‘n Swart offisier van die Lindense polisiestasie in Johannesburg word daarvan beskuldig dat hy ‘n vrou in aanhouding verkrag het. Sersant Derick Phanyana word tans aangehou, terwyl sy borgaansoek in die Randburgse Landdroshof tot 7 Julie 2015 uitgestel is.
Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het bevestig dat hulle ‘n saak van verkragting teen die 45-jarige polisieman ondersoek.
“Daar word beweer dat die 25-jarige vrou Saterdag vir bedrog in hegtenis geneem is. Rondom 2 voormiddag op 28 Junie 2015, het ‘n polisiebeampte na haar sel gegaan en haar verkrag. Die volgende oggend het die slagoffer daarin geslaag om aan een van die polisiebeamptes oor te dra dat sy verkrag is en sy is na die kliniek geneem vir medikasie en om ‘n saak van verkragting te open,” sê Grace Langa, die woordvoerder vir OPOD.
Intussen is ‘n ander swart polisieman van die Vosloorus-polisiestasie tot 33 jaar gevangenisstraf gevonnis vir verkragting, roof met verswarende omstandighede en ontvoering.
Die Palm Ridge-landdroshof het dié vonnis aan konstabel Lungile Majola opgelê.
“Daar word beweer dat ‘n 18-jarige meisie met haar kêrel op straat geloop het toe ‘n rooi VW Polo met twee insittendes stilgehou het. Hulle het ‘n vuurwapen op die slagoffers gerig.
Die kêrel het met die verdagtes baklei maar hulle het die oorhand gekry. Hulle het die vroulike voetganger in die motor gedwing en na ‘n veld gery waar sy verkrag is,” sê Langa.
Volgens Langa het dit tydens die ondersoek geblyk dat een van die oortreders konstabel Majola was.
