ANC probeer EFF-lede glo omkoop om in Johannesburg vir hom te stem

Die EFF het oor die naweek in ‘n verklaring beweer dat lede van dié radikale afromarxistiese party tot R500 000 per stem aangebied is om vir die ANC se kandidaat in Johannesburg te stem as die burgemeester vandag aangewys word. Die omkoopgeld sou blykbaar in kontant betaal word.

Maar die EFF gaan nou ‘n strafregtelike klag van omkopery en korrupsie teen die ANC lê, volgens die party se woordvoorder Mbuyiseni Ndlozi.

“Die EFF in Johannesburg gaan ‘n saak van omkopery teen die ANC se Dan Bovu aanhangig maak wat meen dat ons demokrasie te koop is. Die ANC in Johannesburg moet weet dat geen mate van omkopery hom ooit met die mense gaan versoen wat hom in ‘n verkiesing verwerp het nie. Die ANC moet erken dat hy verslaan is en nie poog om verkiesings deur korrupsie te wen nie,” sê Ndlozi.

“Selfs al sou die ANC Maandag daarin slaag om ‘n raadslid te koop, sal die burgemeester nie hou nie want politieke partye beskik oor die reg om raadslede te vervang. Ons sal daarom so maak en verseker dat die ANC in Johannesburg uit die mag gestel word.”

Partye in Johannesburg gaan heel waarskynlik vandag tydens die eerste sitting van die nuwe stadsraad ‘n burgemeester en speaker aangwys. Tydens die plaaslike verkiesing op 3 Augustus kon die ANC nie daarin slaag om ‘n algehele meerderheid in die land se grootste en rykste stad te behaal nie. Die Johannesburgse metro sal heel moontlik deur ‘n koalisie tussen die DA en die EFF oorgeneem word, soortgelyk aan wat Vrydag in die hoofstad, Pretoria, gebeur het.

Die telling van nuwe raadslede is soos volg: ANC: 121; DA: 104; EFF: 30. Dit plaas die EFF in die gunstige posisie dat hy kan bepaal watter van die twee groter partye gaan regeer. Die res van die 270 setels in die Johannesburgse raad is deur kleiner partye ingepalm.

Gister het die ANC se kandidaat en huidige burgemeester, Parks Tau, gesê dat hy nie langer burgemeester mag wees nie, maar dat sy party gereed staan om die rol van opposisie in die stadsraad te speel. Volgens hom word daar steeds ter elfder ure samesprekings oor koalisies gevoer en sal die uitslag vandag eers onthul word.

Oproeriges in Riverlea Johannesburg gooi klip

Toegangsroetes na Riverlea in Johannesburg is gesluit na oproer wat glo oor elektrisiteitvoorsiening en behuising voorkom.

Mainreef- en Commandoweg in Riverlea is na openbare geweld gesluit en ‘n uitgebreide polisieteenwoordigheid is in die ontplooi.

Oproeriges bestook motoriste met klippe en brand motorbande.

Die inwoners van die Zamimpilo-plakkerskamp is ontevrede oor ‘n gebrek aan huise.

Hulle sê die Johannesburgse metroraad het belowe om hulle te skuif na ‘n behuisingsprojek, maar dit het nie gebeur nie.

Inwoners is ook ontsteld oor ‘n gebrek aan elektrisiteit.

Video: Johannesburgse Metropolisie skop, slaan Afrikanermotoris

Die Johannesburgse Metropolisie het onlangs ‘n Afrikanermotoris geskop en geslaan omdat hy nie ‘n nommerplaat gehad het nie: dít terwyl hy ‘n nuwe nommerplaat in sy motor had omdat die vorige gesteel is. In ‘n video wat viraal op sosiale media versprei, word die laaste deel van die motoris – wat met ‘n duidelike Afrikaanse aksent Engels praat – getoon waar hy met die polisie probeer redeneer nadat hulle hom aangerand het.

‘n Vroulike metropolisielid probeer die motoris se vrou keer om die gebeure op video via haar selfoon vas te lê, maar sy staan op haar reg om die gebeure af te neem. Hier is die kort video, wat egter eers aan die einde van die aanranding begin.

Openbare geweld in Johannesburg, Polokwane

Minstens 38 oproeriges is in hegtenis geneem weens openbare geweld by die George Goch- en Denver-hostelle, suid van Johannesburg.

Die hostelbewoners het nabygeleë paaie en hoofroetes versper en twee voertuie aan die brand gesteek.

