Dan Roodt: Hoe Afrikaans die Afrikaner kan red


Deesdae is dit ‘n geval van: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?” Danksy Afrikanerleiers se onbekookte oorgawe aan die ANC, word ons stelselmatig uit die ekonomie, die akademie, sport, die kerk en die media – om van die politiek en die staatsdiens nie eens te praat nie – geweer. Daar is egter een gebied waar Afrikaners steeds die septer swaai, en dit is binne ons taal en kultuur self.

Sonder Afrikaans sou daar geen Steve Hofmeyr of Bok van Blerk gewees het nie, geen rolprent-, musiek- of boekbedryf nie. Ek lees nou die dag dat “die kulturele sektor $40miljard tot Kanada se BNP toevoeg en werk aan byna 600 000 Kanadese verskaf”. Kanada beskik natuurlik oor ‘n veel groter ekonomie as dié van Suid-Afrika, asook twee wêreldtale: Engels en Frans. Nietemin kla Kanadese steen en been dat niemand hul boeke lees nie! Afgesien van Céline Dion en Leonard Cohen ken ek nie eintlik die name van Kanadese sangers nie. Wanneer laas het u van ‘n Kanadese rolprent gehoor? Of ‘n Kanadese skrywer? Iewers op my boekerak het ek ‘n boek van daardie tannie Margaret Atwood wat blykbaar hul grootste skryfster is, maar, snaaks genoeg, voel ek geen dringende behoefte om dit te lees nie.

Poësie is ‘n taamlik esoteriese genre wat wêreldwyd deur kunsterade en regerings gesubsidieer word. Behalwe natuurlik hier by ons waar ons anti-Afrikaanse regering alles in sy vermoë doen om Afrikaans te onderdruk. Nietemin is die verkope van Afrikaanse poësie groter as dié van Kanadese poësie. Ek sou nie sê jy kan uit die skryf van Afrikaanse gedigte ‘n bestaan maak nie, maar dit getuig van Afrikaans se status as ‘n lewende kultuur, ondanks alle pogings om dit dood te druk.

Oor die afgelope dekade of wat het gewilde Afrikaanse musiek geblom en iemand soos Steve Hofmeyr het reeds twee miljoen CD’s verkoop, terwyl Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, FPK, Juanita du Plessis en ander seker ook goed daarheen op pad is. Afrikaanse sangers maak reeds ‘n bestaan uit Afrikaanse musiek. Intussen toon die Afrikaanse rolprentbedryf ook weer tekens van lewe en my verengelste naamgenoot, Darryl Roodt, wat eens linkse, polities korrekte flieks gemaak het, het hom nou om den brode tot die Afrikaanse mark gewend.

Dit is net op die gebied  van boeke en publikasies waar Afrikaans se potensiaal nog nie behoorlik ontgin word nie. Ten eerste het die Afrikaner onder ‘n Afrika-bewind – lyk dit my – afgeleer om te lees. Die volk kyk sport op TV en maak vir DSTV en Naspers se buitelandse aandeelhouers ryk, wat seker hulle goeie reg is. Die arme Afrikaanse boek suig egter aan die agterspeen, want onder ANC-beheer koop die biblioteke nie meer boeke nie, Afrikaanse kursusse aan die universiteite kwyn weg of raak so polities korrek dat slegs Antjie Krog en André P. Brink nog gedoseer word. Marxisme het ‘n kulturele hegemonie in Suid-Afrika bereik.

Tydens die Goue Tyd van Afrikaans in die sestigerjare was daar egter ‘n groot mark vir Afrikaanse tydskrifte, fotoverhale, speurverhale, spioenasieverhale, letterkunde, poësie, drama, ens. Waarom kan daardie goeie tye nie weer terugkom nie? Weliswaar was dit ook ‘n ekonomies voorspoedige era in Suid-Afrika en het die staat nie soos tans geld op korrupte projekte en astronomiese salarisse vir amptenare verkwis nie. Aan die ander kant, is letterkunde en boekverkope nie noodwendig afhanklik van ‘n bloeiende ekonomie nie, soos die huidige Franse voorbeeld aan ons toon. In weerwil van uiters trae ekonomiese groei en hoë werkloosheid, gaan dit voor die wind met Franse boekverkope. Letterlik honderde groot en klein uitgewerye publiseer ‘n konstante stroom nuwe boeke: fiksie en nie-fiksie met allerlei temas en onderwerpe. Letterlik duisende skrywers leef van hul skryfwerk en hou die volk aan die lees.

