Die "konsultant", mnr Ike Makwela, wat as fasiliteerder vir hierdie projek opgetree het, het my al sowat 3 weke nadat die 100 dragtige ooie en 3 stoetramme op die plaas afgelewer was, gekontak om te kom help aangesien die ooie besig was om te aborteer en van hulle het toe al gevrek; die lammers was ook besig om te vrek en dit alles as gevolg van 'n gebrek aan mediese sorg, voldoende weiding en algehele boerderykennis.
Op my vraag warom die staat nie die projek dan bystaan nie was sy antwoord dat die staatsveeartse (almal swartes) daar opdaag sonder mediese voorraad en toerusting, sonder kennis en dan rondstaan en wonder wat om te doen. Toe ek instem om hulle by te staan met alle mediese toerusting, medisyne en ander raad – natuurlik teen 'n markverwante prys – was daar lang stories hoekom hulle dit nie kon bekostig nie.
Ek is glad nie verbaas dat die Boerbokke almal besig is om te vrek nie. As boer is dit net vir my verskriklik hartseer dat hierdie mooi diere moet vrek as gevolg van onbeholpenheid, traak-my-nie-agtigheid en die algehele onvermoë van enige van die partye wat by hierdie projek betrokke is.
Die dag toe die Boerbokke daar afgelaai is, toe is daar weer almal wat iemand is, mos daar. So ook die staatsveeartse, die burgemeester, die aanhangers en die drentelaars. Toe die antvangers van die diere my bietjie uitvra omtrent die versorging van die Boerbokke, staan die bondel swart veeartse nader, heel verontwaardig omdat hulle nie genader is nie. Die snert wat hulle toe as raad aan die begunstiges opdis het toe al vir my laat blyk: hier kom 'n ding vir dié arme diere. Hoe op dees arde die klomp sogenaamde veeartse nog deur die skool kon kom, kan mens maar net oor wonder. Maar van dieregesondheid, medikasie, inentings, ens., hulle absoluut niks. Ek is g'n veearts nie maar ken darem een as ek hom raakloop en hier was nou vir jou 'n klomp onkundiges op 'n hoop.
Ek noem maar terloops dat die einste mnr Makwela – dié wat nie kon bekostig dat die Boerbokke versorg word nie – rondry in 'n blinkoranje BMW X6 wat in die omgewing van R750 000 kos. Volgens hom is hy 'n werknemer by die Mafikeng-munisipaliteit maar bedryf eintlik sy eie konsultasiemaatskappy wat hierdie "bemagtigingsprojekte" vir die Noorwesprovinsie se distriksmunisipaliteite fasiliteer. Mens kan maar self tussen die lyne lees hoeveel werk daar deur hom as werknemer by die munisipaliteit verrig word. Maar dit keer natuurlik nie dat hy seker maandeliks sy volle salaris by die munisipaliteit trek nie.
Die bemagtigingsprojek, waarvan die beesprojek wat in die artikel genoem is, deel is, is op 'n plaas buite Sannieshof gevestig waar sowat 20 swartes nou kamstig gaan "boer". Dié pragtige plaas, wat voor sy onteiening 'n gemengde kommersiële boerdery was, word nou deur dié klomp swartes wat uit die nabygeleë township kom, besit. Daar is, soos ek dit verstaan, vier groep begunstigdes. Die plaas, wat voorheen dalk een of twee boeregesinne van 'n redelike leefstyl voorsien het, moet nou van 'n horde onbevoegde township-bewoners "boere" maak. Die regering, in sy eindelose wysheid, het toe die plaas in vier verdeel, sommer deur die werf die grond in vier stukke gedeel, waarmee elke groep nou moet sien en kom klaar. Dus het een groep die beesgeriewe (laaibank, krale) en een sinkstoor saam met hul gedeelte ontvang. 'n Tweede groep het die plaasopstal, tennisbaan en mooi tuine saam met hul stuk gekry, terwyl die derde groep twee mooi sinkstore saam met hul stuk gekry het . Sover ek kon uitmaak, het die vierde groep toe net grond sonder enige vaste bates ontvang.
Nou ja, nou moet hulle almal gaan "boer" en vir hulself en hul gesinne sorg, en dit nog sonder enige bystand van enige persoon wat weet wat hy doen.
Die regering moet maar mooi gaan kyk na waarheen hulle strategie vir die vestiging van swart "boere" op pad is. Daar word groot stukke produktiewe landbougrond elke dag deur sulke projekte soos hierbo genoem, uit produksie gehaal. Daar is geen kans dat enige van hierdie projekte bydra tot die ekonomie nie, nie nou nie en ook nie in die toekoms nie. Dit verteenwoordig blote onteiening van blanke landbougrond. Daar is baie sulke projekte wat skipbreuk ly terwyl die amptenary met sakke vol geld wegloop, blink motors ry en net van die allerbeste leef.
Alles – en ek meen alles – is van die landbou afhanklik. Vergeet maar van werkskepping, wêreldbekersokker, selfone, duur karre en ander wensdenkery as jou bevolking nie kos het nie.
Hulle moet maar bietjie mooi daaroor dink want hier kom groot probleme.
рубашка для девочки купитьАлександр Фильчаков Васильевич