Die hostelbewoners is ontevrede oor die herafbakeningsproses wat beteken dat die hostelle in Wyk 65 van die IVP val, asook in Wyk 118 van die DA.

Ander kwessies is onvoldoende sanitasie en behuising. Die polisie het bevestig dat die gewelddadige protesoptrede onder beheer gebring is.

Intussen het oproeriges van die Ga-Rena nedersetting in Polokwane in Limpopo strate met vullis versper.

Inwoners is ontevrede omdat hulle rommel nie verwyder word nie. Die polisie sê verkeersligte is ook beskadig.

Die polisie is ontplooi om die situasie te monitor.

Verlede week is die burgemeester van Nylstroom (Modimolle) in Limpopo se huis is in die vroeë oggendure aangeval.

Ligte is beskadig en elektriese kabels is afgesny by Elizabeth Lekalakala se huis. Sy en haar gesin is ongedeerd.

Die polisiewoordvoerder, Ronel Otto sê die voorval word ondersoek.

Inwoners van die gebied betoog al etlike dae oor die gebrek aan water. Die pad na Phamageng moes gesluit word nadat betogers die pad met brandende bande en takke versper het.

Betogers het ook probeer om weer die R101 na Naboomspruit te versper, maar die polisie het die versperrings verwyder.

Veertien mense is reeds weens openbare geweld in hegtenis geneem.

Vier gevalle van ingewandskoors in Johannesburg

Die Gautengse departement van gesondheid het bevestig dat vier gevalle van ingewandskoors geïdentifiseer is in die Johannesburg-gebied.

Hillbrow, Yeoville, Edenvale, en Palm Springs is aangedui as voorstede waar die siekte voorgekom het.

Twee van hierdie gevalle is geïdentifiseer by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal, terwyl die ander twee bevestig is by die Edenvale-distrikshospitaal, het die departement in ‘n verklaring gesê.

Een van hulle, ‘n 27-jarige Malawiese vrou, is Sondag, 17 Januarie, 2016 dood in die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal

Die slagoffer het drie weke gelede vir ‘n vakansie na Malawi gereis en is terug na Suid-Afrika deur Mosambiek. Sy het op Dinsdag 12 Januarie hier aangekom.

Sy het by die Hillbrow Gemeenskapskliniek gaan kla op 14 Januarie oor koors, hoofpyn, en braking.

Sy is getoets vir malaria en aangesien die resultate negatief was, is sy ontslaan.

Toetse vir ingewandskoors is nie gedoen nie omdat hierdie siekte nie algemeen in die gemeenskap voorkom nie, het die kliniek gesê.

Daarna, is ‘n ander pasiënt, ‘n 16-jarige Suid-Afrikaanse meisie, in dieselfde hospitaal opgeneem 19 Januarie en dadelik gediagnoseer met ingewandskoors.

Sy is behandel en verkeer tans in ‘n stabiele toestand. Sy het nog nooit uit die land, of buite Gauteng gereis nie, het die departement gesê.

Twee Zimbabwiese meisies, 11 en 3 jaar oud is, is onderskeidelik toegelaat by die Edenvale-distrikshospitaal. Albei is gediagnoseer met met die siekte.

Beide kinders het pas teruggekeer van Zimbabwe na kort besoeke daar,” het die departement gesê.

Terreur op agenda by China-Afrika-beraad in Johannesburg

Die Chinese ambassade in Luanda se eerste sekretaris, Zhao Haihan, het in ‘n onderhoud met Bloomberg gesê die Angolese regering is gewaarsku oor die hoë frekwensie van ontvoerings van Chinese burgers.

Tot enkele weke gelede, het niemand verwag dat veiligheid ‘n onderwerp van bespreking sal word by die China-Afrika-beraad wat 4-5 Desember in Johannesburg gehou word nie.

Terrorisme en veiligheidskwessies sal waarskynlik op die agenda wees wanneer die Chinese president Xi Jinping met meer as 50 swart eweknieë van die kontinent vergader.

China se kwesbaarheid vir terrorisme is blootgestel toe ISIS die Chinese burger Fan Jinghui onlangs tereggestel het.

Dit het gelei tot oproepe op Chinese sosiale media dat Beijing moet terugslaan teen die terroristegroep.

Net ‘n paar dae later, is nog drie Chinese vermoor deur terroriste, hierdie keer in die hoofstad van Mali, Bamako.

