Die opposisieleier, Helen Zille, het die skorsing van die hoof van die Valke, Anwar Dramat, aan hoëvlak korrupsie verbind, nadat sy geskimp het dat die Valke-ondersoek met die President verbind kan word.
Zille het die opmerking in haar weeklikse nuusbrief gemaak. Sy sê Dramat se ondersoek is glo uitgebrei na president Zuma se netwerk van bondgenote, maar het toegegee dat die kwessie “ingewikkeld” is en “verdere ondersoek verg”.
Dramat se regspan het vroeër met Robert McBride, hoof van die polisie se Onafhanklike Ondersoekdirektoraat (Opod) ontmoet, wat Dramat van enige verbintenis aan Zimbabwiese deportasies onthef het.
Ná die Grondwethofuitspraak in November, het Dramat gevra dat die Nkandla-dossier aan die Valke oorhandig word vir ‘n ondersoek. Die SAPD wou glo nie betrokke raak daarin nie.
Die ANC het intussen aangedui dat hulle met Dramat sal onderhandel en ontken dat daar ‘n heksejag teen sekere lede van die Valke gevoer word.
Dramat het ook die ondersoek na misdaadintelligensiebaas Richard Mdluli behartig. Hy en sy bondgenote is ondersoek vir die beweerde plundering ‘n misdaadintelligensiefonds om vir hulself duur eiendomme en luukse motors te koop.
Die Gautengse hoof van die Valke, generaal-majoor Shadrack Sibiya is intussen weer geskors. Sy regsverteenwoordiger, Victor Nkhwashu sê Sibiya het gistermiddag die kennisgewing van sy skorsing met volle salaris ontvang.
Sibiya en sy regsverteenwoordiger sal Dinsdag vergader. Sy regsverteenwoordiger sê hulle sal dan hul reaksie op jongste gebeure oorweeg.
‘n Kennisgewing vir Sibiya se skorsing is verlede week teruggetrek nadat hy sy beplande skorsing in die Arbeidshof beveg het.
Die storm rondom Sibiya en ander senior lede van die Valke hou verband met die beweerde ontwettige deportasie van Zimbabwiërs in 2010.
Die Valke het intussen Sibiya se skorsing bevestig maar wou geen verdere besonderhede gee nie.






