Deesdae is dit ‘n geval van: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?” Danksy Afrikanerleiers se onbekookte oorgawe aan die ANC, word ons stelselmatig uit die ekonomie, die akademie, sport, die kerk en die media – om van die politiek en die staatsdiens nie eens te praat nie – geweer. Daar is egter een gebied waar Afrikaners steeds die septer swaai, en dit is binne ons taal en kultuur self.
Sonder Afrikaans sou daar geen Steve Hofmeyr of Bok van Blerk gewees het nie, geen rolprent-, musiek- of boekbedryf nie. Ek lees nou die dag dat “die kulturele sektor $40miljard tot Kanada se BNP toevoeg en werk aan byna 600 000 Kanadese verskaf”. Kanada beskik natuurlik oor ‘n veel groter ekonomie as dié van Suid-Afrika, asook twee wêreldtale: Engels en Frans. Nietemin kla Kanadese steen en been dat niemand hul boeke lees nie! Afgesien van Céline Dion en Leonard Cohen ken ek nie eintlik die name van Kanadese sangers nie. Wanneer laas het u van ‘n Kanadese rolprent gehoor? Of ‘n Kanadese skrywer? Iewers op my boekerak het ek ‘n boek van daardie tannie Margaret Atwood wat blykbaar hul grootste skryfster is, maar, snaaks genoeg, voel ek geen dringende behoefte om dit te lees nie.
Poësie is ‘n taamlik esoteriese genre wat wêreldwyd deur kunsterade en regerings gesubsidieer word. Behalwe natuurlik hier by ons waar ons anti-Afrikaanse regering alles in sy vermoë doen om Afrikaans te onderdruk. Nietemin is die verkope van Afrikaanse poësie groter as dié van Kanadese poësie. Ek sou nie sê jy kan uit die skryf van Afrikaanse gedigte ‘n bestaan maak nie, maar dit getuig van Afrikaans se status as ‘n lewende kultuur, ondanks alle pogings om dit dood te druk.
Oor die afgelope dekade of wat het gewilde Afrikaanse musiek geblom en iemand soos Steve Hofmeyr het reeds twee miljoen CD’s verkoop, terwyl Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, FPK, Juanita du Plessis en ander seker ook goed daarheen op pad is. Afrikaanse sangers maak reeds ‘n bestaan uit Afrikaanse musiek. Intussen toon die Afrikaanse rolprentbedryf ook weer tekens van lewe en my verengelste naamgenoot, Darryl Roodt, wat eens linkse, polities korrekte flieks gemaak het, het hom nou om den brode tot die Afrikaanse mark gewend.
Dit is net op die gebied van boeke en publikasies waar Afrikaans se potensiaal nog nie behoorlik ontgin word nie. Ten eerste het die Afrikaner onder ‘n Afrika-bewind – lyk dit my – afgeleer om te lees. Die volk kyk sport op TV en maak vir DSTV en Naspers se buitelandse aandeelhouers ryk, wat seker hulle goeie reg is. Die arme Afrikaanse boek suig egter aan die agterspeen, want onder ANC-beheer koop die biblioteke nie meer boeke nie, Afrikaanse kursusse aan die universiteite kwyn weg of raak so polities korrek dat slegs Antjie Krog en André P. Brink nog gedoseer word. Marxisme het ‘n kulturele hegemonie in Suid-Afrika bereik.
Tydens die Goue Tyd van Afrikaans in die sestigerjare was daar egter ‘n groot mark vir Afrikaanse tydskrifte, fotoverhale, speurverhale, spioenasieverhale, letterkunde, poësie, drama, ens. Waarom kan daardie goeie tye nie weer terugkom nie? Weliswaar was dit ook ‘n ekonomies voorspoedige era in Suid-Afrika en het die staat nie soos tans geld op korrupte projekte en astronomiese salarisse vir amptenare verkwis nie. Aan die ander kant, is letterkunde en boekverkope nie noodwendig afhanklik van ‘n bloeiende ekonomie nie, soos die huidige Franse voorbeeld aan ons toon. In weerwil van uiters trae ekonomiese groei en hoë werkloosheid, gaan dit voor die wind met Franse boekverkope. Letterlik honderde groot en klein uitgewerye publiseer ‘n konstante stroom nuwe boeke: fiksie en nie-fiksie met allerlei temas en onderwerpe. Letterlik duisende skrywers leef van hul skryfwerk en hou die volk aan die lees.
Waarom kan dieselfde nie by ons gebeur nie? Weereens is daar die Naspersfaktor. Die reusemediagroep in die Kaap beheer die verspreiding van Afrikaanse boeke, asook die publisiteit rondom sulke boeke en skrywers. Dus bestaan dít wat van die Afrikaanse letterkunde oor is uit ‘n groepie horingdom joernaliste, huidige en oudwerknemers van Naspers wat vervelige, niksseggende romans produseer wat net hulle en hulle vriende wil lees. Dis mense wat van letterkunde of idees weinig verstaan, en erg konformisties in hul sienings is, wat natuurlik die aanbidding van “Madiba” en die ANC/SAKP-weergawe van ons geskiedenis insluit. Geen wonder die gemiddelde Afrikaner stel nie meer belang in “letterkunde”, wat hy met domheid en politieke korrektheid assosieer nie.
Blykbaar koop 5 miljoen Dene elke jaar 30 miljoen boeke, wat vertalings vanuit vreemde tale in Deens insluit. Gewilde Deense skrywers word wêreldwyd in vertaling gelees. Trouens, die Deense boekbedryf in ‘n klein Europese landjie is groter as dié van Suid-Afrika met sy 55 miljoen mense!