Die aanvallers het die Radisson Blu Hotel bestorm waar drie bestuurders van die staatsbeheerde China Railway Construction Corporation doodgeskiet is.

Hierdie twee gebeurtenisse is net die jongste aanvalle op Chinese burgers in die buiteland.

Die afgelope paar jaar, is Chinese burgers gevange geneem deur Boko Haram in Kameroen, ontvoer in Egipte, gyselaar geneem in Soedan.

In Angola, is die situasie is so erg dat ‘n senior amptenaar van die ambassade in Luanda ‘n beroep op die regering gedoen het om in te gryp om toekomstige Chinese belegging in die land te ondersteun.

Die persepsie dat China nie na sy mense in die buiteland kan omsien nie, is ‘n werklike probleem vir die legitimiteit van die regering, sê ontleders.

In teenstelling met die Verenigde State van Amerika, Frankryk, en Brittanje wat eensydige militêre ekspidisies in ander lande onderneem sonder VN toestemming, het die Chinese tot dusver sulke ingrypings vermy.

Dit is nie seker of China tans oor die vermoë beskik om spesiale magte te ontplooi om na hul belange om te sien nie, meen hulle.

Die beraad vind onder voorsitterskap van president Jacob Zuma en sy Chinese ampsgenoot Xi Jingping plaas.

China het verskeie ooreenkomste wat hy met Afrika-lande wil sluit en beloof beleggings van miljarde dollar, en teen die einde van verlede jaar was handel en beleggings tussen China en Afrika bykans 200 miljard dollar werd.

Die handelsbalans is egter grootliks in China se guns. In die eerste helfte van die jaar het beleggings egter met 40 persent gedaal weens lae kommoditeitspryse en ‘n sukkelende wêreldekonomie.

Onrus by universiteite duur voort

‘n Nagwaak by die Universiteit van Johannesburg se Kingsway-kampus in Aucklandpark het die nawwek gewelddadig geraak.

Die SABC berig polisie het rubberkoeëls gebruik om die studente uiteen te jaag, nadat hulle probeer het om by die universiteit se gronde in te kom. Betogers het daarna die verkeer op Kingsway-laan ontwrig deur buitebande te brand.

Hulle het ook ‘n park naby die kampus aan die brand gesteek. Die betogers het ‘n beroep gedoen vir die beëindiging van uitkontraktering en registrasiefooie by die universiteit.

Die Universiteit van Wes-Kaapland het intussen alternatiewe maniere aangekondig vir studente om hul akademiese jaar te voltooi weens ‘n onstabiele situasie op die kampus.

Die registrateur, Nita Lawton-Misra sê finale jaar-studente in al die fakulteite sal aan een of ander vorm van assessering onderhewig wees. Die huidige eksamenrooster vir finale jaar-studente sal ook nog steeds Maandag van krag wees.

Sy sê alle ander studente kan hul deurlopende punte in finale punte omskakel, of om alternatiewe assessering aansoek doen.

Onbeskermde staking kan Johannesburg donker laat

Die munisipale werkersvakbond SAMWU het gewaarsku dat sy staking wat aanstaande Maandag begin, daartoe sal lei dat die hele Johannesburg en sy voorstede in duisternis gehul sal wees.

Die vakbond sê hy het Johannesburg City Power ingelig van sy voorneme om met ‘n volskaalse staking te begin, het RSG berig.

City Power sê die staking is onbeskermd. SAMWU voer aan dat City Power en sy Raadsvoorsitter nie aandag gegee het aan kwessies wat verband hou met korrupsie teen City Power se besturende direkteur nie.

City Power sê SAMWU se optrede sal neerkom op sabotasie. City Power sê hy is ‘n Nasionale Sleutelpunt en enigeen wat dreig om die kragnetwerk onwettig af te skakel, kan vervolg word.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het ook nie ‘n sertifikaat uitgereik aan SAMWU nie wat die staking onwettig maak.

City Power sê hulle het sonder sukses by talle geleenthede SAMWU gevra om sy bewerings van korrupsie teen die besturende direkteur te staaf.

