Boer en vrou met graaf geslaan in plaasaanval

‘n Bekende boer van Nelspruit (Mbombela), mnr. Gerhard Kunneke, word in die intensiewe sorgeenheid van Mediclinic Nelspruit behandel nadat hy gisteraand oorval is op sy plaas in die Kingstonvale-omgewing op die pad na KaNyamazane.

Daar was beurtkrag in die area en die krag het net weer aangekom toe hy na buite is om die kragopwekker af te skakel. Dit was net na 20:00. Hy is toe van agter met ‘n graaf oor die kop geslaan. Volgens mnr. Nico Grobler, operasionele bestuurder van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, het hy hom teëgesit en is erg aangerand.

Sy vrou, Lynette, was in die huis, maar kon hoor daar was ‘n geskarrel buite. Sy het ondersoek ingestel en het gesien haar man word aangeval. Sy het die deure gesluit en Hi-Tech ontbied. Een van die aanvallers het die badkamervenster gebreek en só toegang tot die huis verkry.

Lynette is ook oorval en buite na haar man geneem waar sy met draad vasgebind is. “Sy is met die graaf deur die gesig geslaan en gedwing om die kluis se sleutels aan hulle (die swart verdagtes) te oorhandig,” het Grobler vertel.

Die swartes het drie vuurwapens uit die kluis gehaal en te voet gevlug met dit, asook twee televisies, ‘n skootrekenaar en die egpaar se selfone. Hi-Tech se beamptes het op die toneel aangekom en gesien die egpaar is erg beseer. Hi-Tech se ambulans is gevolglik ontbied en die Kunneke’s is na die hospitaal geneem.

Lynette is reeds vanoggend ontslaan. “Mnr. Kunneke is by sy positiewe, maar het bloeding op die brein. Hy en sy vrou het gesê dat daar drie verdagtes was wat almal balaklavas gedra het,” het Grobler bygevoeg.

Bossie’s Community Justice en die polisie was ook op die toneel. Mnr. Jacques Meiring, operasionele bestuurder van Bossie’s, het gesê dat hulle ‘n beloning van R50 000 aanbied vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisname en suksesvolle vervolging van die verdagtes.

Bron: Die Laevelder

Ambulans weier hulp in jongste Namibiese plaasaanval

‘n Bejaarde egpaar is Woensdagoggend op hul plaas naby Hochfeld in Namibië deur vier gewapende swart rowers aangeval, vasgebind, aangerand en beroof, het die Republikein berig.

Die naaste ambulansdiens het egter hulp aan die wit egpaar geweier.

Mnr. Gernot en me. Renate Zander, albei in hul sewentigs, van die plaas Monteith sowat 50 km suid van Hochfeld, was volgens hul buurvrou, me. Heike Kash, gisteroggend tussen middernag en eenuur aangeval.

“Hulle was nog besig om TV te kyk, toe hulle ’n klop aan die deur hoor en aanvaar het dat dit hul plaaswerkers is. Vier gewapende mans het hul egter verras,” het Kash gesê.

“Mnr. Zander is wreed aangerand en met ’n swaar ystervoorwerp op sy kop geslaan wat erg gebloei het. Hy is ook op sy rug geslaan wat baie seer is. Me. Zander is gewurg. Hulle was albei vasgebind,” vertel Kash.

Me. Zander het gister in die vroeë oggendure met hul bakkie hulp by hul bure gaan soek nadat hul landlyntelefoon se drade uitgetrek en hul selfone gesteel is.

“Sy beskryf die gewapende mans as een lange en drie kortes. Sy is ook nie seker wat alles gesteel is nie, maar ’n vuurwapen en hul selfone is weg,” sê Kash.

“Die mans het aangedring op geld, maar daar was nie baie geld nie, net in hul beursies. Die Zanders is gedwing om hul kluis oop te sluit en die slaapkamer is omgedolwe.”

Die polisie van Hochfeld en Okahandja was op die toneel. Ses verdagtes, van wie vier in die huis was, is nog op vrye voet. Die kommunikasiehoof van die polisie, adj.kom. Edwin Kanguatjivi, het die voorval bevestig.

Volgens die polisie wou geen private of staatsambulans uitkom na die plaas nie. Mnr. Zander se dogter het met hom na ’n hospitaal in Windhoek gejaag waar hy steke vir sy wonde gekry het en X-strale geneem is.

’n Boer in die omgewing, mnr. Marius Basson, het aan Republikein gesê dit is die tweede keer in vier maande wat mense op plase in hul omgewing aangeval is. “Die Hammans (die bekende Afrikanerbeesboer, mnr. Eddie Hamman se ma en suster), ongeveer 30 km van ons af, is so vier maande gelede aangeval en die Zanders is 20 km van ons af.”

Skaars minder as ’n maand gelede is nog ’n bejaarde egpaar in die Ooste aangeval. Mnr. Acker en me. Dorea von Moltke is op 18 Janaurie op hul plaas, Okatjombua, sowat 90 km noordoos van Gobabis op die pad na Summerdown, deur twee mans oorval, vasgebind en beroof. Mnr. Von Moltke, ’n bekende oudonderwyser, was erg aangerand.

Miljoene se juwele by universiteit gesteel

Die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) is glo besig om hulle eie personeel te ondersoek nadat sowat R4 miljoen se juweliersware gesteel is, het die Saturday Star berig.

“Dit was ‘n interne misdaad gewees en dit is aaklig. Daar is geen tekens van ‘n inbraak nie. Iemand het ingekom, die plek geplunder en toe weer die deur gesluit,” het Vassiliki Konstandakellis, hoof vir die ontwerp en vervaardiging van juweliersware, gesê.

Die juweliersware, wat diamante en onverwerkte platinum ingesluit het, is glo op 27 Januarie uit die kluis gesteel. Die werkers by die universiteit moes leuenverklikkertoetse ondergaan en een persoon het dit nie geslaag nie.

“Die ondersoek is op ‘n baie sensitiewe stadium. Ons het ook na beeldmateriaal van die kringtelevisiekameras gekyk. Ons kan egter nog geen inligting bekendmaak nie,” het Angelo Echardt, hoof van sekuriteit, gesê.

Volgens die polisie in die Wes-Kaap is hulle bewus van die voorval via die media maar is geen kriminele aanklagte nog aanhangig gemaak nie.

кабиныДанильченео