Waarom kan dieselfde nie by ons gebeur nie? Weereens is daar die Naspersfaktor. Die reusemediagroep in die Kaap beheer die verspreiding van Afrikaanse boeke, asook die publisiteit rondom sulke boeke en skrywers. Dus bestaan dít wat van die Afrikaanse letterkunde oor is uit ‘n groepie horingdom joernaliste, huidige en oudwerknemers van Naspers wat vervelige, niksseggende romans produseer wat net hulle en hulle vriende wil lees. Dis mense wat van letterkunde of idees weinig verstaan, en erg konformisties in hul sienings is, wat natuurlik die aanbidding van “Madiba” en die ANC/SAKP-weergawe van ons geskiedenis insluit. Geen wonder die gemiddelde Afrikaner stel nie meer belang in “letterkunde”, wat hy met domheid en politieke korrektheid assosieer nie.

Blykbaar koop 5 miljoen Dene elke jaar 30 miljoen boeke, wat vertalings vanuit vreemde tale in Deens insluit. Gewilde Deense skrywers word wêreldwyd in vertaling gelees. Trouens, die Deense boekbedryf in ‘n klein Europese landjie is groter as dié van Suid-Afrika met sy 55 miljoen mense!

Hoewel die regering, maar ook die groot maatskappye, aggressief besig is om Afrikaans te probeer doodmaak, is 45% van nuwe boektitels in ons land steeds in Afrikaans. As ‘n mens só daaraan dink, is dit eintlik ‘n wonderwerk! Geen ander taal ter wêreld sou in mededinging met Engels, ‘n vyandige regering van oudterroriste en ‘n algemene kultuur van politieke korrektheid kon oorleef nie. Nederlands of Duits sou lankal gevou het, net soos dié tale in die VSA verdwyn het, in weerwil daarvan dat daar Duitssprekende meerderhede in sommige Amerikaanse state was.

Afrikaans is uiters besonders: van Wes-Europese en Wes-Frankiese oorsprong, gewortel in Suider-Afrika, maar toenemend ook ‘n internasionale taal wat steeds deur die Afrikaner-diaspora in vele eerstewêreldlande gepraat en gelees word. Laasgenoemde punt is belangrik: Tans bestaan daar kwaadwillige pogings om Afrikaans tot ‘n “Afrikataal” of “kreools” te reduseer sodat ons met derderangse status tevrede moet wees, terwyl die staat miljarde rande van ons belastinggeld aan die kunsmatige bevordering van Engels bestee!

Ons moet aanvaar dat die staat, die groot maatskappye, asook die Britse regering wat plaaslik steeds met kulturele imperialisme besig is, Afrikaans wil uitwis. Daarom moet ons terugbaklei, maar op ‘n manier wat die mark vir Afrikaanse kultuur uitbrei sodat daar meer en meer werk en opleiding vir ons mense geskep kan word.

Dat 45% van nuwe boektitels in Suid-Afrika in Afrikaans is, is nie genoeg nie. Ons moet sorg dat dit 70% of 80% raak. Afrikaanse boeke, rolprente en musiek moet eenvoudig Engelse musiek in ons land al hoe meer op die agtergrond stoot. Sekerlik is dit ‘n uitdaging, maar sonder dat ons vreeslik hard probeer, is daar reeds tekens daarvan.

Wat is die potensiële grootte van die Afrikaanse kultuurekonomie en vir hoeveel Afrikaners kan dit werk skep? ‘n Verslag van die Europese Kommissie (“Priority Sector Report: Creative and Cultural Industries”) het die volgende bevind:

  • In 2009, creative and cultural industries firms employed a total of 6.4 million persons in 30 European countries.

