Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, het nog ‘n geweldige hoë hotelrekening laat oplui, dié keer vir meer as R570 000 in Durban, het die Sunday Independent gister berig.
Tussen 19 Desember en 25 April, het Mthethwa by tye in die vyfster-Hiltonhotel saam met lede van sy BBP-beskermingseenheid teen ‘n koste van R578 499 tuisgegaan.
‘n Woordvoerder vir die geagte minister, Zweli Mnisi, het nie oor die syfer kommentaar gelewer nie, maar bloot gesê dat Mthethwa gedurende Desember in Kwazulu-Natal “op amptelike sake” was en aan aanbiedings deelgeneem het wat op die vermindering van Kersseisoenmisdaad gemik was. Gedurende April het hy weer by die Hilton ingetrek weens die nasionale verkiesings.
“Die provinsie is as ‘n potensiële warm sone (vir misdaad) geëien. Dit was alles amptelike programme wat daarop gemik was om plaaslike belanghebbendes in die stryd teen misdaad te betrek, waaronder raadpleging met plaaslike owerhede as deel van die voorbereiding vir die verkiesing,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Volgens die Sunday Independent se afskrif van die rekening, het Mthethwa sowel Kersfees as Nuwejaar in die hotel deurgebring. Gedurende ‘n ononderbroke verblyf van 17 dae vanaf 19 Desember, is hy nie deur enige lyfwagte vergesel nie en het die rekening op net bokant R86 000 te staan gekom.
Op die vooraand van Valentynsdag op 14 Februarie, het Mthethwa by dieselfde hotel geregistreer, dié keer met vier van sy wagte, teen ‘n koste van R28 516. Van 19 tot 25 April, het hy by die hotel met twee wagte ingewoon. Hierdie rekeing het R89 000 bedra.
Die Hiltonrekening is gelykstaande aan dubbel die bedrag wat belastingbetalers vir Mthethwa se verblyf van 17 dae in Kaapstad se vyfster-Table Bay-hotel vroeër vanjaar moes opdok. Mthethwa het by in die hotel gebly teen ‘n koste van R235 000 terwyl sy huis ná vloedskade opgeknap is.
Mnisi het gesê die minister het voorheen beweer dat hy onbewus was van die hoë pryse wat deur die Kaapstadse hotel gevra word.
Opposisiepartye het met woede oor Mthethwa se jongste “spandabelheid” gereageer.
Die Kongres van die Mense het gesê Mthethwa het óf vir die ANC ‘n politieke veldtog gevoer óf hy het eenvoudig huis toe gegaan en die regering vir sy verblyf gefaktureer.
Die Demokratiese Alliansie het gesê die departement van polisie se lang lys weeldevergrype is nie net teenstrydig met president Jacob Zuma se oproepe om besuiniging en versigtigheid nie, maar druis ook in teen gesonde verstand en die verbintenis om die publiek se belang bo persoonlike bevrediging te stel.
“As ‘n mens die hotelbuitensporighede by die motors tel wat vir Mthethwa en sy adjunk, Fikile Mbalula gekoop is, dan bedra dit R3,7 miljoen van openbare geld wat op persoonlike vertoon uitgegee is,” het die skaduminister van polisie, Dianne Kohler Barnard, in ‘n verklaring gesê.
Sy het gevra hoe Mtethwa sy gedrag kon regverdig terwyl polisiebeamptes wat dikwels hul lewens waag elke maand ‘n karige salaris huis toe neem.
Die Onafhanklike Demokrate het hul “afkeer” uitgespreek.
“In die lig van die feit dat dit die tweede sodanige onthulling oor Mthethwa binne twee weke verteenwoordig, kan woorde nie uitdruk met watter afkeer die OD vervul is nie,” het die party se woordvoerder vir polisie, Haniff Hoosen, in ‘n verklaring gesê.
“Die kabinet se magte om die handboek te magtig, moet weggeneem word. Voordele, voorregte en toelaes vir ministers behoort deur ‘n soortgelyke proses bepaal te word as die Moseneke-kommissie wat met die ondersoek na vergoeding vir openbareposbekleërs belas is.”

Werkers strompel deur stinkende modder in ‘n sloot waarin skoon drinkwater en rou riool syfer in een van Harare se buurte wat verlede jaar die ergste deur die cholera-epidemie getref is.
Die atletiekwêreldkampioen Caster Semenya is so deur die geslagstoetsskandaal getraumatiseer dat sy die Universiteit van Pretoria in kennis gestel het dat sy nie eksamen sal kan skryf nie, het Beeld Donderdag berig.
Die ANC-jeugliga wil swart Suid-Afrikaners mobiliseer om hul Nedbankrekeninge toe te maak indien die banke in gebreke bly om die borgskap wat dit onlangs van Atletiek Suid-Afrika onttrek het, weer in te stel, het die liga se president Julius Malema Maandag gesê.
Eskom wil volgende jaar die basiese gratis-elektrisiteitstoelaag aan arm huishoudings van 50 kW tot tussen 70 en 100 kW verhoog, het mnr. Jacob Maroga, uitvoerende beampte van Eskom, vandag gesê.
Die Wêreldbank, wat gewoonlik steun aan arm lande verleen, moes soveel kontant uitdeel ná die globale finansiële krisis dat dit ‘n tekort vir nuwe projekte oor die volgende 12 maande ondervind.
Die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, het oor die naweek gedreig dat grondhervorming na die Zimbabwiese model in Suid-Afrika toegepas gaan word.
Amerikaanse wetgewers het gister onderneem om gou en beslissend teen Iran op te tree. Dit volg op ‘n verslag dat wapendeskundiges van mening is dat Teheran die kundigheid ontwikkel het om ‘n atoombom te bou – en dit terwyl ‘n senior Amerikaanse amptenaar die nuusberig afgemaak het.
Die munisipale bestuurder van die uMhlathuze-munisipaliteit in Empangeni, Kwazulu-Natal, is deur die ANC-meerderheid vanaf gister geskors. Dr. Tonie Heyneke, ‘n ervare bestuurder, gaan glo ondersoek word met die oog daarop om hom af te dank ten einde ‘n swart ANC-gesinde bestuurder in sy plek aan te stel.