Hoewel die regering, maar ook die groot maatskappye, aggressief besig is om Afrikaans te probeer doodmaak, is 45% van nuwe boektitels in ons land steeds in Afrikaans. As ‘n mens só daaraan dink, is dit eintlik ‘n wonderwerk! Geen ander taal ter wêreld sou in mededinging met Engels, ‘n vyandige regering van oudterroriste en ‘n algemene kultuur van politieke korrektheid kon oorleef nie. Nederlands of Duits sou lankal gevou het, net soos dié tale in die VSA verdwyn het, in weerwil daarvan dat daar Duitssprekende meerderhede in sommige Amerikaanse state was.
Afrikaans is uiters besonders: van Wes-Europese en Wes-Frankiese oorsprong, gewortel in Suider-Afrika, maar toenemend ook ‘n internasionale taal wat steeds deur die Afrikaner-diaspora in vele eerstewêreldlande gepraat en gelees word. Laasgenoemde punt is belangrik: Tans bestaan daar kwaadwillige pogings om Afrikaans tot ‘n “Afrikataal” of “kreools” te reduseer sodat ons met derderangse status tevrede moet wees, terwyl die staat miljarde rande van ons belastinggeld aan die kunsmatige bevordering van Engels bestee!
Ons moet aanvaar dat die staat, die groot maatskappye, asook die Britse regering wat plaaslik steeds met kulturele imperialisme besig is, Afrikaans wil uitwis. Daarom moet ons terugbaklei, maar op ‘n manier wat die mark vir Afrikaanse kultuur uitbrei sodat daar meer en meer werk en opleiding vir ons mense geskep kan word.
Dat 45% van nuwe boektitels in Suid-Afrika in Afrikaans is, is nie genoeg nie. Ons moet sorg dat dit 70% of 80% raak. Afrikaanse boeke, rolprente en musiek moet eenvoudig Engelse musiek in ons land al hoe meer op die agtergrond stoot. Sekerlik is dit ‘n uitdaging, maar sonder dat ons vreeslik hard probeer, is daar reeds tekens daarvan.
Wat is die potensiële grootte van die Afrikaanse kultuurekonomie en vir hoeveel Afrikaners kan dit werk skep? ‘n Verslag van die Europese Kommissie (“Priority Sector Report: Creative and Cultural Industries”) het die volgende bevind:
-
In 2009, creative and cultural industries firms employed a total of 6.4 million persons in 30 European countries.
-
Regions with high concentrations of creative and cultural industries have Europe’s highest prosperity levels.
-
Large urban areas and capital city regions dominate the creative and cultural industries, but some city regions do better than others. The super clusters London and Paris stand out, followed by Milan, Madrid, Barcelona and Rome.
Trouens, volgens dieselfde verslag is Parys die stad in Europa wat die meeste werk aan mense in die kultuurbedryf verskaf. Nie minder nie as 279 361 Parysenaars is in dié sektor werksaam. As ‘n mens vat dat die gemiddelde inkomste per kop in Parys €25 044 per jaar is, dan beteken dit dat daardie groep mense byna €7-miljard per jaar uit kultuurbedrywighede verdien! In rand omgeskakel, is dit gelykstaande aan byna R100-miljard per jaar.
In die volgende lande werk meer as 5% van mense in die sogenaamde “Kulturele en Skeppende Bedrywe”:
Land | Persentasie van arbeidsmark | Aantal mense wersaam in KSB
Swede 7.30% 151 143
Finland 6.05% 81 818
Ysland 5.85% 9 215
Nederland 5.45% 376 097
Letland 5.41% 53 217
Brittanje 5.39% 1 220 690
Switserland 5.23% 171 087
Noorweë 5.03% 95 875
Omdat swartes nie in Afrikaans belangstel nie en Engels verkies, is die kanse skraal dat daar ooit regstellende aksie in die Afrikaanse kultuurbedryf toegepas gaan word. Dit skep vir ons ‘n geleentheid om dié bedryf uit te bou tot iets wat vir ‘n aansienlike persentasie Afrikaners (iewers tussen 5 en 10 persent) werk kan verskaf. Die uitwerking van so ‘n kulturele opbloei op ons selfrespek en identiteit sal eenvoudig ongekend wees. Hoewel ons steeds oor geen eie land mag beskik nie, sal sowel Suid-Afrika as die meeste ander lande ons soos ‘n outonome etniese en kultuurgroep móét behandel. Die diaspora-Afrikaners sal steeds deel van ons bly en vrylik vanuit Australië, Nieu-Seeland, Kanada, die VSA, VK, ens., aan die bedryf deelneem.
Vanuit die Afrikaanse kultuur wat bande met die res van die wêreld sal handhaaf vir vertalings, filmfeeste, kulturele uitruiling, ens., sal vele ander handelsgeleenthede vir invoer- en uitvoer ontstaan. Terwyl die res van Suid-Afrika op sy ingeslane weg na ‘n tweede Zimbabwe voortploeter, sal ons danksy Afrikaans en haar kulturele en skeppende bedrywe grootliks hiervan gevrywaar word en feitlik oor volle indiensneming beskik.
Soos die Europese studie bevind, beskik lande en stede met groot KSB’s ook oor die grootste welvaart in ‘n algemene sin (“Regions with high concentrations of creative and cultural industries have Europe’s highest prosperity levels”). Immers gaan die twee hand aan hand: hoe groter jou leeskultuur en sin vir jou eie geskiedenis, hoe hoër die vlak van jou opleiding en hoe beter presteer jy in die wêreldekonomie.
Afrikaans kan dus inderdaad die Afrikaner van dreigende ondergang red.