Johannesburgse stadsraad beplan ‘ekomobiele’ Oktobermaand

Die Johannesburgse stadsraad maak gereed vir ‘n “ekomobiele wêreldfees” tydens aanstaande maand wat op die sakesentrum Sandton sal fokus. Die fees is deel van ‘n wêreldwye poging om meer ekovriendelike en gesonde vervoermiddels soos fietsry en stap, asook openbare vervoer, aan te moedig. Tesame met ekomobiliteit sal besoekers en pendelaars egter ook ‘n goeie dosis politieke korrektheid inkry, want volgens die stadsraad “sal die stedelike sentrum van Sandton met die nabygeleë lokasie Alexandra gekoppel word en vele van die aanbiedings is ontwerp om dié diverse woonbuurte te integreer”.

Die rede waarom Sandton gekies is om as ekomobiele uitstalruimte te dien, is omdat 300 000 voertuie elke dag die paar vierkante kilometer van die Sandtonse sakesentrum besoek en verlaat, ‘n getal wat na beraming binne die volgende tien jaar met 50% gaan toeneem. Onder ANC-bestuur het die middestad van Johannesburg, waar infrastruktuur reeds meer as ‘n eeu lank gebou word, tot ‘n derdewêreldstad van verlate geboue en straatsmouse verval, terwyl ‘n nuwe stad in die woonbuurt Sandton sonder enige beplanning verrys het.

Lisa Seftel, die huidige vervoerbaas van Johannesburg, was in haar jong dae ‘n marxistiese aktivis aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy wil die vervoerkrisis waarop Sandton afstuur, met ‘n “geïntegreerde plan” troef wat openbare vervoer en ekomobiele vervoer insluit. Die probleem is egter dat Suid-Afrikaners – veral diegene wat in Sandton werk – baie traag is om openbare vervoer te gebruik. Op enige weeksoggend kan welgeklede vroue in BMW’s op pad Sandton toe op een van die hoofare gesien word waar hulle Whatsapp-boodskappe vanaf hul iPhones versend.

Mense se houdings sal drasties moet verander. En dis nou waar die Wêreldekomobiliteitsfees 2015 inkom. Lisa Seftel sê: “Om infrastruktuur te bou en dienste bekend te stel, gaan nie noodwendig beteken dat mense uit hul motors gaan klim om openbare vervoer te gebruik of fiets te ry nie. Die stad moet gedragsveranderings moontlik maak en ondersteun deur hoëgehalte-openbarevervoerinligting te verskaf en om seker te maak dat dié middele veilig is. Dit kan deur bewusmakings-, wetstoepassings en opvoedkundige programme bewerkstellig word.”

 

Johannesburg beskik oor ‘n jaarlikse begroting van bykans R50 miljard. Die uitvoerende burgemeester, Mpho Parks Tau, sê dat die Fees “sal demonstreer dat ‘n ekomobiele toekoms moontlik is en dat openbare vervoer, stap en fietsry toeganklik, veilig en aantreklik kan wees”.

Die doelwit is om die aantal motors in die Sandtonse sakesentrum gedurende Oktober met 30% te verminder. Strate sal vir motors gesluit word en voetgangers en fietsryers sal voorkeur geniet. Spontane straatvertonings met musikante of ander kunstenaars sal aangemoedig word.

Die hele kommunikasieveldtog word egter net in Engels gevoer. Moontlik moet PRAAG van die geleentheid gebruik maak om die Johannesburgse stadsraad onder die indruk van veeltaligheid te bring?

Ses gesinne, drie minute

‘n Gewapende roof in Linden, Johannesburg, op 20 Junie het net drie minute geduur waartydens ses gesinne aangeval is.

Ene Fareed Hoosen, van Pexco Security was glo eerste op die toneel. “Ek het verbygery my vriend Hans se huis op my pad huis toe van die werk af en gesien dat hulle partytjie hou. Binne ‘n minuut of so van my aankoms tuis, ek het ‘n oproep van hom gehad om te sê daar is gewapende mans in sy huis. Ek is haastig daarheen, maar teen die tyd dat ek daar aangekom het, was die gewapende mans weg. Dit is hoe vinnig die hele ding gebeur het.”

‘n Nederlandse huiseienaar Hans Somsen verduidelik dat hy en sy vrou, Riana vriende oorgenooi het om die onlangse verkoop van Somsen se tuinsentrumbedryf op Witkoppenweg te vier. Hulle wou ‘n afskeidspartytjie hou voor die Somsens hul huis verkoop en terug verhuis na Nederland.

Daar was ses gesinne by die partytjie, ongeveer 17 volwassenes en 17 kinders. Geslotekringbeeldmateriaal wys een van motors van die laaste gas se aankoms in die oprit.