  • Regions with high concentrations of creative and cultural industries have Europe’s highest prosperity levels.

  • Large urban areas and capital city regions dominate the creative and cultural industries, but some city regions do better than others. The super clusters London and Paris stand out, followed by Milan, Madrid, Barcelona and Rome.

Trouens, volgens dieselfde verslag is Parys die stad in Europa wat die meeste werk aan mense in die kultuurbedryf verskaf. Nie minder nie as 279 361 Parysenaars is in dié sektor werksaam. As ‘n mens vat dat die gemiddelde inkomste per kop in Parys €25 044 per jaar is, dan beteken dit dat daardie groep mense byna €7-miljard per jaar uit kultuurbedrywighede verdien! In rand omgeskakel, is dit gelykstaande aan byna R100-miljard per jaar.

In die volgende lande werk meer as 5% van mense in die sogenaamde “Kulturele en Skeppende Bedrywe”:

Land | Persentasie van arbeidsmark | Aantal mense wersaam in KSB

Swede   7.30%                                            151 143
Finland 6.05%                                            81 818
Ysland 5.85%                                                9 215
Nederland 5.45%                                     376 097
Letland 5.41%                                             53 217
Brittanje 5.39%                                    1 220 690
Switserland  5.23%                                  171 087
Noorweë 5.03%                                         95 875

Omdat swartes nie in Afrikaans belangstel nie en Engels verkies, is die kanse skraal dat daar ooit regstellende aksie in die Afrikaanse kultuurbedryf toegepas gaan word. Dit skep vir ons ‘n geleentheid om dié bedryf uit te bou tot iets wat vir ‘n aansienlike persentasie Afrikaners (iewers tussen 5 en 10 persent) werk kan verskaf. Die uitwerking van so ‘n kulturele opbloei op ons selfrespek en identiteit sal eenvoudig ongekend wees. Hoewel ons steeds oor geen eie land mag beskik nie, sal sowel Suid-Afrika as die meeste ander lande ons soos ‘n outonome etniese en kultuurgroep móét behandel. Die diaspora-Afrikaners sal steeds deel van ons bly en vrylik vanuit Australië, Nieu-Seeland, Kanada, die VSA, VK, ens., aan die bedryf deelneem.

Vanuit die Afrikaanse kultuur wat bande met die res van die wêreld sal handhaaf vir vertalings, filmfeeste, kulturele uitruiling, ens., sal vele ander handelsgeleenthede vir invoer- en uitvoer ontstaan. Terwyl die res van Suid-Afrika op sy ingeslane weg na ‘n tweede Zimbabwe voortploeter, sal ons danksy Afrikaans en haar kulturele en skeppende bedrywe grootliks hiervan gevrywaar word en feitlik oor volle indiensneming beskik.

Soos die Europese studie bevind, beskik lande en stede met groot KSB’s ook oor die grootste welvaart in ‘n algemene sin (“Regions with high concentrations of creative and cultural industries have Europe’s highest prosperity levels”). Immers gaan die twee hand aan hand: hoe groter jou leeskultuur en sin vir jou eie geskiedenis, hoe hoër die vlak van jou opleiding en hoe beter presteer jy in die wêreldekonomie.

Afrikaans kan dus inderdaad die Afrikaner van dreigende ondergang red.

21 thoughts on “Dan Roodt: Hoe Afrikaans die Afrikaner kan red”

  1. Stem! Die mark vir peuters, kleuters, en ander kinders is die een mark waar daar baie goeie resultate binne ‘n kort tydperk bereik kan word.
    Soek na goeie verjaardag- en ander kaartjies in Afrikaans – maar skraal.
    Om maar net twee te noem.

