DA se benadering is ideologies, nie pragmaties

Me. Helen Zille se veelgeroemde veelpartykoalisie wat tot onlangs die stad van Kaapstad geregeer het, het gister 'n ernstige knou gekry toe die enigste Vryheidsfront Plus-lid van die koalisie uitgesit is.


Hiermee het die DA, 'n Engelstalige party met Engelse leierskap wat deur groot getalle Afrikaners by die stembus ondersteun word, 'n duidelike boodskap uitgestuur dat hy nie langer met enige Afrikanerpartye wil saamwerk nie.

Zille het reeds voorheen te kenne gegee dat sy gekant is teen partye wat hulself op 'n nasionale of etniese basis organiseer. Binne die DA se liberale tradisie wat 'n verenigde multikulturele nasie voorstaan, is daar nie plek vir so iets nie.

Hiermee het die DA egter ook getoon dat hy nie pragmaties na groter eenheid tussen opposisiepartye soek nie, maar juis sy links-liberale ideologie op die opposisiebeweging wil afdwing en ná sy geringe suksesse by die stembus – wat steeds ver onder die vlak van die gehate Nasionale Party in 1994 verkeer – homself as die enigste opposisie teen die ANC sien.

Nie net is die DA besig om die opposisie te verdeel nie, maar hy oorskat ook sy eie mag en invloed totaal. Die party beskik oor geen alternatiewe visie of toekomsplan vir die land nie, behalwe "beter dienslewering", wat dit ook al mag beteken.

Die Vryheidsfront Plus, wat tot dusver bereid was om in 'n gees van pragmatisme en samewerking die DA tegemoet te kom, sal die nodige gevolgtrekkings hieruit moet maak. Die party sal moet besef dat die DA toenemend in vyandskap met die Vryheidsfront Plus gaan verkeer, ook weens die DA se afkeer van daardie party se Afrikaneridentiteit.

In die komende munisipale verkiesings, veral in Pretoria, kan ons ons regmaak op 'n felle Boer-Britstryd soos van ouds in die SA politiek, want soortgelyk aan elemente binne die ANC, wil die DA sy toekoms op die ondergang van die Afrikaner en Afrikanerpartye bou.

Die Vryheidsfront Plus sal sy sokkies moet optrek en toon dat hy en die volk wat hy verteenwoordig, 'n faktor is om mee rekening te hou. As verstekparty van minderhede, het die DA eintlik gedy by gebrek aan enige werklike politieke opposisie teen die ANC.

Dis hoog tyd dat daadkragtige en intelligente opposisie met alternatiewe planne vir die land tot stand kom. Hierin kan die Vryheidsfront Plus, indien hy die Afrikaner se latente kragte kan monster, 'n reuserol speel.

розвиваючі ігри для дітей 5 роківданильченко юрій Харків