Valke slaan toe op diamanthandel, rig skade aan verkeerde huis

Die Valke het 17 mense in hegtenis geneem nadat hulle op ‘n onwettige diamanthandelnetwerk in vier provinsies gelyktydig toegeslaan het.

‘n Woordvoerder sê die mense is in Kimberley, Bloemfontein, Johannesburg en Vryburg in hegtenis geneem. Sommige van die mense het reeds in die hof verskyn en is op borgtog van tussen R50.000 en R500.000 rand vrygelaat.

Ramaloko sê klopjagte is uitgevoer op die eiendomme van handelaars wat onwettige diamante koop en dit dan in die wettige mark plaas.

Agt eiendomme en drie sake ondernemings in Gauteng, die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap is deursoek.

Die Valke het op ‘n huis van ‘n diamanthandelaar in Kimberley toegeslaan waar hulle met ‘n houer en verskeie sakke uitgekom het. Die eienaar was nie tuis nie, en is glo tans in Mosambiek.

Hulle het ook kontant ter waarde van R100.000 gekonfiskeer en ‘n vuurwapen. Die Valke het daarna na sy sakepersele in die dorp beweeg.

Die Noord-Kaapse Hooggeregshof het ook ‘n bevel uitgereik vir die bevriesing van eiendom ter waarde van sowat R50 miljoen.

Die Valke hoop om nog 35 mense in verband met die netwerk in hegtenis te neem.

In Bryanston, Johannesburg, het hulle in die nag op die verkeerde huis toegeslaan.

‘n Geskokte Jennifer Peers sê die Valke het net na vyf in die oggend uit ‘n helikopter op haar woning aan toue afgeseil en groot skade veroorsaak.

Peers en haar kinders is skielik wakkergemaak deur die geluid van ‘n helikopter en ‘n deurdringende soeklig.

Haar eerste gedagte was dat die polisie ‘n voortvlugtige soek, maar ‘n aantal tuine is verpletter toe gewapende mans haar eiendom binnegedring het en die elektriese heining afgebreek het.

Peers, ‘n vooraanstaande lid van die Gemeenskapspolisiëringforum, was tuis met haar dogter (9), haar baba seun, en drie personeellede toe die polisiemanne met hulle gesigte deur musse bedek, by haar huis ingebreek het.

Die personeel het Peers beskryf as “erg getraumatiseer,” geïntimideer en een werknemer is deursoek.

Peers se dogtertjie het vreesbevange in ‘n kas weggekruip. Die beamptes het ook na bewering gedreig om Peers se drie honde te skiet as sy hulle nie opsluit nie.

“In geen stadium het hulle eintlik vir my gesê wat hulle doen nie,” het sy gesê.

Die aanval is glo deel van ‘n voortgesette ondersoek wat in die Noord-Kaap afgeskop het.

Die smokkelsindikaat is na bewering verbind met internasionale misdaad. ‘n Lasbrief vermeld glo dat voldoende bewyse bestaan ​​om aan te dui dat die huis gebruik word vir kriminele aktiwiteit.

Peers, wat op die Sandton Sektor 2 Gemeenskapspolisiëringsforumkomitee dien, beskryf haarself as iemand wat die polisie ondersteun, maar sy is erg geskok deur die optrede.

Die elektriese heining is gebreek, sowel as vyf glas deure en vensters, en ‘n paar deurrame.