‘n Wit Toyota Avanza word dan gesien wat op die hek afjaag en hard rem buite die hek. Drie swart mans met klapmusse en handskoene en wapens spring uit en gryp die hek voordat dit heeltemal sluit. Hulle dwing die hek oop, trek die gas uit die motor en dwing die insittendes om in die oprit te gaan lê voordat hulle die huis bestorm. Die bestuurder van die Avanza ry intussen verder met die straat op.

Die gewapende mans het al die kinders op die grond laat lê terwyl hulle persoonlike items van waarde, soos selfone, juweliersware en horlosies van die res van die gaste gestroop het. Riana Somsen het daarin geslaag om die paniek-knoppie te druk.

Beeldmateriaal toon dan hoe die gewapende swart mans die eiendom verlaat, en in die wagtende Avanza spring wat weers sy verskyning maak. Die hele voorval het nie langer as drie minute geduur nie.

‘n Saak is geopen by die Linden-polisiekantoor. Gaste ontvang tans traumaberading. ‘n Woordvoerder van die Linden-polisiekantoor was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

Die eienaar van die sekuriteitsonderneming het beklemtoon dat hy “vinniger” as die ander mededingers gereageer het.

Geld reën na treinbotsing

‘n Botsing tussen twee treine by die Denverstasie in die suidooste van Johannesburg Dinsdag, waarin 240 mense beseer is, het die lewe van een passasier geëis.

‘n Business Express-trein by die Denver-stasie suidoos van Johannesburg het teen ‘n stilstaande Metroplus-trein gebots.

‘n Woordvoerder van die Spoorveiligheidsreguleerder, Babalwa Mpendu, sê hulle het teen laat gistermiddag die ondersoek voltooi.

Mpendu sê ‘n kommissie van ondersoek sal aangestel word om die oorsaak van die ongeluk te bepaal, en sal na verwagting Woensdag ‘n voorlopige verslag uitreik oor die botsing.

Die Reguleerder sal glo binnekort aanbevelings aan PRASA doen oor hoe sulke voorvalle in die toekoms vermy kan word.

Die passasierspooragentskap PRASA het die passasiers wat in die treinongeluk beseer is aangemoedig om van Woensdag af te registreer vir vergoeding.

‘n Woordvoerder van PRASA, Lucky Montana sê R25 miljoen is beskikbaar gestel om passasiers met geringe beserings te vergoed, en bedrae van tussen R7500 en R15 000 sal uitbetaal word.

Instapsentrums is by Pretoriastasie en Parkstasie in Johannesburg ingerig waar passasiers vergoeding kan eis.

Volgens Montana het die passasiers nie regsverteenwoordigers nodig nie, maar hulle sal wel mediese verslae moet toon van die twee hospitale waar die beseerdes behandel is.

Zim sê dodetal in xenofobiese geweld ‘n grys gebied

Die polisie in Gauteng het Maandag ontken dat ‘n Zimbabwiese vrou wat onthoof is in Killarney verlede week, ‘n slagoffer van xenofobiese geweld was, maar Zimbawiese hooggeplaastes sê die dodetal is ‘n grys gebied.

Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het aan News24 gesê die vrou se liggaam is Dinsdag gevind “naby die plek waar die hawelose mense was bly” in Killarney.

“Ons dink nie dat dit verband hou met die xenofobiese geweld nie. Dit lyk soos ‘n beplande moord. Sy is elders vermoor, en haar liggaam is daarna in die plastieksak gestop en weggegooi,” het Dlamini gesê, wat bevestig het dat die polisie die motief vir die vrou se moord ondersoek.

Dlamini het nie die naam van die slagoffer bekend gemaak nie, maar die staatsbeheerde media in Zimbabwe het Maandag lede van ‘n gesin in Harare aangehaal wat gesê het hul familielid is onthoof in die Houghton-gebied.

Sy is glo Naome Garusa en hulle glo sy was inderdaad ‘n slagoffer van die xenofobiese geweld in dele van Durban en Johannesburg wat vir meer as ‘n week gewoed het.

“Plunderende xenofobiese elemente, het haar geteiken toe sy van haar werkplek gekom het”, het die Herald berig.

Buitelandse kinders wat in Suid-Afrika skoolgaan, is ook geraak deur die onlangse xenofobiese aanvalle, het die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van SA (Naptosa), gister gesê.

