praag.co.za

Afrikaner het die reg op enkele universiteite

Written by

in

Die verklaring deur dr. Christo van der Rheede van die SBA en ATR dat die Universiteit van Stellenbosch voortaan in diens moet staan van 'n bruin-nasionalistiese welsynsprojek ontken nie net die funksie van 'n akademiese instelling wat aan navorsing en voortreflike opleiding gewy moet wees nie, maar spreek ook van 'n vermetele ontkenning van Afrikanerregte in Suid-Afrika.

Die feit dat hierdie bruin-nasionalistiese welsynsprojek waarop Stellenbosch hom voortaan gaan toespits, blykbaar deur die huidige rektor, prof. Russel Botman, gesteun word ná 'n vergadering gister waarby slegs bruinmense teenwoordig was, is des te meer kommerwekkend.

Die vraag moet gevra word of prof. Botman hoegenaamd oor 'n mandaat beskik om die aard en funksie van die US op dié manier te verander sonder inspraak deur sowel die owerheid as die breër Afrikanerkultuurgemeenskap wie se belang regstreeks hierdeur geraak word.

Prof. Botman het reeds op 23 Mei in 'n artikel in Die Burger te kenne gegee dat hy 'n afname in Afrikanerstudente aan die US in die vooruitsig stel en dat 'n verandering in die universiteit se taalbeleid ten gunste van Engels daarom wenslik is. Hy het ook die volgende te kenne gegee: "Maar taalgewys moet die US hom rat om in toenemende mate ook in die studiebehoeftes van swart en Indiër-studente te voorsien wat nie noodwendig uit huis uit vaardig in Afrikaans is nie."

Dit is glashelder dat 'n bepaalde bruin drukgroep besig is om Stellenbosch as kultuurbate enersyds van die Afrikaner te vervreem en andersyds te verengels. 'n Derde lid van die driemanskap wat gister oor die toekoms van Afrikaans aan Stellenbosch vergader het, is prof. Nico Koopman onder wie se leiding die teologiese fakulteit reeds in hoë mate verengels is. Volgens bekende statistieke praat 90% van die studente Afrikaans as eerste taal, maar geskied slegs 23% van lesings en seminare in Afrikaans.

Prof. Botman het openlik in sy artikel erken dat stedelike bruin studente nie in Afrikaans wil studeer nie, selfs al is hulle die taal magtig. Desnieteenstaande beplan hy om sulke studente vir die universiteit te werf, wat noodwendig die huidige rampspoedige verengelsing van Stellenbosch gaan verhaas. Hoe dit geregverdig kan word in die lig van twee Engelstalige universiteite naby die US, is onbegryplik.

Terwyl beskuldigings van "polarisering" teenoor taalbewuste Afrikaners rondgeslinger word, is dit glashelder dat enige polarisering rondom die taalkwessie aan die US vanuit bruin en swart geledere gevoer word. Die meerderheid blanke Engelse studente aan die universiteit het in 'n meningsopname van prof. Lawrence Schlemmer te kenne gegee dat die Afrikaanse kultuur en voertaal van die US behou moet word. Slegs bruin en swart studente, wat deur Afrikanervyandige elemente onder die personeel en bestuur van Stellenbosch in hul anti-wit en anti-Afrikaanse rassisme aangemoedig word, was in genoemde meningsopname ontevrede met Afrikaans as voertaal en doseertaal aan Stellenbosch.

PRAAG doen 'n beroep op die ANC-regering om in te gryp en te sorg dat Afrikaans nie verder aan Stellenbosch benadeel word nie. Afrikanerstudente wat reeds by toelating tot sommige studierigtings en in die werkplek aan rassekwotas en ander vorme van diskriminasie onderhewig is, mag nie verder by Stellenbosch van 'n instelling vervreem word wat deur die idealistiese ywer van hul ouers en grootouers tot stand gebring is nie.

Hoe gouer 'n Afrikaneronderwysowerheid ingestel word wat na die oorblywende Afrikaanse skole en universiteite kan omsien, hoe beter.

Ras en veral rasse-ressentiment mag nie as alibi gebruik word om Afrikaans te benadeel en Afrikaners verder van hul kultuurbates te vervreem nie.

Blood SuckersФильчаков прокурор

Comments

Leave a Reply