  2. Ek sien so ‘n rukkie gelede ‘n kommentaar op bakkiesblad: “Gewone mense het groot TVs. Buitengewone mense het groot biblioteke”. Hierdie word maar net weer hierbo bevestig.
    Dit is jammer dat narpers ook in “beheer” van uitgewery in ons land is – dus is dit maar moeilik om iets gepubliseer te kry veral met die enorme koste wat daarmee saamgaan. Dankie tog vir die elektroniese media (al verkies ek dit self om maar die papierkopieë te gebruik)

    1. Rooikop, gaan kruip in stowerrige winkels rond / tweedehandse winkels / die ou “pawn shop” wat mens kry, jy sal verbaas wees watse ongelooflike ou hardeband boeke jy raakloop – dis al wat ek deesdae doen! Ek koop geen “nuwe” verligte polities korrekte ver-platvloerse ingelse sinsnedes van vandag nie, maar ek grou in stof en het al juwele raakgeloop! Het onlangs ‘n 1955 publikasie posië van al ons bekende skrywers raakgeloop, met die student wat nog aantekeninge in potloop langs die kant gemaak. Ek is die 7de persoon wat die boek besit, sommer my naam ook met die datun voor ingeskryf. Nee kyk, almal kan begin ou boeke opkoop, dis heerlike lees sonder die plat kreools wat aan ons opgedis word nie!

      1. “heerlike lees sonder die plat kreools wat aan ons opgedis word”

        Die geweldige jare van die Driejarige Oorlog was verby. Die
        kanongebulder en die kruitrook was herinneringe wat oor ‘n toenemende
        tydsafsafstand hul verskrikkinge verloor het.

        Die angs van die konsentrasiekampe was, selfs vir hulle wat dit moes
        deurstaan, ‘n ondervinding wat sy skerpte en sy smartlikheid verloor
        het namate dit verder gewyk het, die verlede in.

        Die bitterheid en die verset wat by die gedagte aan die oorlog en die
        ellende daarvan nog soos ‘n beklemming na die keel gestyg het, was nie
        meer so intens, so ondraaglik nie. ‘n Volk was neergeslaan deur ‘n
        oormagtige wapengeweld; ‘n oomblik het hy weerloos gel8, uitgeput en
        verneder, maar toe het sy onuitroeibare lewenskrag hom weer laat geld:
        Geleidelik het hy ontwaak uit die verdowing van sy nederlaag; sy siel
        was tydelik verlam, maar nie gebreek nie.

        Langsaam het die oorlogsjare in die volksgedagte ‘n legende geword.
        Dit het die skoonheid en die glans van ‘n heldesaga gekry:

        ‘n Magtige verhaal oor veraf dinge; wat die siel ontroer het soos
        weerlig op ‘n horison ver aan die grense van die nag. Dit was ‘n
        donker verhaal, vol naamlose lyding; maar ook vol grootse dade en
        onvergeetlike opofferinge.

        Die republieke het hul vryheid verloor, maar hul wapen-eer behou. En
        nou het die Boerevolk op die drumpel van ‘n nuwe eeu gestaan: ‘n
        Tydsgewrig vol hoë beloftes, maar ook vol ontsettende gevare.

        Van die magtige brok geskiedenis wat nou kort agter hom gelê het, het
        n tasbare besieling uitgegaan vir die manne en vroue wat, na die
        ontberings van die veldlewe en die konsentrasiekampe, na hul verwoeste
        plase en verbrande hoewes moes terugkeer. En dit was die besieling wat
        hulle in daardie bittere na-oorlogse jare aan die lewe gehou het, en
        waarin ‘n groot belofte vir die toekoms geskuil het:

        Daar sou armoede wees, miskien jare lank; die huise wat deur die
        vandalisme van die tierende soldaat in bouvalle verander is, moes
        herbou word; die plase wat in as en puin gelê is, moes van nuuts af
        aan bewerk word; daar sou dae wees dat die moed miskien sou ontbreek
        om te volhard, om uit die vernedering en die smaad op te staan en weer
        die oë na die sterre te rig; daar sou oomblikke wees wanneer hul
        vertroue sou wankel; wanneer die bitter vraag hom aan hulle sou
        voordoen of al die opoffering, al die ellende en al die pragtige
        heldemoed die moeite werd was; of God hulle nie miskien vergeet het
        nie.

