van Moltke, die seun van die bejaarde egpaar, mnr. Ackerman (Acker) von Moltke en sy vrou, Dorea, wat Sondagnamiddag op hul plaas deur twee mans aangeval is.

Die egpaar het by hul ander seun gaan kuier wat in die omgewing van Hochfeld boer. Met hul tuiskoms omstreeks 17:00 op hul plaas, Okatjombua, sowat 90 km noordoos van Gobabis op die Summerdownpad, is hulle deur twee vreemde mans ingewag, oorval, vasgebind en beroof.

“My man is 71 jaar oud, maar hy het soos ‘n jong man baklei,” het me. Von Moltke aan Republikein vertel, maar gister het dit emosioneel glad nie met hom goed gegaan nie.

“Ek dink die skok het nou eers ingetree; hy is erg getraumantiseerd,” het sy gesê van die oudonderwyser wat op Grootfontein geskiedenis onderrig het.

Hoe gaan dit met haar? “Ek bly staan. Hulle het my nie seergemaak nie.”

Von Moltke vertel met hul aankoms op die plaas het die twee mans (sy skat hul ouderdom in die vroeë dertigs) reeds toegang tot hul huis gekry.

“Alles was reeds uit die kaste gegooi. Hulle moes ons honde baie bang gemaak het. My man het die huis baie beveilig, maar hulle het die staaldeure met byle oopgekap.”

Sy vertel dat die aanvallers agter die dam moes geskuil het en hulle by die hek ingewag het: “Toe my man die hek agter ons toemaak, het hulle hom van agter bestorm en aangerand.”

Hy is met ‘n stomp teen sy kop geslaan, het ‘n groot wond op sy regterarm by sy skouer, ‘n groot snywond teen sy ribbes en talle meswonde en snye op sy lyf wat steke moes kry.

Volgens van Moltke kon haar man daarin slaag om die lem van een van die aanvallers se mes af te breek en in die dam te gooi, “maar toe ruk hy ‘n tweede mes uit en steek my man verder daarmee”.

Die egpaar is deur die aanvallers na die huis geneem en gedwing om die kluis oop te sluit, maar daar was nie geld in nie.

Hulle is in die badkamer vasgebind en toegemaak, maar die aanvallers kon nie die sleutel kry nie en die egpaar is toe in die enjinkamer toegesluit.

“My man het gelukkig ‘n mes in sy sak gehad en hy kon ons lossny. Toe ons die voertuig hoor wegry, het my man in sy toestand die hoeksteenslyper gevat en die staaldeur van die enjinkamer daarmee oopgesny.”

Von Moltke het dadelik met haar bebloede man hospitaal toe gejaag. Sy praat met lof van die buurtwag wat hul bystand verleen het met geld, ‘n selfoon en klere.

“Ons beursies met bankkaarte, selfone, my rekenaar en pistool is onder meer gesteel. Die gemeenskap het vir ons geld, ‘n selfoon en klere gebring,” vertel sy.

Die egpaar se bakkie is Maandag op Witvlei gevind met hul dokumente daarin. “Die aanvallers het vir ons gesê hulle gaan die bakkie êrens los.”

Von Moltke vertel dat hulle al sowat 18 jaar boer en sy kan nie glo dit met hulle gebeur het nie: “Ons werk alleen en het nie werkers op die plaas nie, so dit is nie ‘n geval van ‘n voormalige plaaswerker wat ‘n wrok teen ons dra nie. Dit is vreemde mense.”

Die polisie se streekskommissaris van Omaheke, komm. Josaphat Abel, het die voorval bevestig en gesê dat die ondersoek voortduur en geen verdagtes dusver in hegtenis geneem is nie.

“Die slagoffers is besig om goed te herstel en die bakkie is by Witvlei gevind. Ons ondersoek duur voort.”