“Leerders is ook ontwrig deur die geweld en ‘n paar buitelandse leerders is geïntimideer,” sê Naptosa se president Basil Manuel.

Onderrig is ook ontwrig in sommige skole, en sommige buitelandse onderwysers in Suid-Afrika was bang om te rapporteer vir diens.

Zimbabwe se ambassadeur in Suid-Afrika Isak Moyo, wat tans in Durban is, sê die dodetal is ‘n “grys gebied”. Suid-Afrikaanse bronne beweer net sewe mense is dood in die onlangse geweld.

Hy het aan die Chronicle-koerant Maandag gesê dat daar slegs een Zimbabwiese slagoffer amptelik bevestig is, ‘n man wat bekend staan ​​as Mhofu. Amptenare probeer om sy liggaam te repatrieer.

Maar daar is vroeër berig dat nog twee Zimbabwiërs, ‘n vrou en ‘n kind, dood is in die geweld.

Zimbabwe het begin om honderde burgers in die nasleep van die aanvalle terug te bring huistoe.

Die eerste groep van 407 Zimbabwiërs, waaronder byna 100 kinders, het Maadag by die Beitbrug-grenspos aangekom.

Motors aan die brand gesteek in Johannesburg

‘n Aantal motors in Jeppestown, Johannesburg is verlede nag aan die brand gesteek in die voortslepende geweld teen buitelanders.

‘n Groot polisiesteenwoordigheid is in die gebied ontplooi om geweld te probeer bekamp. Die motors het vermoedelik aan Mosambiekse burgers behoort.

Verskeie winkels in die Johannesburgse middestad is ook geplunder en gevandaliseer te midde van die xenofobiese golf wat tans oor die land tans spoel.

Intussen is ‘n Ethiopiese man steeds in ‘n ernstige toestand in die hospitaal nadat hy aan die brand gesteek is in ‘n beweerde xenofobiese aanval aan die Oos-Rand van Gauteng.

Inwoners van Greenfields wat kwaad is vir hulle wyksraadslid, het na bewering die Ethiopiër, Fayis Abeyo aangeval en sy winkel geplunder.

In Ledig in Noordwes het inwoners ook buitelanders geteiken weens ontevredenheid met die munisipaliteit.

Buitelandse winkels in Johannesburg sluit na dreigemente

Winkels in buitelandse besit in Johannesburg se middestad het begin om hul deure te sluit ná gerugte dat ‘n skare dreig om op ‘n plunderveldtog te gaan.

Nuus24 berig dat die meeste winkels op Breëstraat reeds gesluit is.

Eyewitness News het getwiet dat daar dreigemente van geweld in die sentrum Johannesburg is en sommige winkels is alreeds geplunder

‘n Polisiewoordvoerder Wayne Minnaar sê die metropolisie monitor die situasie.

Geweld het die afgelope week vanaf gebiede buite Durban na die middestad versprei en polisieversterkings moes uit ander dele van die provinsie ingeroep word.

By Ledig naby Sun City in Noordwes is ook voorvalle van plundery en brandstigting teen buitelanders aangemeld.

Intussen het die VN se voormalige Hoëkommissaris vir Menseregte, Navi Pillay, in Durban oor voortgesette xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika gepraat.

Pillay het gesê Suid-Afrika moet ‘n strenger immigrasiebeleid instel en strenger beheer neem oor landsgrense.

Sy het Suid-Afrika se oop grense gekritiseer.

Die voormalige VN-amptenaar is deel van ‘n taakspan wat deur die KwaZulu-Natalse regering aangestel is om aandag te gee aan die geweld wat reeds vyf lewens geëis het, waaronder ook die van ‘n minderjarige.

Byna 2000 buitelanders is reeds na skuilplekke uitgedryf.

Die organisasie, Regslui vir Menseregte, sê die regering maatreëls in te stel om die integrasie van buitelanders in die samelewing te vergemaklik.

Hulle het gesê die regering en wetstoepassingsagentskappe moet optree om die huidige vlaag van geweld te ontlont.

Volgens Regslui vir Menseregte voel Suid-Afrikaners dat buitelanders hulle werksgeleenthede bedreig en dit lei tot misdaad en vreemdelingehaat.

Malawi het vroeër aangekondig dat hy sy burgers uit Suid-Afrika sal repatrieer na die toename in xenofobiese geweld.

Zimbabwe het gesê die aanvalle teen sy burgers in Durban sal nie betrekkinge tussen die twee lande beïnvloed nie.