        En daardie oomblikke sou die grootste gevare wees wat die toekoms vir
        hulle kon inhou; want die nederlaag wat hulle gely het, was ‘n
        nederlaag slegs in naam; dit was ‘n smeltkroes waarin alle vuilheid en
        alle laagheid uit hul harte gepuur is …

          1. More Rooikop,
            dieselfde proses vind plaas by die suiwering van silwer.
            Vra iemand vir die smelter, wanneer hy nou so sit met die potjie silver wat besig is om te smelt IN DIE VUUR en al die onsuiwerheid uit te kook, hoe weet hy wanneer is die silver skoon en gereed vir gebruik.
            Sy antwoord!
            WANNEER EK MY BEELD IN DIE SILVER KAN SIEN.

          1. Ai… As u maar weet hoe min my selfvertroue is… By tye soos leë watersakke in die Klein Karoo … U laat my verleë – maar die opregte skrywe wat volg is uit my hart – te danke aan u oordadige goedhartigheid.

            Ek slaan nie my oë op na die berge nie.
            Hoe kan ek nie weet waar my hulp vandaan kom nie?!
            Soos ‘n reuse geelhoutboom met lowergroen blare
            Vol selfvertroue…
            Blink gereën…
            Val ek om.
            Sonder dat daar iemand is wat my val sou keer.

            My staar is stil.
            Eers verwelk niks aan my nie…
            My ore tuit
            My oë rol rustig rond in hul kaste
            Terwyl my arms afgesny word.
            Toe knak ek.
            Stuk vir stuk word my groei opgesny.

            Eers gemeet
            Om te kyk wat oor is…
            Word ek genommer.
            Geklas.
            Geherklas.
            Selfs my bas word gebruik.
            Looi kom van iewers…

            Tel jy my bloei-hale? (Moet jou nie ophou met beuselagtighede nie!)
            Kan ‘n geslag, geslag word?
            Sonder om spatsels na te laat?
            Kan jy ‘n geelhoutwoud uitwis
            Sonder dat dit weer saad sou skiet?
            Sonder Hulp ja.
            My hulp is nader as die berge…

            O Heer…
            Ek hef my saad op..
            Wat alleen deur U Wil geskied was

            Op, aan U alleen.
            Want U alleen bou die huis
            U alleen klee die lelies tot vrome wonderskoon
            U knak my om U alleen te eer en dien.

            U kinders is
            Is my kinders nie ook U s’n nie?
            Is hulle s’n nie ons nie?
            Paulus en Petrus?
            Maria en Sara.
            Is Lot nie ook my lot nie?

            NS Sou ek omkyk of val…

          2. More Dolk,
            hierdie word nie sommer so met die eerste, een haal gelees en verstaan nie.
            Hier moet jy rustig en stil word. Kalm en bedaard inneem en verteer, dan maak dit oop en sien jy wat gesê word.
            Mooi dag ou vriend.

          3. Goeie more aan u ook. Beeldspraak is soos gouderts – of gewaande (en ongewande) kaf… ;))

            (Om een sin in perspektief te plaas: “Ek slaan nie my oë op na die berge nie.”… Wat ek daarby bedoel is dat ek weet wie my Helper, my ewige Hulp is. Dis nie nodig om my hulp van “iewers” te verwag nie. Hy wat oor ons waak is met ons – al die dae van ons lewe. Val Sy skadu nie oor ons – sodat die son ons nie bedags steek nie? Dis wat ek daarmee bedoel het.)

            ‘n Geseënde dag aan u en almal.

    2. Rooikop, dis juis wat ons binnekort gaan verander. PRAAG sal binne die volgende jaar omtrent 20 boeke publiseer en die jaar daarop 50: ons eie PRAAG-skrywers, maar ook ‘n swetterjoel buitelandse boeke wat vir ons op een of ander manier interessant of van belang is. Ons werk tans aan vyf vertalings wat nog voor die einde van die jaar sal verskyn.