Bron: Die Republikein

Bejaardes in jongste plaasaanval gemartel

‘n Tagtigjarige boer van De Wildt in Noordwes, is die jongste plaasmoordslagoffer wat gemartel is in ‘n aanval deur drie swartes.

‘n Polisiewoordvoerder het Woensdag die aanval bevestig, en gesê hulle ondersoek ‘n saak van roof, aanranding met die doel om ernstig te beseer, en poging tot moord.

Hannes van der Merwe het Dinsdag ‘n kilometer ver, in ‘n erg beseerde toestand, gestrompel om hulp by die bure te ontbied. Die swart aanvallers het Van der Merwe met ‘n byl aangerand en ‘n strykyster gemartel.

Van der Merwe is Dinsdagoggend buite die huis deur drie gewapende swartes oorval en aangerand met ‘n byl. Hy en sy vrou Annetjie (76) is daarna in die slaapkamer vasgebind.

Sy vrou het hulp per noodradio ontbied, maar is oor die kop geslaan waarna die radio uit die muur geruk en stukkend gegooi is, het sy buurvrou gesê. Die aanvallers het die bejaarde boer daarna met strykyster gemartel vir sy kluis se sleutels.

Die swartes het vuurwapens, ammunisie en ander waardevolle besittings geplunder en die eienaars se voertuigbande stukkend gesteek voor hulle op die vlug gelsaan het, sodat Van der Merwe moes loop om hulp te ontbied.

Die egpaar word tans in die Mediclinic in Brits behandel.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Plaasmoordenaars brand huis af by Theunissen

Die seun van die eienaar van die plaas waarop Martie Bester se lyk in die brandende plaashuis gevind is, sê hy het omstreeks 06:30 vanoggend ‘n oproep ontvang dat daar rook by die huis se dak uitkom.

Die man, wat verkies om anoniem te bly, sê hy het hom na die brandende huis gehaas en het dadelik opgemerk dat die 68-jarige Bester se bakkie nie daar is nie.

Hy het vermoed sy kan in die brandende huis wees omdat sy nooit gereis het nie. Volgens hom het Bester alleen in die huis gebly en op ‘n kleinskaal geboer nadat haar man ‘n paar jaar gelede oorlede is.

Hy sê die verdagtes het vermoedelik die huis en veevoer in ‘n stoor naby die plaashuis aan die brand gesteek. Nooddienste is ontbied waarna die brand geblus is. Die huis is egter in die brand verwoes.

Die plaas is 10km noord van Theunissen. Die huis is teen ‘n teerpad geleë. Nog geen verdagtes is in hegtenis geneem nie. Bester se bakkie is later elders op die plaas gevind.

Die bakkie is ook aan die brand gesteek.

Bron: Bloemfontein Courant

Plaasaanval by Muldersdrift eis boer

Beeld het Saterdag berig dat ‘n bejaarde egpaar op hul plaas in Lindley naby Muldersdrift in Gauteng aangeval is en die boer vermoor is.

Nog niemand is in hegtenis geneem vir die moord op Charles Henderson (61) en die aanranding van sy vrou Jenny (60) nie, het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê.

Henderson het die hond hoor blaf en het gaan ondersoek instel toe hy met ‘n graaf en ‘n baksteen aangeval is. Hy is buite die kombuisdeur herhaaldelik oor die kop geslaan en daarna die huis in gesleep. Sy vrou is teen die kop geskop en geslaan.

“Ek kan nie meer nie,” het Charles sy laaste woorde aan sy vrou geprewel voordat hy gesterf het, het Beeld Saterdag berig.

Die egpaar was met hul rûe teen mekaar vasgebind deur die swart aanvallers. Jenny het drie ure lank gesukkel om haarself los te wikkel nadat haar man gesterf het.

Die boer is vemoor vir R600, selfone, ʼn televisiestel, DVD-speler en ‘n iPad.

Alhoewel ‘n verdagte in hegtenis geneem is danksy die iPad se spoorsein, het die polisiewoordvoerder Dlamini dit ontken.