NVG gaan appèl aanteken teen uitspraak oor Valke-hoof

Genl.maj. Johan Booysen,
Genl.maj. Johan Booysen,

Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan appèl aanteken nadat die Durbanse hooggeregshof alle aanklagte teen die geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, ter syde gestel het.

Die waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging het destyds gesê die eenheid word soos ‘n georganiseerdemisdaad-eenheid bedryf.

Booysen het toe aangevoer dat die NGV gelieg het oor sekere verklarings.

Genl.maj. Johan Booysen was die hoof van die ernstige en gewelddadige misdaadeenheid in Cato Manor wat intussen ontbind is. Lede van die eenheid staar ʼn reeks aanklagte in die gesig, insluitend 28 aanklagte van moord.

Booysen, en lede van sy voormalige eenheid, is daarvan beskuldig dat hulle ʼn kriminele onderneming bedryf het.  Die eenheid het glo sluipmoorde teen betaling in KwaZulu-Natal gedoen wat tot die minibustaxi-oorloë gelei het.

Booysen is in Augustus 2012 beskuldig  van afpersing en swendelary in die onderneming wat hy bestuur het en wat aan die aktiwiteite deelgeneem het. Hy staan ook tereg op twee aanklagte van moord, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, en dwarsboming van die gereg.

Booysen se regspan het Sondag gesê die NVG beplan om appèl aan te teken teen regter Trevor Gorven se besluit.

Gorven het op 26 Februarie in sy uitspraak alle aanklagte teen Booysen laat vaar. Hy het gesê die aanklagte voldoen nie aan die minimumvereistes nie.

Gorven sê sy besluit om die aanklagte ongeldig te verklaar is nie ʼn aanduiding van Booysen se onskuld nie en kan weer aangekla word.
.
Nathi Mncube, woordvoerder vir die NVG, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Indien Gorven die NVG se aansoek van die hand wys om appèl aan te teken teen sy uitspraak, kan die NVG die hoogste hof van appèl nader.

9 thoughts on “NVG gaan appèl aanteken teen uitspraak oor Valke-hoof”

Maak 'n opvolg-bydrae