  3. Dr Dan, hier kom nou ‘n mooi ding.
    U het hier die saak wat elke eg, en opregte, betrokke, Afrikaner na aan die hart lê aangespreek.
    Ek en my vrou praat net verlede week daaroor, dat ons huidige openbare biblioteke oud, bleek en stowwerig voorkom wanneer jy daar instap, en dan is die “nuwe” personeel ook nie waffers om hulp te verleen nie.
    Daar is net nie nuwe boeke op hul rakke nie, en jy ervaar ook nie die ritseling van entosiasme vir lees in die biblioteek nie.
    Dit kan dalk ook ‘n benadering van die regering wees om stil-stil alle biblioteke te verarm en te laat doodsmoor.
    As jong pa met kleuters in die huis het ek summier ons TV verkoop toe ek besef dat dit ons kinders negatief beinvloed.
    Twee weke later was daar reeds ‘n verskil te bespeur met ons kinders.
    My seun het nou reeds ‘n paar jaar gelede dieselfde besluit geneem en het ook dieselfde resultate ervaar.
    Tegnologie is puik solank jy dit beheer, anders neem dit jou hele menswees van jou weg en word jy ‘n “zombie” wat net heeldag wil knoppies druk.
    Vergeet van boeklees.
    Dankie vir hierdie puik rubriek, wil u dit nie wyd publiseer dat meer mense dit (probeer) lees nie. haha (:-))

  4. zou er bv. niet eens een goed boek, film of kort verhaal kunnen worden uitgebracht over een verdreven blank gezin in de ‘Vertriebenen’ sferen zoals dat bekend is uit de Duitse Ost Gebiete en waarop ook nog steeds een taboe drukt ?
    Of bestaat dat al ? Dan graag een hint.

    Die mensen, die zich OOK in het ‘bevrijde Duitsland geen ‘vluchteling’ mochten noemen zijn met miljoenen(14 miljoen) verjaagd uit Oost Pruissen. Servië, Bohemen, Bessarabië etc.
    Let wel, Bundespresident Gauck vergeleek hen onlangs zelfs met de ‘migranten’/’vluchtelingen’ die nou Duitsland worden binnengetrokken om de boel kaal te vreten !!!

  5. in Duitsland het ‘n uitgever kortverhalen begin verkoop by U-Bahn en S-Bahn treinstasies van dink ek 10 bladsye vir iets oos €0,50 per publikasie. Dit loop storm.Mense wat blykbaar normaal niks lees, lees ineens kortverhale. En veel amateur skrywers het n platform gekry om hul werk gepubliceerd te kry.

  6. Daar is niks beters om ‘n kind te inspireer om te lees soos “Comics” nie. Die ou “comics” van Donald Duck, Casper, Spooky, Little lotta, Dot ens. ens. was ook baie leersaam.
    Ek sou iets soos daardie in Afrikaans wou sien.

  7. Ja waragtag Dan daar is inderdaad ‘n groot mark vir kwaliteit estetiese Afrikaans wêreldwyd.

    Die kinders soek veral kleuter en kinderboekies oorsee.
    soos hierdie kosbaarheid: Google ‘Kleuter’
    www: kleuter.co.za – absolute skathuis van volkskultuur….

    Oupas en Oumas sing nou vir die outjies oorsee op Skype… al die afrikaanse liedere van Musiker en Koos Dup tot al die wonderlikste vreugdevolle musiek en stories van Verna Vels. tot Halleluja kinderliedjies.

    Afrikaans moet [weer? } die taal word van vreugde en verlossing en vertroosting.en tuiste…

    Al is dit vir die eerste keer te laat lag soos kindertjies…..

    Afrikaans moet ‘n blye boodskap dra en die Lig wees in die duisternis wanneer die verlange te groot word.in Kanada.

    Daar is ‘n onbeperkte mark daarvoor wat wag om ontgin te word. deur Praag.

    Die blye boodskap in Afrikaans

Maak 'n opvolg-bydrae